Matteus 21:23-32
Jesus het Jerusalem triomfantlik as die Groot Koning binnegery, ten spyte van die kerkleiers se groot teenkanting. Sy koningsgesag word daardie selfde dag nog verder beklemtoon wanneer Hy die tempel reinig van die rowersnes wat daar ontaard het, en dit lyk nie of enigeen ‘n vinger kon roer om Hom te keer nie. ‘n Derde insident volg waar Jesus se gesag selfs oor die natuur beklemtoon word, wanneer Hy die onvrugbare vyeboom laat verdor.
Nou sit Jesus as’t ware op die “troon” in die tempel. Hy is in volle beheer van die plofbare situasie wat besig is om op te bou. En dan kom die volksleiers, dis nou die familiehoofde en priesterhoofde, en hulle probeer Hom vastrek om êrens ‘n verkeerde ding te sê sodat hulle Hom kan laat veroordeel. Jesus gebruik egter taktiek waarvoor die Rabbi’s sélf baie lief was, om ‘n vraag met ‘n teenvraag te beantwoord om mekaar so te probeer troef. Hulle is oorbluf, want Jesus se teenvraag laat hulle met ‘n groot dilemma. Hulle durf dit net eenvoudig nie antwoord nie, want watter kant toe hulle ookal antwoord, bly hulle kniediep in die moeilikheid. Dis skaakmat!
Wanneer Jesus hierdie manne aanvat, impliseer Hy dat Sy werk en dié van Johannes die Doper baie nou verweef is. Net soos Johannes die volk gesoebat het dat hulle hulleself moes bekeer, het Jesus ook probeer om hulle tot nuwe insigte te lei. Dit was egter puur verniet, want hulle het die vermanings bloot geïgnoreer. Daar was géén berou by die Joodse leiers te bespeur nie.
‘n Ander uiters ontstellende gedagte wat na vore kom is die wrede dood waarmee Johannes moes betaal vir sy oortuigings. Jesus sou dieselfde prys betaal, maar net baie, baie erger! Al voel dit soms vir ons asof Jesus hier alle beheer verloor het, is die teendeel egter waar. Hy weet presies wat Hy doen, en Hy stuur doelgerig af op die eindbestemming.
Dan vryf Jesus sout in Sy ondervraers se wonde met twee gelykenisse, waarin Hy nie alleen vir hulle iets van hulleself vertel nie, maar ook die oordeel oor die ganse Joodse volk uitspreek.
In die eerste verhaaltjie gaan dit om twee seuns wat elkeen ‘n opdrag kry. Die een is hardkoppig en moedswillig, en weier botweg. Die ander is baie voorbeeldig en sê vroom: “Ja Pa!” Wanneer dit egter by die praktiese kom, is die voorbeeldige seun nêrens te vinde nie. Die weerbarstige knaap voel egter skaam oor sy laakbare gedrag en hy gaan doen tóg wat Pa gevra het.
En dan tik Jesus hierdie manne geniepsig oor die vingers, want húlle is daardie “voorbeeldige” seun! Hulle is die leiers van die volk in alle opsigte, en hulle is die mense wat ‘n voorbeeld aan die res moet stel. Uiterlik doen hulle dit dan ook perfek met hulle verskriklike vroom handelinge en rituele en die rye en rye wette wat hulle so nougeset elke dag nakom en op hulle lysie aftik om te bewys hoe vroom hulle is. Op die oog af is hulle die toonbeeld van geloof en Godsdienstigheid. Hulle sal ook uit hulle pad gaan om dit so te hou. Innerlik is hulle egter korrup, want hulle dink net aan hulleself. Al hulle tyd gaan in die blinkpoets van hulle uiterlike, en die binneste word intussen totaal verwaarloos. Daar word nie eers ‘n gedagte gegee aan die ander sondige skepsels wat daagliks by hulle verbyskuur nie.
Aan die ander kant van die spektrum is daar die weerbarstige seun. Dit is nou die verwerptes onder die volk wat nie eers ‘n kans gegun word om te deel in God se Koninkryk nie. Onder hulle tel onder meer die tollenaars, kreupeles, melaatses en enigeen wat die een of ander ergerlike sonde begaan het. Hierdie mense is afgeskryf deur die samelewing en veral die kerkleiers. Daar kan tog niks goed in hulle steek nie! Word hulle egter ‘n kans gegun, soos byvoorbeeld gebeur het met Matteus, die tollenaar, dan gebeur daar wonderwerke! Gaan lees maar gerus weer die dagstukkie van 15 Junie 2017 met die titel "'n Feesmaal Saam Met Sondaars" op hierdie webblad.
Maak gerus 'n draai op die webblad. Ons is in die proses om dit splinternuut op te gradeer, en ons hoop om dit binnekort as 'n selfoon toep te kan bekendstel.
Ek en jy moet oppas dat ons nie so verval in ‘n vroom lewe, waar ons net aan onsself dink en hoe om ‘n mooi beeld aan die wêreld voor te hou nie. Die groot gevaar is dat ons dan dalk die hele gees van die Evangelie kan miskyk! Of dat ons dalk so vasval in die dinge van die kerk, dat ons nie meer tyd het om 'n verhouding uit te leef met Jesus nie. Moenie iets anders probeer wees as wat jy is nie! Wat egter van uiterste belang is, is dat ons doen wat die Here van ons vra om te doen, naamlik om die liefde van Jesus uit te leef in alle aspekte van jou lewe. Dit beteken dat ons dit nie alleen teenoor God doen nie, maar ook teenoor ons medemens. Maar weereens, moet hierdie uitleef van liefde nie 'n geforseerde ding wees wat jy doen omdat jy verplig voel om dit te doen nie. Dit moet diep uit die hart kom. Dit moet 'n passie in jou lewe wees wat uitborrel uit dankbaarheid teenoor God.
Gebed:
Here, vanoggend moet ek bely dat my lewe deurtrek is van sonde. Nogtans vra ek dat U my die krag en passie sal gee om, ten spyte van wie en wat ek is, die wonderbare liefde wat U vir my bewys het uit te leef.