Misverstand

27 November, 2025
Luister Na Hierdie Dagstukkie Misverstand

Josua 22:9-34

VIDEO | LUISTER

Josua het die drie stamme aan die Oosjordaanstreek teruggestuur huistoe met die woorde: “Gaan terug na julle woonplekke toe met groot rykdom, met groot troppe vee, met silwer, goud, koper en yster, met baie klere, maar deel die buit wat julle van julle vyande gevat het, met julle stamgenote.”

Dit was dus met wedersydse dankbaarheid wat hulle van Silo af vertrek. Hulle volksgenote is dankbaar omdat hulle onbaatsugtig gehelp het om die land vir hulle in besit te neem. Daar heers ook groot dankbaarheid by die drie vertrekkende stamme want nie alleen is hulle oorlaai met rykdom nie, maar hulle gaan weer met hulle gesinne verenig word. Hierdie rykdom gaan hulle deel met hulle stamgenote wat agtergebly het.

En so vertrek hulle met groot fanfare. Wanneer hulle ‘n dag of wat later by die Jordaanrivier aankom, besluit hulle spontaan om daar uit dankbaarheid vir die Here ‘n altaar te bou wat ook sou dien as ‘n gedenkteken van Sy troue sorg oor hulle in hierdie tyd. Hierdie is nie sommer ‘n gewone ou altaartjie nie, hulle besluit om sommer ‘n gróót en indrukwekkende altaar te bou. Niemand mag dit miskyk nie! Die volgende dag steek hulle die Jordaan oor en haas hulle huiswaarts. Natuurlik is die blydskap baie groot en ek is seker dat daar daardie aand groot fees gevier is in die kamp van Manasse, Ruben en Gad.

Maar die duiwel het mos nog al die jare daardie nare gewoonte om verdeeldheid te probeer saai. En so gebeur dit dat iemand op ‘n dag langs die Jordaanrivier stap waar hy sy skape, wat hy natuurlik van die Kanaäniete gebuit het, laat wei. En dan sien hy iets wat nie voorheen daar was nie: ‘n altaar! Hy het nog nooit ‘n altaar van hierdie statuur gesien nie! Hy sien ook baie duidelik die spore van ‘n duisend manne wat daar saamgedrom het en deur die Jordaanrivier verdwyn.

Dan sit die kêrel twee en twee bymekaar, maar sy wiskunde is nie so goed nie en hy kry VYF! Hierdie spul wat so pas vir maande lank saam met hulle geveg het onder die vaandel van die Here het ‘n liederlike ding gedoen! Hulle het nou ná alles wat die Here vir hulle gedoen het, weer teruggeval op hulle ou weë en hier ‘n altaar kom bou vir die een of ander afgod!

Die kêrel los sy trop skape nét daar saam met sy kleinboetie en hardloop dat jy net skurwe hakskene sien, reguit na Josua toe om vir hom die ontstellende nuus oor te dra.

Die verskriklike nuus versprei soos ‘n veldbrand. Hoe kón hulle? Hoe is dit moontlik dat hulle die Here so gou kon vergeet? “En dan het hulle boonop nog die vermetelheid om die altaar aan óns kant van die Jordaan te bou!” brom een van die omgesukkelde manne.

“Ja,” beaam sy maat, “en boonop weet hulle baie goed dat jy net op een plek aan die Here mag offer, en dit is op die altaar by die tent van ontmoeting!”

Daar word nét daar en dan ‘n volksvergadering belê en almal wat saakmaak is daar. Intussen is ‘n paar manne afgevaardig om inspeksie te gaan doen oor die “afgodsaltaar”, en by die volksvergadering bevestig hulle die vermoede van die skaapwagter.

Die manne is warm onder die kraag en in die hitte van die oomblik besluit hulle om die klomp oorkant die Jordaan te gaan uitdelg. As hulle sulke liederlike dinge wil doen, moet hulle dood! “Oorlog! Oorlog!” skree hulle. Die wet sê tog immers baie duidelik dat hulle doodgemaak moet word.

Maar die wet (Deuteronomium 13:12-15) sê ook nét so duidelik dat die saak eers deeglik ondersoek moet word. Dus word Pinehas, Aäron se kleinseun afgevaardig om oor te gaan na die skuldiges en hulle te ondervra soos die wet vereis. Pinehas is immers ‘n streng kêrel wat nie afvalligheid duld nie.

Dan vat Pinehas, vergesel van sy kommissie van ondersoek van tien van die volksleiers die pad, vasberade om die waarheid uit die belhamels te wurg. By hulle aankoms wys ‘n omgesukkelde Pinehas die vinger na die leiers van die Oosjordaan groep: “So sê die hele volksvergadering van die Here: Hoe kon julle dié daad van ontrou begaan teen die God van Israel? Julle het mos nou die Here verlaat toe julle die altaar gebou het! Julle is nou in verset teen Hom!” (Jos 22:16)

“Die Here alleen is God, die Here alleen is God!” kreun die verbaasde Oosjordaners. En dan verduidelik hulle dat daardie altaar niks anders is nie as ‘n gedenkteken sodat niemand ooit sal vergeet dat hulle ook deel van die volk van God is nie. Hulle het nooit eers daarop geoffer nie!

So byna-byna het ‘n simpele misverstand gelei tot ‘n bloedige burgeroorlog. Gelowiges moet met mekaar praat en nie sommer gevolgtrekkings maak nie. Kom ons bou eerder bakens van liefde, trou en regverdigheid om gelowiges bymekaar te bring en ongelowiges tot die besef te bring dat daar net één God is om te aanbid!

Gebed:

Here, ek is so dikwels skuldig daaraan dat ek ander veroordeel. Ek vra om vergifnis Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026