1 Korintiërs 1:1,2
Paulus is ontsteld: hy het so pas 'n berig ontvang uit Korinte, dat dinge daar nie baie lekker is nie. Daar is gerugte van onsedelikheid, en as hierdie dinge nie in die kiem gesmoor word nie, dan kan dit dalk handuit ruk. Dan besluit Paulus om vir hulle 'n brief te skryf en hulle te waarsku oor die gevare van onsedelikheid: “Moet asseblief nie omgaan met mense wat in onsedelikheid lewe nie! Ook nie mense wat geldgierig is of afgodedienaars, kwaadpraters, dronkaards of rowers nie!” En dan word die brief aan die gemeente gestuur.
Wanneer die brief in Korinte aanland, is die Korintiërs bitter ongelukkig! Hulle verstaan dit totaal verkeerd en hulle laat hoor van hulle! Paulus wil sy hare uit sy kop trek as hy op 'n dag 'n baie stink brief terug kry van die gemeente af waarin hulle hulle misnoë te kenne gee met sy brief. Paulus wil huil! Hy gaan bekla sy lot by sy twee ou goeie maats, Priscilla en Akwila. “Jy sal maar net wéér vir hulle moet skryf en dinge regstel. Baie duidelik het hulle jou misverstaan!”
Nog voordat Paulus egter kan skryf, kom een van die handelsreisiger Chloë se mense uit Korinte by Paulus aan met nóg ontstellende nuus, dat daar nou onenigheid begin ontstaan het in die gemeente, en die twee mense wat onskuldig hiervoor verantwoordelik is, is hy, Paulus en Apollos, die twee manne wat so hard gewerk het om die Evangelie daar te vestig. Die een faksie hardloop agter Apollos aan en die ander agter Paulus. En die een wil beweer dat die een meer waarheid praat as die ander. En dan word Sefas óók nog hierby ingesleep, en 'n paar ouens sê dat hulle slegs vir Jesus najaag. Ons lees hiervan in 1 Kor. 1:11 en 12.
Dit voel vir Paulus asof 'n pikswart wolk van depressie oor hom toevou. Maar dan is daar darem een ou ligpuntjie wanneer hy 'n besoek ontvang uit Korinte van drie van die gemeentelede wat met hom kom gesels oor die huidige situasie daar. Hulle gee hom darem 'n bietjie gemoedsrus, want alles is nog nie verlore in Korinte nie!
En so, in die lente van die jaar 54nC begin Paulus sy tweede brief aan die gemeente skryf, die brief wat vandag bekendstaan as 1 Korintiërs. Sostenes kry die taak om op te tree as Paulus se sekretaris.
Sostenes skuif reg op sy stoel en Paulus begin dikteer: “Paulus, deur die wil van God 'n geroepe apostel van Christus Jesus, en die broer Sostenes.”
Sostenes kyk haastig op: “Dis mos nie ek wat die brief skryf nie? Ek’s maar net die sekretaris!” Maar Paulus verseker hom dat elke ratjie in die horlosie ewe belangrik is. (goed, goed, daar was nog nie horlosies nie…..)
Paulus se stem dreun voort: “Aan die gemeente van God in Korinte, wat in Christus Jesus geheilig is deur God – geroepe heiliges.” Vir 'n oomblik skok sy eie woorde hom want hoe kan hy só 'n stelling maak? Kyk net hoe gaan dit in daardie gemeente: onsedelikheid, tweestryd, selfs afgodediens! Hoe kan hy dan beweer dat God hierdie ongehoorsame gemeente geheilig het - vir Hom afgesonder het?
Maar dan moet hy weer tot die besef kom dat hierdie nie sy eie woorde is nie, maar dat die Heilige Gees vir hom die woorde gee. Hoe onverstaanbaar dit ookal vir hom mag wees, hy móét daarby berus! God weet immers sóveel meer as hy, nietige mensie. Sal hy óóit kan begryp hoe groot en hoe diep en hoog en ver God se genade werklik is?
Paulus glimlag as hy by die venster uitkyk en die lentebloeisels sien wat die wêreld tooi in ‘n lieflike kleurewonder in die hawestad Efese!
Dit is ‘n sensitiewe situasie waaroor hy moet skryf, en hy wil nie die nuwe gelowiges van Korinte wegdryf van die Evangelie af deur onsensitief te skryf nie. Aan die ander kant is daar afskuwelike dinge wat kop uitsteek in daardie gemeente, en hy durf dit nie maar net daar laat nie! Paulus sidder by die blote gedagte aan die berigte wat sy ore bereik het. Ten spyte daarvan behoort daardie gemeente egter steeds aan God!
“Wat ‘n wonderlike gedagte!” gesels Paulus met Sostenes. “Is dit nie heerlik om te weet dat ons, ek en jy asóók die gemeente in Korinte vir ons Meester afgesonder is nie? Ons is heilig! Hy het ons Sélf, Persoonlik uit die sondige wêreld uitgehaal en ons heilig gemaak! En dit ten spyte van die sonde wat ons steeds elke dag doen!”
Sostenes knik ingedagte sy kop: “Só kan dit beslis nie aangaan nie!”
“Inderdaad! Dan is daar boonop nog daai verfoeilike misteriekultus, gnostisisme wat soveel van die gemeente aanhang! Hulle gaan ál die werk wat ons daar gedoen het, ongedaan maak. Kan jy jou indink dat hulle werklik glo dat jy onsterflikheid kan kry deur die een of ander inlywingsrite? En dat jy met jou liggaam kan doen nét wat jy wil, solank jy geestelik verlig is, en bevry is van die liggaamlike? In kort beteken dit dat dit nie saak maak hóé erg jy in sonde leef nie, solank jy ’n gelowige is! Nee, só werk dit beslis nie! Ons móét mos heilig lewe!”
Die gnostici is vandag steeds met ons! Daar is selfs gelowiges wat glo dat jy kan leef nés jy wil, solank jy in Jesus glo. Dis baie ver verwyder van die waarheid! Kom ons leef vóluit vir Jesus!
Gebed:
Here, ek wil voluit vir U lewe. Help my asseblief om my lewe skoon en rein te hou vir U!