Josua 4:1-5:1
Nadat die hele volk droogvoets deur die Jordaanrivier gestap het, bly die priesters met die Verbondsark steeds in die middel van die rivier, onder op die bodem staan. Dan wys Josua uit elke stam 'n man aan om terug te gaan in die rivier in. Twaalf manne moet elkeen uit die rivierbedding 'n groot klip gaan haal, waarmee hulle 'n gedenkteken moet bou waar hulle die nag kamp opslaan. Hierdie klipstapel moet hulle nageslag herinner aan daardie dag toe die Here hulle droogvoets deur die rivier gelei het. Dit moes hulle ook herinner dat die Here vir hulle hierdie land gegee het. Hierdie gebeurtenis mag nooit vergeet word nie!
Hulle moes ook 'n soortgelyke gedenksteen oprig in die middel van die rivier, op die plek waar die priesters met die Verbondsark gestaan het.
Dit is belangrik dat ons as gelowiges “gedenktekens” sal oprig om ons te herinner aan dít wat die Here vir ons gedoen het. Twee sulke gedenktekens is die doop en die nagmaal, tekens van God se mag asook Sy liefde en genade. In 'n sekere sin is die kerk ook so 'n gedenkteken. Die kerk herinner ons daaraan dat die Here ons red uit die sonde en uit die ewige verdoemenis.
Eers nadat die gedenkteken op die rivierbodem opgerig is, gee Josua opdrag dat die priesters met die Verbondsark uit die rivier kon kom, waar hulle nog al die tyd bly staan het. Weereens sien ons God se almag, wanneer die volgende groot wonder gebeur. Presies op die oomblik toe die priester op die wal aankom, begin die rivier weer vloei en in al sy woede afstroom na die Dooie See!
Hierdie wonderlike gebeure by die Jordaanrivier bevestig die Here se teenwoordigheid, Sy leiding en Sy almag aan die volk. Nou is hulle gereed om die Beloofde Land in ontvangs te gaan neem. Hulle besef maar ál te goed dat nie alles maar in hulle skote sal val nie. Daar lê vir hulle harde werk voor, en hulle moet bereid wees om ook te veg vir hulle land. Hierdie heidenvolke sal beslis nie maar boedel oorgee wanneer hulle die Israeliete sien opmarsjeer nie. Daarom is daar veertigduisend gewapende manne wat gereed is vir oorlog wat gaan optrek teen die Kanaänietiese volke wat die land beset.
Ons het gelees van die drie stamme wat grond besit oorkant die Jordaan - Ruben, Gad en Manasse. Hulle het belowe dat hulle die voorhoede sou vorm, en nou doen hulle hulle belofte gestand. Hulle val héél voor in wanneer die Israeliete optrek teen die land Kanaän.
Op Josua se bevel trek die Israeliete tot by Gilgal waar hulle kamp opslaan, skaars 'n klipgooi van Jerigo af en in volle sig van die stad se bevreesde inwoners. Met die twaalf klippe uit die Jordaan bou hulle nou die gedenkteken.
Nadat die klipstapel gebou is, sê Josua vir die Israeliete: “As julle kinders eendag hulle pa's vra: ‘Wat beteken daardie klippe?’ moet julle die kinders inlig en sê: Israel het op droë grond deur hierdie Jordaanrivier gegaan.” Hulle moes vir hulle kinders vertel dat God dit gedoen het sodat al die volke van die aarde kon besef dat die mag van die Here groot is, asook dat hulle die Here altyd sou dien.
Josua het kamp opgeslaan by Gilgal, wat ‘n skamele twee kilometer van Jerigo af was. Van hulle stewige stadsmure af het hulle waarskynlik afgekyk op die kamp van die Israeliete. Dit moes sékerlik vrees en bewing ingeboesem het by die Jerigoïte, want soos ons reeds gehoor het van Ragab, het die inwoners van Kanaän 'n heilige vrees vir die Israeliete gehad!
Ek dink hulle het die stadspoorte gegrendel en g'n siel het dit durf waag om sy neus daar uit te steek nie. Waarskynlik het hulle gedink dat hulle doodveilig is agter hierdie mure. Wie sou dit ooit kon regkry om deur hierdie stewige mure te kom?
As Josua 'n verkyker gehad het, sou hy egter een enkele gesig deur 'n venster in die muur sien loer het, dié van Ragab die prostituut wat angstig staan en wonder het of daardie twee spioene óóit van haar sou onthou? Sy was oortuig daarvan dat die inwoners van Jerigo gladnie so veilig agter hulle muur was nie. Onderkant haar venstertjie het 'n baie opvallende rooi lap gewapper in die wind.
Die gebeure by die Jordaanrivier het nie ongesiens verbygegaan in Kanaän nie. In Josua 5:1 lees ons: “Toe al die konings van die Amoriete aan die westekant van die Jordaan en al die konings van die Kanaäniete langs die see hoor dat die Here die water van die Jordaan voor die Israeliete laat opdroog het totdat hulle deurgetrek het, het hulle harte ineengekrimp, sodat hulle nie meer moed gehad het vir die Israeliete nie.”
Die tog deur die Jordaanrivier het dus 'n dubbele doel gedien. Nie alleen het dit vir die Israeliete 'n uitkoms gebied om in die land te kom nie, maar terselfdertyd ook alreeds die grondslag gelê vir ‘n oorwinning as gevolg van die vyand se vrees vir hulle!
Vandag kan ons net in verwondering hierdie verhaal lees. Die grootste wonder lê egter nog voor!
Gebed:
Here, ek kan vanoggend maar net in totale verwondering na U kyk. U is waarlik gróót bo almal!