Eksodus 2:11-24
God het 'n groot plan vir die kleine Moses gehad en so word hy dan 'n Egiptiese prins! Waarom? Hoe sou só 'n prins se opvoeding in die paleis lyk?
Hy het sekerlik as klein seuntjie Hebreeus leer praat by sy ma. Nou raak hy boonop ook vaardig in Egipties en waarskynlik ook die tale van die buurvolke. Hy sou sekerlik hiërogliewe en ander administratiewe skrifstelsels geleer het. Die Egiptenare het uitgebreide kennis gehad van sterrekunde, wiskunde, logika en moralistiese wyshede en die jong Moses sou verséker hierin opgelei wees.
Omdat hy 'n prins was, sou hy beslis opgelei wees as 'n militêre leier en leer van taktiek, beplanning, dissipline en natuurlik sou hy ook fiks moes wees. Dan sou hy ook geleer word van belasting, arbeid, ekonomie, slawerny en infrastruktuur en hoe om met ander volke en koninkryke te onderhandel. Musiek, poësie en letterkunde was belangrik in Egiptiese kultuur en hy sou daarvan moes leer.
Waarom was hierdie dinge belangrik? God het hom hiermee toegerus om een van die grootste leiers óóit te word. Na sy woestyntydperk kon hy met Farao praat en Egiptiese protokol volg. Hy het verstaan hoe groot stelsels en gemeenskappe funksioneer. Hy kon wetgewing formuleer, soos die Tien Gebooie en die wette in Levitikus en Numeri. In kort: hy kón 'n volk lei!
Moses moes sékerlik geweet het dat hy eintlik ‘n Hebreër was, want hy was anders as die ander. Hy het gesien hoedat die volk waar hy vandaan kom, wreed mishandel word. Dwangarbeid was aan die orde van die dag en die Israeliete moes hard werk onder toesig van Egiptenare. Moses moes toekyk hoedat een van sy mense met ‘n sweep gedryf word deur ‘n Egiptenaar. Die sweep het die arme man tussen die blaaie geklap. Moses kon dit skielik nie meer vat nie, en toe hy dink dat niemand hom sien nie, vermoor hy die Egiptenaar. Die man word sommer met sand toegegooi om sy gruweldaad te verdoesel.
Nie juis ‘n mooi begin vir die man wat die volk van God na die beloofde land moes lei nie, is dit?
Die volgende dag is Moses weer in Gosen. En dan word hy deur twee bakleiende Israeliete gekonfronteer met sy moord. Moses het yskoud geword - wat as dit op die lappe moes kom? En al sy vrese was nie ongegrond nie, want kort daarna bereik die berig die ore van die Farao en Moses moet vlug vir sy lewe. En Moses vlug nie maar ‘n entjie in die woestyn in nie - hy vlug tot in die land Midian, Oos van die Rooi See, ‘n volle 600 kilometer van Egipte af - iewers in die noord-weste van die huidige Saoedi-Arabië. ‘n Onherbergsame woestynwêreld!
Skielik is Moses nou nie meer lid van die koninklike hofhouding van Egipte nie, maar ‘n voortvlugtige in ‘n vreemde land. Maar tóg was daar iets wat nie so baie vreemd was nie - Midian was een van die seuns van Abraham. Dus bevind Moses hom hier by verlangse familie, al besef hy dit dalk nie. Maar daar gebeur ‘n ander insident wat tog baie lyk na ‘n familietrek, want nes sy groot-oupa Jakob, ontmoet Moses nou ook by ‘n put sy toekomstige bruid. Terwyl Moses by ‘n put sit in die vreemde land, kom daar sewe meisies aangestap met hulle kleinvee. Voordat hulle die diere kan water gee, word hulle verjaag deur ‘n klomp aggressiewe veewagters. Ons kom agter dat dit ‘n gereelde ding moes wees. Moses gryp in, en hy help die meisies sodat hulle water kan kry.
En deur sy goeie daad word hy later uitgenooi deur die meisies se pa vir ‘n ete. By eet bly dit ook nie en Moses slaap toe sommer oor - permanent! Die een ding lei tot die ander en Moses trou met een van die meisies - Sippora. Nes sy groot-oupa Jakob, bly hy sommer by Skoonpa Reüel en werk vir hom as veewagter. Uit die huwelik word ‘n seuntjie gebore, en Moses noem hom Gersom. Die naam beteken “Vreemdeling daar” en dit sinspeel natuurlik op Moses se verblyf as vreemdeling in ‘n vreemde land.
Byna vier honderd en vyftig jaar het verby gegaan sedert Jabob met sy gesinnetjie na Egipte getrek het. Daardie gesinnetjie het nou volgens sommige kenners aangegroei tot drie en ‘n half miljoen mense. Vir die Egiptenare was hulle ‘n reuse bedreiging en daarom moes hulle die Israeliete wreed onderdruk om te keer dat hulle nie Egipte oorheers nie. Maar die Egiptenare het óók in hulle ‘n groot skat gehad in die vorm van ‘n gratis arbeidsmag om vir hulle reuse bouwerke te doen. In Eksodus 2 sien ons dat die arme mense “gesug en gekreun” het onder die swaar werk.
En God het dit gehoor!
Daar was sékerlik ‘n doel met die Israeliete se verblyf in Egipte. Dit was ‘n vrugbare land, en die piepklein volkie (dis nou as jy Jakob se gesin ‘n volk kon noem) kon hier floreer en aangroei om ‘n sterk nasie te word wat die mannekrag sou hê om die beloofde land in besit te neem. Ja, natúúrlik was die land wat God aan Abraham, Isak en Jakob beloof het steeds in die prentjie en God vergeet nooit Sy beloftes nie. Nou was die tyd ryp om daardie belofte tot uitvoer te bring.
Maar daar was ‘n leier nodig - iemand wat ‘n ware leier is en die nodige opleiding het om ‘n hele groot volk in beweging te bring om oor ‘n groot, onherbergsame woestyn te trek na ‘n nuwe land. Maar die man wat al daardie vaardighede besit woon as ‘n vlugteling in ‘n vreemde land, iewers in die woestyn, waar hy bokke en skape oppas. In Egipte durf hy nie sy voete sit nie, want daar is hy gebrandmerk as ‘n misdadiger. Hoe sou God hierdie man sover kry om die reuse taak wat Hy vir hom beplan het, te gaan opneem? Dit sou ‘n groot wonderwerk kos om Moses te motiveer!
Gebed:
Here, ek is opgewonde as ek die verhaal van Moses lees, want hier sien ek hoedat U steeds in beheer is, en dat U nooit U beloftes vergeet nie. Dankie ook vir die wonderlike beloftes wat U vir my gegee het!