Josua 23
Dit het goed gegaan met die volk. Vir geruime tyd al beleef hulle ‘n groot mate van vrede met al hulle bure, dié wat hulle nie met wortel en tak uitgeroei het nie. God het vir Israel rus gegee sodat hulle ‘n nuwe begin kon maak in hierdie land van oorvloed. Eintlik het dit sommer báie goed gegaan met hulle, want hulle het nie eers nodig gehad om van voor af nuwe wingerde te plant of landerye te maak nie. Alles was alreeds vir hulle gedoen deur die nasies wat hulle verower het. Hulle het selfs genoeg troppe vee geërf. Al wat hulle moes doen was om voort te bou daarop. Dit was beslis baie beter as die lewe van slawerny in Egipte wat hulle ouers gehad het of die veertig jaar van rondswerf in die woestyn.
Die Here was baie goed vir Israel!
Dan roep Josua die volk bymekaar. Hy wil met hulle gesels. Josua was al ‘n man van veertig jaar oud toe Moses hulle uit Egipte gelei het. Hy het, met ander woorde, daardie onhoudbare situasie in Egipte beleef. Hy het die slawerny aan sy bas gevoel en hy het geweet wat dit was om soos ‘n dier deur ‘n Egiptenaar gedryf te word. Hy het ook die veertig lang jare se swerftog deur die woestyn deurgemaak én dit oorleef, nét hy en Kaleb! En dit oor die volk se hardkoppigheid! Nou is hy ‘n stokou man. Die afgelope tyd se oorlog teen al die Kanaänitiese volke het beslis ook sy tol geëis en Josua is moeg. Maar tevrede!
Josua wil dóódseker maak dat hierdie volk behóórlik verstaan waaroor dit alles gaan. Hulle is deur ‘n baie moeilike tyd van groot spanning sowel as opwinding. Hulle het dinge beleef wat niemand anders óóit beskore was nie. Hulle het God se liefdevolle versorging intens beleef. En skielik is dit alles verby en nou gaan dit goed met hulle. Josua weet maar ál te goed dat wanneer dít gebeur, dan vergeet jy só maklik waar alles vandaan kom. Dus wil hy mooi met die volk gesels.
Wanneer almal bymekaar is, begin Josua. Hy bemoedig die volk maar terselfdertyd vermaan hy hulle ook. Hy gee hulle ‘n terugblik op die dinge wat die afgelope tyd met hulle gebeur het, van hoe hulle hierdie mooi land verower het. En dan maak hy doodseker dat die fokus op God bly, want dit is immers Hý wat die land as’t ware in die volk se skoot laat val het!
Josua beklemtoon die feit dat hy al baie oud is, nie dat hy oor die muur is nie, maar dat die Here hom geseën het met ‘n baie lang lewe. Dit is egter nie al nie: kyk net wat het die Here alles vir die volk gegee! Hulle het hierdie land present gekry en nou het hulle rus en vrede. Die Here het Sy beloftes aan hulle waar gemaak. En dit sal beslis ook nie hier eindig nie, want soos wat Hy die grondgebied vir hulle gegee het, so sal Hy voortgaan en hulle beskerm teen hulle vyande. Sy beloftes van die verlede staan ook vas vir die toekoms.
Hierdie toespraak van Josua van toentertyd is eintlik ook vir my en jou vandag. Ons God is nie ‘n willekeurige God wat vandag een ding sê en more ‘n ander nie. Hy is standvastig en geloofwaardig en soos wat Hy daardie jare beskerming en troos gebied het vir Israel, bied Hy vandag beskerming en troos vir ons.
‘n Saak het egter twee kante. Josua vermaan die volk dat hulle moet “sterk staan in die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses” (Jos 23:6). Hulle staan in ‘n vaste verbintenis met God en daarom is dit nie net God wat al die tyd gee nie, maar hulle het sélf ook ‘n verpligting om na te kom. Hulle moet Hom getrou dien en liefhê soos wat Moses destyds die riglyne neergelê het. Dit beteken dan ook dat hulle Hom alleen sal aanbid, wat neerkom op trou en lojaliteit.
As hulle egter hulle lojaliteit aan Hom verbreek deur met ander gode te heul, kan Hy Hom ook aan húlle onttrek. Hy het beslis die mag om weer weg te vat wat Hy aan hulle gegee het as hulle die dag ontrou raak. God gee Sy gawes en bystand voorwaardelik aan Sy kinders.
Josua rig ‘n ernstige vermaning aan die volk: hulle mag nie meng of ondertrou met die ander volke wat in die land oorgebly het nie. Daar is ‘n baie goeie rede voor: dit sal hulle blootstelling gee aan die ander volke se gode, lewenswyse en geloof. Dit hou ‘n groot gevaar in vir Israel want dit kan maak dat hulle toewyding aan die Here verslap. Dit kan selfs maak dat hulle ander gode begin aanbid en sodoende alle lojaliteit aan God onttrek. Jy kan beslis nie twee gode dien nie!
Vir ons beteken dit vandag dat ons onsself nie moet blootstel aan dinge wat ons verhouding met die Here in gedrang kan bring nie. Om ‘n voorbeeld te noem: Om “onskuldig” met die dobbelmasjiene te speel, kan jou geleidelik van God af wegrokkel. Dit kan ‘n verslawing tot gevolg hê. Dit kan ook beteken dat jy begin vergeet van jou afhanklikheid van God. Uiteindelik sal jy totaal wegdryf van die Here af. En wanneer dit die dag gebeur, bestaan die gevaar dat jy jou saligheid kan verloor. Dit is te afgryslik om eers oor te dink!
Die Here verdien dat ons getrou aan Hom lewe. As dit nie gebeur nie, dra ons die gevolge van ons eie ongehoorsame dade. Josua wil my en jou laat nadink oor ons verhouding met God. Leef getrou aan die Here! Dien Hom met volle toewyding en oorgawe!
Gebed:
Here, hou my asseblief getrou aan U. Heilige Gees, lei my om U te dien met alles in my!