Misbruikte Vryheid

18 February, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Misbruikte Vryheid

1 Korintiërs 10:23-11:1

VIDEO | LUISTER

Ek woon eenmaal ‘n Sinodevergadering by in Pietermaritzburg. Toe ons ‘n blaaskans kry tussen besprekings, stap ek uit op die stoep om vars lug te kry. ‘n Vooraanstaande dominee kom staan langs my, grawe sy pakkie sigarette uit, en weldra staan die blou rookdampe. Ek voel hoe die beklemming om my bors my vasgryp. Binne sekondes is my neus bot-toe, en ek het ‘n kloppende hoofpyn. “Waarom moes die man hier in die openbaar kom staan en rook? Neem hy dan nie enigsins ander mense in aanmerking nie?” wonder ek as ek probeer wegkom uit die kloue van die verstikkende rookwalm.

Die mense van Korinte het vir Paulus gesê: “Alles is my dan geoorloof!” Dit is ‘n tipiese Korintiese spreuk. En dit geld mos veral vir die gelowiges, want hulle is mos nou vrygemaak! Of hoe?

“Ja”, sug Paulus, “dit mag dalk wél so wees, maar alles is beslis nie heilsaam of opbouend nie!”

Is dit sonde om te rook? En wat van alkohol? Is dit sonde om ‘n wyntjie of wat te drink?

Nou steek ek seker my kop behóórlik in ‘n byenes. Ek het self baie jare gelede gerook, en ek wéét wat dit aan jou gesondheid kan doen. Toe dit my gesondheid begin aantas, het ek opgehou.

Die vraag is: is dit dan sonde?

Die eenvoudige antwoord is dat enigiets wat jou liggaam, die tempel van God benadeel, sonde is. Nét so is dit sonde om ongesond te eet of om jou te buite te gaan met kos. Om te véél wyn te drink is om dieselfde rede sonde. Die feit is dat ons nie net een enkele daad kan uitsonder en sê: “Hierdie ding is nou sonde!” nie.

As ons egter iemand anders benadeel deur ons daad, dan begin die rooi ligte baie helder flikker. Rook is ongelukkig een van daardie dinge wat ander mense se gesondheid óók kan benadeel. Dit is veral as jy in die geselskap van kinders rook, waar jy gróót skade kan veroorsaak aan hulle gesondheid. Jy sou dalk sê: “Maar ek rook nie naby ander mense nie!” Baie bedagsaam van jou, maar besef jy hoe jy ruik na ‘n rooksessie? Ek deins dikwels terug as ek naby ‘n roker kom!

Nee, ek wil nie die rookgewoonte uitsonder nie, maar ek gebruik dit bloot as ‘n voorbeeld. Daar is baie ander soortgelyke dinge wat jou medemens kan benadeel, en waarvan jy liefs moet wegbly, al sien jy dit nie as sonde nie.

Paulus noem weer die voorbeeld van die eet van offervleis. Hy sê: “Eet gerus alles wat in die slaghuis verkoop word.” Daarmee bedoel hy dat die deel van vleis wat priesters kry nadat ‘n afgodsoffer gebring is, dikwels in die slaghuis verkoop is. Jy is dus nooit seker wat jy koop nie, en jy kan netsowel ‘n lekker biefstuk koop wat eintlik deel was van ‘n afgodsoffer. Paulus verduidelik dat dit nie saak maak nie, want alles behoort immers aan die Here.

As jy egter by vriende sou eet, en hulle verduidelik vir jou dat hierdie kos eintlik deel is van ‘n afgodsoffer, dan is dit beter om te sê: “Nee dankie!” Waarom? Sal die vleis dan ‘n slegte uitwerking op jou hê? Nee, dit is nie waaroor dit gaan nie. Deur só ‘n handeling wil jy bloot vir die mense sê: “Ek aanbid God alleen, en ek wil niks met afgode te doen hê nie.” Indien die ander persoon ‘n gelowige is wat dalk nie so sterk staan in sy geloof nie, versterk jy op hierdie wyse sy geloof.

As gelowige het ek ‘n wonderlike nuwe vryheid. Ek word nie meer beperk deur allerhande wette wat nagekom móét word sodat ek die saligheid kan verwerf nie. Jesus het alrééds betaal vir alles, en ek kan die vryheid geniet. Maar soms vra dit van my as gelowige om daardie vryheid vrywilliglik te beperk ter wille van ander mense.

“Waarom?” wil die Korintiërs van Paulus weet. “Waarom moet ek dan nou my vryheid prysgee oor iemand anders se gewete?”

Moontlik kan ek ‘n voorbeeld gee: ‘n Mammie stap met haar kleuter deur ‘n parkie. Die outjie is uitbundig, en hy hardloop wild rond en skree en sing uitgelate. Daar is absoluut niks mee verkeerd nie. As dieselfde mamma haar kleuter deur ‘n hospitaal se voorportaal neem, is dit ‘n héél ander situasie. Hy word in toom gehou, en hy mag nie “Kwê” sê nie. Waarom? In die voorportaal sit ‘n ou tannie op krukke en iemand wat krul van pyn asook iemand wat ernstig siek is sowel as iemand wat pas gehoor het sy geliefde het gesterf. As die kleuter vryheid gegee word om homself daar te buite te gaan, sou dit ‘n paar mense baie irriteer, en dan sou hierdie “swak” mense selfs nog méér ly!

Alles kom dus net weereens neer op liefde. Wees vir jou naaste net so lief soos jouself. As jy dus rook, is dit ‘n saak tussen jou en God. Dis egter belangriker dat jy ons arme ouens wat met sinus en asma sukkel, en veral die kindertjies in ag sal neem, en liewer jou vryheid opgee en gaan rook waar jy niemand pla nie. En wanneer iemand met ‘n alkoholprobleem by jou kom eet, dan bêre jy liewer die botteltjie heerlike rooiwyn diep weg!

Gebed:

Here, gee my asseblief die wysheid om te sien waar ek dalk iemand anders kan benadeel, en die vermoë om altyd ander se belange eerste te stel!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026