Handelinge 9:10-25
Talle mense, selfs gelowiges, worstel nes Paulus met die vraag, of hulle ooit besig is om te doen wat God se wil is. Is hulle ooit waarlik kinders van die Here? Ek het oor die jare al menigmaal die vraag gekry en ek is opgewonde oor elke brief wat ek kry, want dit gee my die geleentheid om die blye Evangelieboodskap met elkeen te kan deel. Baie dankie vir elkeen wat geskryf het. En as jy ook met hierdie vraag worstel en jy het nog nie geskryf nie – ek wag in spanning op jou brief!
Maar Saul was nie die enigste een wat in daardie tyd in 'n worsteling met God was nie. Intussen is daar iemand anders wat óók met die Here worstel, 'n man genaamd Ananias. In 'n vervoering hoor hy die stem van die Here na hom roep. Dadelik antwoord hy: “Hier is ek, Here!” Dan kry Ananias van die Here die opdrag om na Saulus te gaan, waar hy in die huis van Judas besig is om baie hard te bid.
Ananias skrik hom yskoud. Ja, hy werk baie graag vir die Here, en hy sal die Evangelieboodskap met enigeen deel! Die probleem is egter dat hy presies weet wie hierdie Saulus is, en hy weet baie goed hoe wreed die man in sy vervolging van die gelowiges is. “Hierdie man is gevaarlik, Here!” protesteer hy. “Saulus is hier met volmag van die priesterhoofde om almal van ons wat U navolg te vang en in die tronk te stop!” Maar dan verduidelik die Here vir Ananias dat hierdie selfde vervolger uitgekies is as Sy werktuig om die Evangelie aan al die heidennasies toe uit te dra. Selfs konings sal deur hom die boodskap kry! Al wat Ananias moet doen is om die Here se boodskap oor te dra. God sal sélf vir Saul die pad wys.
Met kniekoppe wat teen mekaar klap van angs, gehoorsaam Ananias en loop na die adres in Reguitstraat, waar hy die blinde Saulus kry nét soos die Here dit vir hom beskryf het.
Hy kniel langs Saulus se bed en lê sy hande op die man se betraande hoof. “Saul, broer,” sê hy met 'n bewende stem, terwyl hy wonder of hierdie “broer” gedeelte heeltemal korrek is, want so 'n wreedaard kan mos nie 'n “broer” wees nie? Maar hy gehoorsaam die Here se opdrag en gaan voort: “Die Here Jesus wat aan jou verskyn het toe jy op pad hierheen was, het my na jou toe gestuur sodat jy weer kan sien en met die Heilige Gees vervul word.”
Dan gebeur die wonderwerk en daar val iets soos skille van Saulus se oë af. Die volgende oomblik sien hy weer. Hy verstaan nog nie mooi waaroor dit alles gaan nie, maar hy omhels Ananias en kan nie ophou om vir hom dankie te sê nie. Maar nou moet Ananias eers verduidelik!
Terwyl Saulus vir die eerste keer in drie dae 'n volle maaltyd nuttig, vertel Ananias hom waaroor dit alles gaan, dat Jesus die Seun van God is.
“Doop my,” pleit Saulus, “asseblief Ananias, doop my sodat ek deel kan hê aan Jesus!”
Saulus is daarvandaan weg saam met Ananias om vir die volgende paar dae tuis te gaan by een van die ander gelowiges. Eers was die mense baie skepties om hom in te neem, maar toe Ananias vertel wat gebeur het, word hulle gerus gestel. Vir ure lank gesels hulle, en Saulus wil elke klein detail weet. Stadigaan begin alles vir hom duidelik word. Sy jarelange kennis van die Woord maak dat hy baie gou snap waaroor dit alles gaan, en weldra maak alles sin.
En dan besluit Saulus dat hy hierdie nuwe kennis van hom net eenvoudig met ander mense móét gaan deel. Hy is reguit na die naaste sinagoge, en dan deel hy die opsigter mee dat hy iets op die hart het. Die Jode is dadelik opgewonde, want hierdie skrander jong man se redenaarsvermoë het hom ver vooruitgeloop! Wanneer hy egter begin preek, is sy boodskap dat Jesus waarlik die Seun van God is. Hy haal uit die Skrif aan dat alles so voorspel was deur die profete, en hy is uiters oortuigend met sy redenasies.
“Maar nou verstaan ek gladnie,” sê een ou Joodse omie vir sy maat, “is dit dan nie dieselfde man wat die volgelinge van hierdie Jesus wou uitroei nie? En nou verkondig hy Hom!”
“Ja,” sê sy maat, “en ek het dan verstaan dat hy juis hierheen gekom het om hierdie mense gevange te neem. Nee, ek verstaan óók nie!”
Elke dag preek Saulus in die sinagoge, en die mense bly terugkom om te luister. En hoe meer hulle hoor, hoe meer raak hulle verward. Uiteindelik besluit die kerkleiers dat hierdie man gevaarlik is, want hy verkondig 'n dwaalleer! Hulle sweer saam om vir Saulus te vermoor.
Die gelowiges kom egter hiervan te hore, en daardie nag laat sak hulle hom met 'n mandjie deur 'n opening in die stadsmuur. Hierdie sou die eerste van talle pogings wees om hom dood te maak.
Die Here gebruik doodgewone mense soos ek en jy om die boodskap van Jesus uit te dra. Ons moet net gewillig wees, die Heilige Gees sal die res doen! Ananias se effe onwillige poging het die deur oopgemaak na baie miljoene mense. Die Here wil jou ook gebruik. Wil jy nie dalk vandag “Ja!” sê vir Hom nie? Jy hoef nie eers geleerd te wees nie. Hy vra net jou gewilligheid.
Gebed:
Here, ek is maar 'n doodgewone mens, maar ek is gewillig om te gaan waar U my wil stuur!