Moenie in die kerk slaap nie!

16 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moenie in die kerk slaap nie!

Handelinge 20:1-12

As ‘n mens jonk en vol lewe is, dan wil jy mos alles op een dag probeer inpas. Nou is ek beslis nie meer so jonk nie, maar in my prille jeug het ons jongklomp dikwels gejol tot in die vroeë oggendure, veral op ‘n Vrydag en Saterdagaand! Nee, dit was nie “discos” en nagklubs nie, maar skoon pret by Durban se pretpark of ‘n waatlemoenfees op die strand. Dikwels het ons sommer net lekker saam gekuier en die nag om gesing. Ongelukkig het hierdie rinkink van ons dikwels Sondag sy tol geëis, veral tydens die aand se kerkdiens. Jy weet seker hoe dit voel wanneer jy so bitter graag jou oë wil oophou, maar hulle wil net eenvoudig nie saamspeel nie. En as jou kop knik, en jy dalk boonop nog ‘n snork ook gee, en jou maters om jou wil bars van die lag, en dit nogal in die kerk! Ai, dis bitter swaar!

Paulus moes eendag ook so ‘n insident beleef toe die slaap een van sy gemeentelede oorval het. Maar wag, nou loop ek die storie vooruit!

Vir bykans drie jaar het Paulus in Efese die gemeente opgebou. Die tyd het egter aangebreek om aan te skuif. Voor sy vertrek skryf hy ‘n brief aan die gemeente in Korinte, die sogenaamde “tranebrief.” Hy stuur dit vooruit saam met Titus, een van sy helpers. Dit was alreeds die tweede brief aan hierdie gemeente. Sy eerste aan hulle het daardie gemeente geweldig omgekrap, en Paulus wou sake regstel.

Paulus vertrek op ‘n tog van ‘n duisend kilometer, al om die Egeïese see, deur Masedonië tot in Griekeland. Hy gaan by elke gemeente op sy pad aan om hulle moed in te praat en hulle te versterk. Wanneer die koue winter aanbreek is Paulus in die stad Korinte. Daar is hy genoodsaak om vir drie maande oor te bly tot die ergste koue verby is.

Gedurende hierdie drie maande skryf hy daardie beroemde Romeinebrief. Vandaar sou hy die skip neem om na Jerusalem te gaan, vanwaar hy dan na Rome wou vertrek. Dinge het egter nie so vir Paulus uitgewerk soos hy beplan het nie. Hy het te hore gekom van ‘n klompie Jode wat ‘n komplot gesmee het teen hom. Moontlik wou hulle hom vermoor terwyl hy op die skip was op weg na Jerusalem. Hy besluit dus om weer langs dieselfde roete terug te gaan verby die hawestad Troas, en weer tot in Efese. Wat ‘n verskriklike groot ompad!

Saam met Paulus was daar sewe reisgenote, almal verteenwoordigers van hulle onderskeie gemeentes. Dinge het maar bitter sleg begin gelyk vir die gelowiges in Jerusalem. Die Christene is deur die Jode uit die samelewing geskop, en hulle het geweldig verarm. Paulus het hierdie situasie aan die gemeentes vertel. Hy het nooit só betrokke geraak in sy sendingwerk dat hy die nood van ander gemeentes vergeet het nie! Die gemeentes het die nood besef en hulle hande diep in hulle sakke gesteek om te help. Paulus se sewe reisgenote het die gemeente-bydraes saamgeneem om die Jerusalemgemeente te gaan help. Ons kan gerus weer ‘n slag na Paulus se leerskool gaan vir ‘n opknappingskursus oor hoe om waarlik om te gee vir ons medegelowiges!

Paulus en sy geselskap kom uiteindelik in Troas aan, waar hulle vir ‘n week lank oorbly voor hulle vertrek na Jerusalem. Hier kry ons ‘n klein kykie in die kerklewe van die vroeë Christene. Sondag het die “amptelike” dag geword waarop die gelowiges bymekaargekom het. Omdat Sondag die dag van Jesus se opstanding was, het hierdie dag ‘n besondere betekenis in die kerk begin aanneem. Jesus se opstanding was die spil waarom hulle geloof gedraai het, en gelowiges het mekaar gegroet met die woorde: “Jesus het waarlik opgestaan!” Natuurlik was dit ‘n gewone werkdag, gevolglik moes die byeenkomste in die aande gehou word. En aangesien daar nie kerkgeboue was nie, moes hulle in huise bymekaarkom.

Dit was op so ‘n Sondagaand wat die gelowiges op die derde verdieping van ‘n huis in Troas bymekaar was, en Ds. Paulus het gepreek en gepreek, en gepreek, tot ná middernag. In die vensterbank het Eutigus gesit, ‘n jong kêrel, en hy kon naderhand nie meer sy oë oophou nie (ek weet presiés hoe hy gevoel het!) Eutigus se kop het geknik, maar hy het vasgebyt, want dis darem nie aldag dat jy ‘n dominee van Paulus se formaat kan hoor nie! Maar uiteindelik wen die slaap, en die arme Eutigus tuimel agteroor by die venster uit. Drie verdiepings is bitter ver om te val, en almal hardloop uit om hom te help. Maar dis te laat! Die ergste het gebeur - hy is dood!

Paulus het na die jongman toe gegaan en hom oor die kêrel uitgestrek. En toe gebeur die wonderwerk. Voor almal se oë word hy weer lewendig! Wanneer alles na normaal terugkeer, gaan Paulus aan met sy preek, en hy preek tot die dag breek, waarna hy vertrek na sy volgende bestemming.

En Eutigus? Hy is springlewendig terug huistoe! Dit was een preek wat hy nooit, óóit sou vergeet nie!

Die naweek lê voor, en so ook Sondag. Kom ons ruk soos een man op kerktoe, en as die dominee dalk ‘n bietjie te lank na jou sin preek, onthou dan gerus hoe lank Paulus gepreek het - en wees dankbaar!

Ns. Dit is gevaarlik om in die kerk te slaap!

Gebed:

Dankie vir ons rusdag Here - gee my asseblief die insig en ywer om dit tot U eer te gebruik.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026