Handelinge 4:32-37
Wat beteken dit om waarlik vir mekaar om te gee? Stop dit maar net by meegevoel met mekaar se omstandighede?
Ons leef in ‘n wêreld waar alles gaan om geld, geld en nogmaals geld. Baie mense verdien hulle geldjies deur eerlike, harde werk, maar so dikwels sien ons eerder dat die mens wat héél bo uitkom en gróót verdien, dit gekry het omdat hy nie omgegee het wie in die proses sneuwel nie. Niemand anders is ‘n kans gegun nie, want as jy dalk vir ‘n ander ou die gaping gee, is dit tot jou eie nadeel.
Hierdie tendens sien ons elke dag in die wêreld van die politiek. Hoeveel mense in baie hoë posisies is daar nie byvoorbeeld in die afgelope jaar alleen wat aangekla is van bedrog, omkopery en korrupsie nie? Selfs ministers, regters en polisiehoofde is in die gedrang. Hierdie mense se gierigheid maak dat hulle reuse bedrae geld misbruik om hulle doel te bereik, en in die proses enigeen wat in die pad na hulle sukses staan in die modder vertrap.
Hoe verfrissend anders was die Jerusalem gemeente wat Lukas hier beskryf! Ons het hier te make met mense wat dit dikwels ook maar nie te breed gehad het nie, en self soms noustrop getrek het. Nogtans het dit hulle nie verhinder om ‘n oop hand te hê vir hulle medegelowiges wat in nood verkeer nie.
Dit laat my dink aan die keer toe die bobbejane in ons Boshuisie ingebreek het. Dit was absolute chaos, en buiten vir die reuse gemors wat hulle agtergelaat het, het hulle letterlik elke denkbare eetbare item in die huis verorber. Hulle het selfs al die kombuiskaste oopgemaak en leeg gemaak. ‘n Sakkie mieliemeel en ‘n sakkie meelblom het vir hulle vet pret besorg, en dié het hulle oor die meubels uitgestrooi. Een van die inwoners van Marloth Park kom verbygery in sy 4x4 bakkie, en wil hom siek lag oor ons dilemma. En daar sit ek en my Mosbolletjie laat die middag op ons stoep, vodde gewerk om die plek weer leefbaar te kry, en sonder ‘n krieseltjie kos in die huis (daardie jare was daar nog nie ‘n kafee in die dorp waar jy voorrade kon koop nie). Toe ons weer sien kom ou José, ‘n brandarm Mosambieker wat soms vir ons tuinwerkies gedoen het, en ons ook vroeër kom help het om die gemors op te ruim, in die pad afgestap. Hy dra ‘n halwe sakkie mieliemeel wat hy na my uithou: “Ek sien julle het nie kos nie, toe dog ek maar net …..” My trane sit baie naby: Hy het niks, en nogtans is hy bereid om die ou klein bietjie wat hy het vir ons op te offer.
Lukas vertel vir ons dat nie een van die gemeentelede in Jerusalem honger gely het nie, want daar was altyd iemand wat bereid was om te help. Sommige mense het selfs so ver gegaan om hulle eiendom te verkoop en die opbrengs te gebruik om diegene wat swaarkry te help. So word daar spesifiek die naam genoem van Josef, ‘n man afkomstig van die eiland Siprus. Hy het familie in Jerusalem gehad. Josef kry die bynaam “Barnabas.” Dit beteken “Seun van vertroosting.” Dit sê baie oor hierdie man, wat sy grond verkoop het en al die wins wat hy daaruit gemaak het vir die apostels gegee het om in die gemeente te gebruik. Hierdie geld is versprei onder die armes.
Hoe moet ons hierdie gedeelte verstaan? Beteken dit dat ons vandag al ons eiendom moet verkoop en ons besittings onder die armes moet verdeel? Nee, ek dink nie so nie, maar ons moet herbesin oor die verskriklike greep wat selfsug oor ons het, en ons sieklike gejaag na besittings. Ons moet onthou dat alles wat ons besit van God afkomstig is, en dat ons slegs die gebruik daarvan geleen is uit God se groot genade. As daardie gedagte die dag insink, sal ons harte, ons hande en beursies vir mekaar oopgaan. Ons moet egter ook leer om nie weg te kyk wanneer daar nood is nie, maar dit raak te sien en iets daaromtrent te doen. Dit help nie om vir ‘n mens in nood te sê: “Ek dink aan jou, ek bid dat jy kos sal kry vir vanaand!” nie. Ek moet eerder bid: "Here, wys my hoe ek kan help om die persoon se nood te verlig!" ‘n Dankbaarheidslewe beteken dat jy iets daadwerklik doen aan die nood van ander. Talle gelowiges wy hulle lewens onbaatsugtig daaraan om mense se nood te verlig. Dit beteken nie noodwendig dat jy dieselfde moet gaan doen nie, maar reik ten minste ‘n helpende hand uit waar die Here iemand in nood oor jou pad stuur.
Natuurlik is daar talle vrae oor wanneer ‘n mens moet help en wanneer nie. Waar trek ons die streep met bedelaars en die alewige straatkindertjies wat jou by die robot verpes? Of die vrou wat met gehawende klere wat op die straathoek staan met ‘n bordjie om haar nek wat pleit vir hulp. Dikwels is dit vir hulle slegs ‘n beroep wat hulle bedryf. Dalk het die vrou op die straathoek meer geld in die bank as jy! Ek het al dikwels sélf in slagysters getrap, en soms kwaad geword omdat ek my alwéér met ‘n slap riem laat vang het. Dit is egter nie vir my om te oordeel nie, die oordeel kom God alleen toe. Daarom is dit baie nodig dat ons sal bid vir die nodige onderskeiding en wysheid, en dat my hand en hart sal oop bly ten spyte van terugslae. Dit is ook belangrik dat ons iemand nie bloot sal ignoreer nie. Al gee jy niks, gee hom erkenning en 'n vriendelike, liefdevolle glimlag!
Gebed:
Here, help my om die nood raak te sien en my hart oop te maak daarvoor.