Moeilikheid!

26 November, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Moeilikheid!

Handelinge 22:22-23:11

Soms kan baie ernstige dinge komies raak, soos daardie storie oor die beroemde (of is dit dalk berugte?) C J Langenhoven. Hy was nie alleen ‘n groot skrywer en digter nie, maar ook ‘n politikus. Per geleentheid het hy tydens ‘n hewige debat in die parlement opgespring en woedend die stywe spul parlementariërs toegesnou: “Die helfte van julle wat hier sit is ‘n spul bobbejane!”

Vir hierdie spul styweboordjiemanne was dit vet in die vuur, en hulle wou Langenhoven se kop eis. Om te probeer orde skep in die parlement, spreek die speaker hom skerp aan: “Sal die agbare lid asseblief sy woorde terugtrek! Dit was nie van pas nie!”

Langenhoven, oftewel “Sagmoedige Neelsie”, was daardie dag baie ver van sagmoedig af, maar hy was steeds baie skerp toe hy gehoorsaam: “Goed, ek trek my woorde terug: die HELFTE van julle is NIE bobbejane nie!” Dit het ‘n ruk geneem vir sy woorde om in te sink, dat hy hulle hiermee nog steeds nét so sleg gesê het.

Ek is ‘n man wat lank moet herkou aan ‘n gedagte voordat ek ‘n antwoord kan gee. Ek kan nie op my voete dink nie. Paulus was egter, nes Langenhoven, baie skerp, en vinnig met ‘n antwoord wat mense dikwels totaal onkant gevang het. Tydens sy toespraak voor die volk, het hy dinge kwytgeraak wat hulle woedend gemaak het, en die Romeinse Kommandant was verplig om hom in die kaserne in te bring omdat die gepeupel skoon beserk geraak het. Nou was Paulus in die moeilikheid. Daar is bevel gegee dat hy gegésel moes word om hom aan die praat te kry. Géseling was ‘n baie wrede metode van straf, wat dikwels die slagoffer se dood beteken het. ‘n Sweep van leer met skerp stukkies metaal aan die punte vasgemaak, is hiervoor gebruik. Dit het diep in jou vleis ingesny. Nou moes Paulus baie vinnig dink. “Mag jy ‘n Romeinse burger gésel?” wil hy onskuldig weet, net voor die eerste houe val. Die kaptein wat die slae moes uitdeel kry nét daar amper ‘n hartaanval. Uitasem gaan vertel hy vir die Kommandant dat Paulus ‘n Romeinse burger is. Volgens die Romeinse wette mag géén Romein gegésel word sonder ‘n verhoor nie.

Die Kommandant is totaal onkant gevang. Hy vertel vir Paulus dat hy sy Romeinse burgerskap ten duurste moes koop. Blykbaar was hy ‘n Griek. Paulus was egter as Romeinse burger gebore, dit het hom niks gekos nie!

Klaudius Lisias, die Kommandant, besluit dat dit dalk goed sou wees om Paulus voor die Joodse Raad te laat verskyn. Dan sal hy dalk kon uitvind wat nou éintlik aan die gang was tussen hom en die Jode. Die Raad het geen jurisdiksie oor Paulus gehad nie, aangesien hy nou ‘n Romeinse gevangene was, maar so ‘n verskyning kon dalk net uitsluitsel gee. En so staan Paulus die volgende dag voor die “eerwaarde” Raad. Aan die stuur van sake was die Hoëpriester, Ananias, ‘n berugte figuur, bekend vir sy gierigheid en gewelddadigheid, asook vir sy pro-Romeinse sentimente, iets wat jare later gekos het dat hy vermoor is deur Joodse nasionaliste. Voor die raad nog ‘n klagte ter tafel kon lê, neem Paulus sy kans waar om sy eie “godsdienstige integriteit” aan die orde te stel. “Broers,” spreek hy hulle baie vroom aan, en hy vertel dat hy ‘n skoon gewete het, en dat hy binne die wil van God leef en hom nie doelbewus aan iets skuldig maak nie. Op Ananias se bevel kry hy ‘n vuishou op die mond om hom stil te kry.

Paulus reageer skerp, en sê vir die hoëpriester dat hy ‘n skynheilige is (heeltemal waar!) en dat dieselfde aan hom gedoen sou word. Dit was ‘n groot fout van Paulus, en nou moes hy baie vinnig dink om hom uit hierdie verknorsing uit te praat. Hy mompel ‘n verskoning aan die geskokte mense rondom hom. En dan tref ‘n gedagte hom. Die Joodse raad het bestaan uit verskillende Godsdienstige faksies, net soos ons parlement vandag ook maar. Die twee hoofgroepe was die Fariseërs en Sadduseërs. Fariseërs het geglo aan die hemel, engele en die hiernamaals, maar die Sadduseërs het hierdie dinge verwerp. Nou buit Paulus hulle verskille uit deur aan te kondig dat hy ook as ‘n Fariseër grootgeword het en dat hy meen dat hulle hom eintlik verhoor omdat hy glo aan die ewige lewe. Dit was vet in die vuur, en die twee groepe klim in mekaar se hare. Natuurlik het Paulus lankal sy Fariseërskap vaarwel toegeroep, maar met hierdie woorde red hy sy eie bas deur sy teenstaanders deeglik te laat kleitrap. Só erg is die verdeeldheid dat die Fariseërs op een stadium sy kant kies en hom onskuldig verklaar.

Die Kommandant moes vinnig ingryp om vir Paulus te red, terwyl dié heimlik in sy mou lag oor die chaos!

Daardie nag kom die Here na Paulus in ‘n droom en bemoedig hom met die woorde dat hy nog in Rome vir Hom sou gaan getuig. Weereens is Paulus gered van ‘n gewisse dood sodat God se raadsplan ten volle uitgevoer kon word. Die Evangelie vra dat jy jou kop moet gebruik en die waarheid onverskrokke verkondig. Maar soms vra dit ook dat jy nie heilige dinge vir die honde gooi nie.

Gebed:

Here, dankie dat ek vanoggend ook die versekering kan hê dat U ten volle in beheer is, al lyk dinge dikwels baie duister en wanhopig.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026