Matteus 4:23-25
Toe Johannes sien, begin dit al aand word. Hy skrik hom yskoud: waar het die tyd heen gevlieg? Hy het skoon tred verloor met tyd en plek, en hulle is nou bitter ver van Pa Sebedeus se skuit af. Die Oukêrel is seker al bitter kwaad dat hulle nog nie opgedaag het vir die nag se visvang nie!
“Ons slaap vannag sommer hier op die strand,” kondig Jesus aan, en hulle begin vuurmaakhout bymekaarmaak vir die nag.
“Maar Rabbi, ek en my broer moet gaan werk! Pa wag vir ons, en ek ken my pa, as ons nie betyds daar aankom nie!” Johannes is ‘n baie bekommerde man. Hy wonder waarom Simon en Andreas so rustig is oor die hele situasie? Dit lyk nie of dit Simon enigsins pla dat sy skuit nie vannag uitgaan nie!
Dan verduidelik Jesus dat hy rustig moet raak. As Johannes Jesus se dissipel wil wees, moet hy bereid wees om alles op te gee en vir die volgende paar jaar saam met Hom te gaan. Hy hoef rêrag ook nie bekommerd te wees oor waarvan hulle gaan lewe nie of waar hulle gaan slaap nie. Daar sal wél vir hulle gesorg word.
Simon stap na een van die vissermanne toe en vra of hy gou sy werpnet kan leen. Tot almal se verbasing kom hy ‘n halfuur later terug met ‘n yslike groot vis, genoeg vir hulle almal.
‘n Dag later is dit Sabbat. Vrydagmiddag maak hulle al vroeg kamp sodat al die werk afgehandel is voordat die Sabbat aanbreek. Jesus het gesorg dat hulle naby ‘n dorpie uitkamp, sodat hulle die volgende oggend na ‘n sinagoge sou kon gaan. Teen hierdie tyd het hulle groepie al aangegroei met nog ‘n paar manne wat besluit het om Jesus te volg.
By die sinagoge word Jesus gevra om die woord te voer. Iemand het dit laat val dat Hy die een of ander Rabbi is, en dat Hy weet waarvan Hy praat. Die priester rol die groot boekrol voor Jesus oop, en Hy begin daaruit voorlees. Toe begin Hy praat. Daar sak ‘n doodse stilte neer oor al die manne in die gebou. Oopmond, sprakeloos luister hulle na die wonderlike woorde wat uit Sy mond voortvloei. Hy praat met sóveel gesag en wysheid dat hulle nie kan ophou luister nie.
Die volgende oggend is daar al van vroegdag af ‘n klomp mense wat Jesus kom opsoek. Die nuus het baie gou versprei oor hierdie nuwe Rabbi wat so wonderlik kan praat. In die sinagoge word net die manne toegelaat. Nou kom die vrouens ook by, want hulle wil ook weet waaroor al die bohaai gaan.
Johannes kan nie mooi onthou waar dit alles begin het nie, maar skielik het Jesus net afgebuk na iemand wat baie siek was. Toe Hy die vrou aanraak, was sy oombliklik genees. Jy kon duidelik hoor hoe die mense rondom haar hulle asems intrek in ongeloof.
Toe kom daar nóg iemand met ‘n probleem, en ook sý word genees! Toe was die ark oop! Die nuus versprei soos ‘n veldbrand oor hierdie nuwe “Wondergeneser” en so gou as jy sê “Mes!” wemel dit van siekes met allerhande soorte kwale. Johannes se mond het behóórlik oopgehang. Sowat het hy nog nooit aanskou nie! En sy hart het geswel van trots, want dit was sý Rabbi wat hierdie wonderdade gedoen het.
Maar saam met daardie asemrowende wonderwerke, kom daar vir Jesus se dissipels harde werk. Skielik moet hulle nou skarebeheer toepas en siekes begin organiseer. Binne dae het derduisende mense na hulle toe gestroom. En tussen al die genesings deur, het hulle Meester steeds tyd gemaak om met die mense te praat en hulle allerhande wonderlike dinge te leer.
Dae het weke geword en weke maande. Hulle het nooit lank op een plek gebly nie. Hulle het van dorpie na dorpie gegaan en Jesus het elke Sabbat in ‘n ander sinagoge gepraat. Regdeur die hele Galilea het hulle getrek totdat daar nie ‘n enkele persoon was wat nie van Jesus geweet het nie.
Dit was lankal nie meer net hulle vier wat vir Jesus dag-na-dag gevolg het nie. Dit het nou al aangegroei tot ‘n groot klomp mense. Hulle het hulleself die taak opgelê om oral te help, want elke dag was hier nou al duisende mense wat na Jesus kom luister het en veral gekom het om hulle kwale genees te kry. Nou was dit ook nie meer net die mense uit Galilea nie, maar van oral, Dekapolis, Jerusalem, Judea en selfs mense van oorkant die Jordaan af.
En Johannes het láánkal vergeet van Pa Sebedeus!
Dit moes ‘n asemrowende ondervinding gewees het om saam met Jesus te kon wees. Maar terselfdertyd was dit baie harde werk. Om die Evangelie uit te dra is nie kinderspeletjies nie. Vra maar vir die sendelinge wat dikwels harde bene kou. Maar dit is deur en deur die moeite werd!
Gebed:
Here, ek dink vanoggend aan elkeen wat besig is om in U wingerd te werk. Gee hulle asseblief krag, deursettingsvermoë, liefde en wysheid, Here!