Eksodus 3:7-22
Moses staan in vrees en bewing voor God teen die hange van die berg Horeb. Kaalvoet staan hy daar, op die brandende woestynklippies - sy gesig bedek, want hy is te bang om God te aanskou - die God wat hy gladnie ken nie. In die paleis is hy opgevoed met Ra, Isis en Osiris - die gode van Egipte. Hulle is dooie gode wat in tempels aangehou word en deur priesters bedien word. Niemand het hulle nog ooit hoor praat nie, al wil die priesters soms voorgee dat hulle in gesprek was met die gode. Maar hy, Moses ken daardie skelm klomp priesters baie goed!
Hier het hy nou skielik uit die bloute te doen met ‘n Lewende God, Een wat met hom praat! “Ek het die ellende van my volk wat in Egipte is, duidelik gesien. Hulle noodkreet oor hulle slawedrywers het Ek gehoor. Ja, Ek ken hulle lyding. Ek het afgekom om hulle uit die hand van Egipte te red.”
Anders as die gevoellose en dikwels wrede gode van Egipte, gee hierdie God om vir mense! Moses kan sy ore nie glo nie - hierdie God gee om! Hy sien die lyding raak en Hy wil hulle red!
Dan verduidelik God vir Moses dat nadat Hy die volk bevry het uit Egipte, gaan Hy hulle laat trek na ‘n uitgestrekte land wat oorloop van melk en heuning. Moses luister in verwondering. Hy het lankal besluit dat hy beslis nie meer ‘n Egiptenaar is nie, maar dat hy eintlik deel is van daardie volk wat so swaar kry onder sy stief-oupa se klipharde hand. Inderdaad het die berigte Moses reeds bereik dat die ou man dood is en dat daar ‘n nuwe Farao in sy plek aangestel is.
Moses het as Egiptiese prins alles geleer omtrent hierdie land wat God aan hom beskryf en hy weet maar al te goed dat hierdie allesbehalwe ‘n onbewoonde land is. Nou herinner God hom ook aan al die verskillende volke wat daar woon of wat ‘n aandeel in die land het. Ja, nie alleen is daar die Semitiese volke wat al vir baie jare die land bewoon nie, maar daar is ook volke soos die Hetiete van Klein-Asië - magtige volke wat met een voet in daardie land staan.
En dan skrik Moses hom yskoud as die volgende woorde na hom aansweef uit die doringbos: “Ek stuur JOU na die Farao om my volk, die Israeliete, uit Egipte uit te lei!”
Moses voel lam in die knieë: “Ek? Nee dit kan tog nie wees nie! Wie is ek dan nou? Ek kan dit nie eers waag om naby die Farao te kom nie!” Skielik sien Moses hierdie prentjie van miljoene weerbarstige Israeliete aan die een kant, en aan die ander kant ‘n woedende Farao wat van sy dwangarbeiders beroof word. “Nee wat Moses,” sê hy vir homself, “hierdie is moeilikheid soek!”
“Ek sal by jou wees,” verseker God vir Moses, as Hy sien hoe bang Moses skielik geword het.
Dan besef Moses dat hy nie eers weet Wie hierdie God is nie! Al wat hy weet is dat dit die God van sy voorvaders is. Maar Wie is Hy? “Wat moet ek vir die volk sê - wie is dit wat my gestuur het?” vra hy vir God, “Wat is Sy Naam? Wat moet ek vir hulle sê?”
Toe antwoord God vir Moses: “JHWH”. Moses verstaan nie mooi nie. “JHWH - EK IS WAT EK IS” Moses skud stadig sy kop om te wys dat hy half verstaan, “EK IS het jou gestuur.” verduidelik God vir Moses. En dan verduidelik Hy verder dat Moses vir hulle moet sê dat Hy die God is van hulle voorvaders - van Abraham, Isak en Jakob - hulle sal wél verstaan. Hy moet ook vir hulle gaan sê dat God hulle nog nooit vergeet het nie en dat Hy baie deeglik bewus is van wat die Egiptenare aan hulle doen. Hy het besluit dat Hy hulle gaan laat wegtrek uit daardie ellende na die wonderlike land van melk en heuning. “Die leiers van Israel sal na jou luister,” verseker God vir Moses. Maar dan kom die groot taak - om die Egiptiese koning te oortuig! En dan sê God vir Moses dat Hy weet dat die Farao beslis gaan weier. Maar Moses moenie bekommerd wees nie want God is in volle beheer van die situasie en Hy sal sorg dat die Farao hulle sal laat gaan.
Vir Moses moes hierdie opdrag van God aan hom baie groter gelyk het as die berg Hermon hier voor hom. Kom ek en jy nie ook dikwels te staan voor sulke “onmoontlike” opdragte van God nie? ‘n Paar jaar gelede het ‘n klompie manne in Durban voor so ‘n absolute onmoontlike opdrag te staan gekom. Durban se middestad was in geestelike chaos gedompel. Midde in hierdie chaos was die bankrot kerkgebou van die ou Durban NG Kerk Moedergemeente. “Hierdie moet die spilpunt word van ‘n reuse evangelisasie en sending aksie” was God se opdrag. Dit het totaal onmoontlik gelyk - net ‘n vae droom. Slegs twee jaar later het hierdie aksie al ons stoutste drome en verwagtinge oorskry en duisende mense word hier met die Evangelie bereik uit ‘n kerk waar daar twee jaar tevore slegs ‘n twintigtal verarmde lidmate was.
En wat van die opdrag wat God vir jou gegee het? Staan jy steeds en verskonings uitdink om daar uit te kom? Het jy dalk nie gehoor toe God vir jou gesê het dat Hy vir jou die wysheid en krag daarvoor sal voorsien nie en dat Hy met jou sal wees nie?
Gebed:
Here, maak my asseblief gewillig om te doen wat U van my vra. Ek besef vanoggend weereens dat U my nie alleen los nie, maar dat U my deur U taak sal dra!