Maleagi 3:8-12
Vanoggend trap Maleagi alweer op 'n baie sensitiewe liddoring, die gee van tiendes.
Moontlik moet ons eers kyk wat dit vir die Israeliete van die Ou Testament beteken het om tiendes te gee. Volgens Deut. 14:22-28 moes hulle tiendes van die koring, wyn en olie asook eerstelinge van hulle diere na die heiligdom bring. Daar het hulle dan saam met hulle gesin en die Leviete 'n vreugdemaal geniet in die teenwoordigheid van die Here.
Elke derde jaar moes hulle 'n volle tiende van die jaar se opbrengs vir die Leviete, vreemdelinge, weeskinders en weduwees gee. Daar was ook 'n derde “heffing” waar 'n tiende van die land se opbrengs aan die Here gewy moes word vir die onderhoud van die personeel van die heiligdom.
Met die bring van tiendes en offergawes het die Israeliete eintlik bely dat hulle totale inkomste van die Here af gekom het. Alles behoort eintlik aan die Here. Wanneer iemand dus sy tiende gegee het, het hy nie iets afgestaan wat aan hom behoort het nie, maar hy het vir die Here gesê dat die 90% wat hy kon hou ook maar aan die Here behoort het. Die Here het dit egter uit genade vir hom gegee om te gebruik.
Dit gaan dus gladnie oor die 10% wat ek gee nie, maar die 90% wat ek kry vir my gebruik. Die Here vra dus nie 10% van my geld nie, maar Hy gee 100%, en om daardie rede kan Hy 10% terugvra!
Nou kan ons dalk beter verstaan waarom die Here in vers 8 verklaar: “Mag 'n mens God besteel? Maar julle besteel My!” Hulle het selfsugtig alles gegryp wat hulle van die Here ontvang het sonder om enigiets terug te gee. En dan vra hulle nog doodonskuldig die vraag: “Hoe besteel ons U?”
Deur God op hierdie wyse te beroof, het die volk ook hulleself beroof. Omdat hulle nie aan die Here gegee het wat Hom toekom nie, het hulle hulleself van die seën van die Here beroof, en hulle het in die plek daarvan vervloeking ervaar.
In vers 9 word Israel “die nasie” genoem. Gewoonlik was na hulle verwys as die “volk,” en al die ander volke word “nasies” genoem. Hierdie is 'n subtiele manier om Israel gelyk te stel met al die ander heidennasies wanneer hulle die Here op hierdie wyse beroof.
Maar eintlik wou God gladnie daardie seën wegvat nie, en nog minder wou Hy vervloek. In vers 10 en 11 sien ons hoedat die Here gereed gestaan het om Sy seën oor die volk uit te stort. Hy wil vandag steeds vir my en jou baie eerder seën as vervloek!
Ons sien hier dat die Here ons uitnooi om te waag met Hom. Hy nooi ons om dit te waag om ons volle vertroue in Hom te plaas. Hy wil hê dat ons anders moet begin dink oor dit wat ons bymekaar gemaak het oor die jare, en dit sal sien as God se eiendom wat Hy vir ons leen – eiendom waaroor Hy ons aangestel het sodat ons dit namens Hom moet bestuur. Daar word dikwels gevra: “Hoe bereken ek my tiende? Is dit voor of ná aftrekkings en belasting?” As ons nog by daardie punt is, dan het ons nog nie besef waaroor dit eintlik gaan nie!
Wanneer ons dan begin om die Here se eiendom anders te hanteer, sal ons ook die seën van die Here begin ervaar. “Bring die volle tiende na die voorraadkamer sodat daar voedsel in my huis kan wees. Toets My hierin, ..... of Ek nie vir julle die vensters van die hemel sal oopmaak en oorvloedige seën oor julle sal uitstort nie.” (vers 10)
Ons moet egter baie versigtig wees om nie hierdie Skrifgedeelte te misbruik nie. Ons moet baie goed verstaan dat ons nóóit vir God kan manipuleer om Sy seën op ons af te dwing nie. As ons dit doen, dan het ons die ware betekenis van die gedeelte gladnie verstaan nie. As ek in 'n ware verhouding met die Here leef, probeer ek Hom nie dwing om dinge vir my te doen nie!
As jy jou tot die Here bekeer, is dit nie 'n saketransaksie waarin jy bereken hoeveel wins jy hieruit gaan maak nie! Dit is egter 'n lewenswyse waar jy onvoorwaardelik aan die Here gee in 'n egte liefdesverhouding. Wanneer jy aan Hom behoort ontvang jy terselfdertyd dan ook Sy ryke seën, nie oor jou mooi dade nie, maar omdat Hy jou liefhet.
Hierdie seën kan op baie verskillende maniere na jou kom. Een van die wonderlikste maniere is sekerlik om ware lewensvreugde te kan hê, blydskap wat alle verstand te bowe gaan. Maar dit kan ook op baie ander maniere na jou kom, selfs finansieel!
In die tyd van Maleagi het mense die seën van God gesien as genoeg reën in hulle amper-woestynwêreld. Hulle het dit gesien in goeie oeste en die peste en plae wat weggebly het uit hulle lande sodat hulle kos kon hê op hulle tafels. Seën was dus vir hulle die voorsiening van lewensnoodsaaklike dinge en beslis nie luukses nie.
Vandag wil ons God se seën sien in 'n blink motor (of twee) en 'n luukse huis. Luukshede soos 'n vakansie oorsee is nou wáre seën! Moet ons nie dalk anders begin dink en die Here se ryke seën sien in die dinge wat ons so as vanselfsprekend aanvaar nie? Dit is dikwels eers wanneer ons alles verloor, dat ons die eenvoudige dingetjies soos 'n brood en 'n dak oor ons kop begin waardeer en dit sien as God se seën.
Gebed:
Here, leer my asseblief wat dit beteken om waarlik my tiende vir U te gee, en om U seën te waardeer.