Romeine 9:1-5
Die wonderlike vrede wat oor jou lewe kom, die dag wanneer jy besef dat jy God se vryspraak gekry het, is iets totaal onbeskryflik. Om te weet dat jy uitgeruk is uit daardie wêreld van onsekerheid, waar die swaard van God se straf en die verskrikking van die hel oor jou kop hang. Uitgeruk deur die Vader se sagte hand van liefde, soos ‘n koel, helder bergstroompie in ‘n dorre woestyn. Die heerlike troos van die talryke beloftes wat in God se Woord opgesluit word, is ‘n verkwikking vir jou siel, as jy die dag kan weet dat elkeen van daardie beloftes vir jou persoonlik bedoel is. Dat Jesus dit alles moontlik gemaak het deurdat Hy die volle prys vir jou sondes betaal het.
Hierdie wonderlike gedagtes gaan egter gepaard met ‘n diepe hartseer en onvrede oor mense wat naby aan jou is, en nog nie God se vryspraak gesmaak het nie. Dit kan van jou familie wees, of vriende of volksgenote, of selfs van jou eie gesin. Ons leef juis in ‘n tyd waar mense baie openlik praat oor hulle geloofsoortuigings. Die dae toe jou geloof ‘n persoonlike ding, slegs tussen jou en God was, is verby, en mense sê reguit hoe hulle glo of nie glo nie. En dit wat hulle sê, maak jou dikwels baie seer. Dit help nie om te gaan sit en tob oor die verlorenheid van jou geliefdes nie. Dit moet jou juis aanspoor om met groot entoesiasme te bid en werk aan hulle bekering.
Ek dink vandag terug met ‘n groot glimlag aan Oom Naas Ferreira, Oom Naas Donkie, soos hy bekend gestaan het. (Die naam het hy gekry omdat hy skatryk geword het deur met donkies te smous.) Ons geloofsoortuigings was nie dieselfde nie. Hy was in ‘n ander kerk, en daar was dinge waaroor ons nie saamgestem het nie. Maar één ding het ek Oom Naas baie beny: sy entoesiasme vir die evangelie. Beroerte het hom half verlam, maar dit het hom nie afgesit nie om jou dikwels al hinkende op sy kierie, in die middel van die straat voor te keer (met motors wat vir jou toet!) om eers met jou oor jou siel te gesels. Die groot droefheid in Oom Naas se lewe was die feit dat sy skoonseun (ons plaaslike dokter) ‘n ateïs was.
Paulus se groot droefheid, is oor sy eie volksgenote. ‘n Beduidende deel van die gemeente in Rome het uit bekeerde Jode bestaan, en hierdie mense was bekommerd oor hulle onbekeerde volksgenote. Die Joodse gelowiges het dikwels meeste van die ou Joodse tradisies steeds nagekom, die feesdae, besnydenis, wetsonderhouding ensomeer. Sommige van hulle wou hierdie gebruike selfs as deel van die kerk probeer invoer. Die feit dat die vroeë Christelike kerk dikwels ook bymekaargekom het in Joodse sinagoges, het veroorsaak dat daar ‘n soort identiteitskrisis ontstaan het onder die gelowiges. Die saak is verder vererger deurdat die Romeine die Christene gesien het as ‘n Joodse splintergroep.
In hoofstuk 2 van die Romeinebrief spreek Paulus hewige kritiek uit teen die Jode. Nou sê Paulus egter dat, ten spyte van sy kritiek, hy baie bekommerd is oor hulle en dat hy hulle welsyn baie swaar op die hart dra. Van Paulus moet ons deeglik leer, dat jou geloof nie jou verbondenheid aan ‘n bepaalde volk ophef nie. Jy bly steeds integraal deel van jou volk. Dit beteken dan ook dat God jou dalk juis dáár tussen jou afvallige volksgenote wil gebruik.
Daar is egter ‘n gevaar waarteen jy moet waak, en dit is om jou verbondenheid en diensbaarheid aan jou volk belangriker te laat word as dié aan Jesus Christus nie. Jy durf jou nie blind hou vir die foute en onbybelse praktyke van jou volksgenote nie, al is jy ook hóé lief vir hulle. Om jou plig só na te laat, bring dit die egtheid en geloofwaardigheid van jou Christenskap onder verdenking.
Natuurlik moet jy besef dat as jy jouself uitspreek teenoor die wandade van jou volksgenote, dit ‘n hewige reaksie kan uitlok. Jy kan verdoem word as iemand wat onpatrioties is, en dit kan daartoe lei dat jy geestelik of selfs fisies vervolg word. Paulus het alles hiervan geweet, want hóéveel keer was hy nie deur sy eie mense wreed vervolg as gevolg van sy kritiek nie! Ons weet van vyf keer dat hy gegésel is, en in Handelinge lees ons hoedat die Jode, sy eie volksgenote later saamgesweer het om hom te vermoor.
Ten spyte hiervan sien ons hoe diep besorg hy is oor hulle, en dat hy selfs bereid is om sy eie heil prys te gee vir daardie volksgenote wat sy einde soek. Hierdie soort van gesindheid is slegs moontlik wanneer die Gees van Christus in jou woon. Die beste wat jy ooit aan jou geliefdes (volk, gesin, familie, vriende) kan doen, is om as ‘n absoluut toegewyde Christen onder hulle te leef. Om ten spyte van hulle teenkanting, nie alleen God se Woord aan hulle oor te dra nie, maar dit elke dag prakties en met groot liefde en deernis uit te leef teenoor hulle.
Gebed:
Here, vul my só met U Gees dat ek sal straal tussen my geliefdes en by elkeen die begeerte sal kweek om deel van U koninkryk te word.