‘n Babelse Verwarring

19 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie ‘n Babelse Verwarring

Genesis 11

VIDEO * OUDIO

God het Sy belofte vir Noag gehou, en die groot vloed het gekom om alles uit te wis. Maar uit Sy groot genade, bewaar God vir Noag en saam met hom, sy vrou, drie seuns en hulle vrouens. Dus ‘n klein handjievol van agt mense wat God gedien het.

Gam was die eerste van hierdie groep wat gestruikel het en gewys het dat die sonde steeds inherent deel van hulle lewens was.

Ons lees verder dat God hierdie drie seuns van Noag en hulle vrouens ryklik geseën het met vrugbaarheid sodat daar oor ‘n relatief kort tydperk alreeds ‘n baie groot nageslag gebore is. En soos dit maar gaan wanneer daar ‘n groot klomp mense bymekaar bly en op mekaar se tone begin trap, dan besluit hulle om te trek. En so gebeur dit dat mense die wye wêreld begin intrek.

‘n Groot groep van hierdie trekkers ontdek die wonderlike, vrugbare vlakte in Sinear, iewers tussen die Tigris en Eufraat riviere. Hier kan hulle ‘n baie goeie bestaan maak want die aarde gee vir hulle in oorvloed.

Daar is egter ‘n klein probleempie: anders as Kanaän waar hulle vandaan kom met sy volop klippe om huise mee te bou, is hier nie ‘n enkele klippie in sig nie. Om bloot huise van modder te bou, is nie baie prakties nie, want elke keer as dit reën, spoel die huis weg!

Toe ontdek een kêrel, dat as jy klei in die vuur bak, dan word dit kliphard. Nou waarom dan nie ‘n huis bou met sulke “nagemaakte klippe” nie? En só gee die mensdom nóg ‘n tree vorentoe in sy tegnologiese ontwikkeling. Die nuus versprei vinnig, en binne ‘n ommesientjie bak al wat leef en beef stene om hulle huise te bou. Asfalt word gebruik om die kleistene in mure te messel, wat dan sorg vir uitstekende, baie stewige bouwerk. Die mense is baie opgewonde oor hulle nuwe vernuf.

Omdat die aarde hier so vrugbaar is, koek ‘n groot klomp mense hier saam. Die gevolg is uiteindelik, na ‘n goeie klompie jare dat hier ‘n stad ontstaan. Dit is lekker om só baie mense rondom jou te hê en dinge begin baie voorspoedig gaan. Ons kan maar net aanneem dat handel dit vir die mense die moeite werd gemaak het om in ‘n stad saam te koek. Niemand wou hiervandaan wegtrek nie want al hoe meer geriewe het ontstaan soos wat behoeftes raakgesien is.

En dan begin hierdie stad se mense ‘n grootheidswaan kry. Hulle is beter as die ander sukkelaars daar buite wat net ‘n bestaansboerdery voer. Hulle is besig om vir hulleself nou hier groot naam te maak!

Op ‘n dag sit die stadsvaders weer soos gewoonlik vir kwaadgeld rond en praat oor al hulle wonderlike prestasies. Dan kom een slim kêrel met ‘n groot gedagte na vore. Hier sit hulle met die wonderlike tegnologie om strukture te kan bou sonder om eers klippe te moet kap, wat daar in elkgeval nie in hierdie wêreld is nie. Wat daarvan as hulle nou hierdie tegnologie aanwend en vir hulle ‘n toring bou?

“‘n Toring? En waarvoor nogal?” wil een ringkop weet.

Dan verduidelik hy dat hierdie toring die simbool moet wees van wat hulle in die lewe bereik het. Hiermee sal hulle vir hulleself gróót naam maak. Maar hierdie moet nie sommer enige ou toringkie wees nie. Húlle toring moet tot bo in die hemel strek, tot daar waar God is.

Stadig begin daar ‘n groot opgewondenheid oor die manne kom en gedagtes word rondgegooi. Half spottend merk iemand op dat as hulle tot binne in die hemel kan bou, dan is hulle mos enige tyd net so goed en magtig soos God. Wie het Hom dan nog nodig? Hierdie sal die grootste projek wees wat enige mens ooit kan bedink!

En só begin die grootste bouprojek waarvan énigeen kon droom. Daar word bereken dat dit byna 110m hoog sou wees!

Maar die grote Almagtige God het gesien dat daar iets aan die gang is. Hy was genoodsaak om neer te daal om te sien waarmee die mense besig was, want so groot as wat dit vir die mens gelyk het, so gering was dit in God se oë. Ons moet ons asemrowende menslike prestasies in perspektief sien met wat God vermag het! Eers wanneer ons God se groot dade raaksien, besef ons hoe nietig ons en al ons wonderlike prestasies eintlik is!

God besef dat die mens besig is om vir hulle ‘n monster te bou, en dit kan lei tot gruwelike dinge. Dus gryp Hy in. Hy verwar hulle taal, sodat die een nie kan verstaan wat die ander sê nie. Daar ontstaan ‘n reuse kommunikasiegaping, en uiteindelik spat die mense uitmekaar en word hulle oor die aarde verstrooi.

Weereens is dit slegs God se groot genade wat ons hier sien. Hy vernietig nie die mense wat bose dinge bedink nie, maar verstrooi hulle sodat hulle die aarde bevolk.

Met hierdie insident eindig die sogenaamde oergeskiedenis in die Bybel. Nou sien ons ‘n klemverskuiwing, want verder word nou spesifiek gekonsentreer op een enkele gesin waaruit die volk van God gebore word, die gesin van Sem en sy nakomelinge. Die fokus val spesifiek op die groot geloofsheld, Abraham, iemand wat veral kan getuig van God se genade!

Gebed:

Here, hou my asseblief nederig en maak my oë oop vir al U groot wonders.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026