Handelinge 11:19-26
Lukas het net so terloops in hoofstuk 8 gemeld dat die gelowiges uitmekaargespat het ná Stefanus se wrede dood. Nou, in hoofstuk 11 gee hy die besonderhede. Hy vertel dat sommige na Fenisië gevlug het. Dit is ‘n smal kusstrook, slegs 12km breed tussen Israel en Sirië. Ander het na Ciprus gevlug en ander weer na Antiogië. En hier in Antiogië speel die volgende deel van die verhaal af.
Antiogië was die derde grootste stad in die wêreld in daardie tyd, naas Rome en Aleksandrië. Dit het ‘n inwonertal van ‘n halfmiljoen mense gehad waarvan omtrent 50’000 Jode was. Die stad was geleë aan die Orontesrivier (vandag Antakya).
Omdat daar soveel Jode in die stad was, het die gelowiges vinnig tuis gevoel en het hulle die Evangelie wyd en syd verkondig so ver as wat hulle gegaan het. Die Evangelie was aanvanklik slegs aan Jode oorgedra maar weldra het hier ‘n nuwe wending gekom toe gelowiges uit Ciprus en Sirene in Antogië aankom. Hulle het met die sogenaamde Helleniste, die Griekssprekende gemeenskap gesels. Die inhoud van die “sendelinge” se boodskap was eenvoudig: “Jesus is die Here!” Onthou, hierdie heidene het niks van die Joodse Godsdiens geweet nie en dit sou dus absoluut niksseggend wees om vir hulle te probeer verduidelik dat Jesus die Messias is wat sou kom en dat dit deur die profete voorspel was. Die term “Here” ken hulle egter goed want so het hulle hulle godhede asook die Keiser aangespreek. Die verskil is egter dat hulle nou moes verneem dat daar slegs één Here is, naamlik Jesus!
Die nuus van hierdie verwikkelinge het gou na Jerusalem oorgewaai en Barnabas, een van die leiers is gestuur om te gaan kyk of alles in ooreenstemming met die Evangelie verloop soos die apostels dit verkondig. Hy moes ook ‘n band bewerkstellig tussen die Jerusalemgemeente en die kerk in Antiogië want hulle is immers almal deel van dieselfde geloofsgemeenskap. Afstand, kultuur, taal, ruimte - níks mag skeiding maak tussen gelowiges nie!
Ek dink dit was ‘n bekommerde Barnabas wat die lang reis na Antiogië aangepak het. Wat sou hy daar aantref? Watter soort dwaalleringe sou daar nie dalk al rondlê nie? Daar was immers niemand wat “opgelei” was om die Evangelie te verkondig nie! Groot was Barnabas se verbasing toe hy daar aanland en absoluut géén fout kon vind met die Evangelie wat daar verkondig was nie. Barnabas het dadelik besef dat dit nie mensewerk was nie maar die werk van God self wat hierdie splinternuwe en baie anderse gemeente tot stand gebring het. Al wat hy kon doen was om maar net die gelowiges aan te spoor om die pad voluit te stap!
Ons kan Barnabas se oordeel oor die geestelike stand in die gemeente nie ligtelik opneem nie want hy was ‘n man met baie besonderse geestelike kwaliteite. Hy was immers die man wat hom destyds oor Saulus ontferm het toe niemand iets van hom wou weet nie. In die rukkie wat Barnabas in Antiogië spandeer het, het die gemeente letterlik uit hulle nate gebars want groot getalle mense het gelowig geword.
Barnabas het begin besef dat die gemeente vir hom te groot geword het en dat hy dit beslis nie alleen sou kon hanteer nie. Hy was dus genoodsaak om te gaan hulp soek! Hy besluit dat Saulus nét die regte man sou wees om op te kommandeer. So vertrek hy na Tarsus waar Saulus al vir die afgelope paar jaar besig was om in sy geboortestad die evangelie te verkondig. Saulus stem dadelik in en daar word ‘n hegte vriendskapsband gebind!
In Antiogië word die term “Christene” vir die eerste keer vir die gelowiges gebruik want hulle was volgelinge van Christus. Hierdie is nie ‘n naam wat die gelowiges hulleself toegeëien het nie maar dit is deur buitestaanders aan hulle gegee. Die gelowiges het hulleself bloot “geroepenes”, “gelowiges” of “die kerk” genoem.
Die Here werk op wonderlike en dikwels onverstaanbare maniere en dit neem ons dikwels baie jare om God se hand agter sekere gebeurtenisse te sien. Die wrede dood van Stefanus het daartoe bygedra dat die kerk geblom het, ver buite die grense van Israel en dat ook heidene daar deel kon word van die kerk. En wat van Saulus? Hy het daar in Tarsus waarskynlik gewonder wat die Here se doel was met sy lewe. En toe daag Barnabas op met ‘n “werksaanbod”. ‘n Paar jaar later is dit júís die einste gemeente in Antiogië wat Saulus op sy eerste sendingreis stuur. Die res is geskiedenis! Nee, nie sommer-so se geskiedenis nie maar ‘n opwindende verhaal van bittere swaarkry, wonderlike suksesse, verwerping, aanvaarding. En die kerk wat oor die hele wêreld versprei! As Saulus geweet het dat die tronk verskeie kere sy voorland sou wees en dat hy doodgegooi sou word met klippe deur ‘n woedende skare (wel, amper dood!) - sou hy nog saam met Barnabas gegaan het? Sou jy? Vandag is daar talle gelowiges wat hulle in sulke situasies inbegewe, wel-wetende van wat op hulle wag. Geopende Deure is maar een van 'n hele aantal organisasies wat die Evangelie onverskrokke uitdra na plekke waar dit verbied word!
Gebed:
Here, ek loof en prys U vanoggend want ek weet dat U in beheer is, al voel dit soms nie so nie. Dankie dat ek op U kan vertrou vir die toekoms!