Lukas 10:38-42
Jesus en sy geselskap het op hulle reis na Jerusalem by die dorpie Betanië aangedoen, waar Marta en Maria saam met hulle broer Lasarus gewoon het. Hierdie verhaaltjie illustreer baie duidelik dat daar gelowiges is van totaal uiteenlopende karakters en wat baie verskillend optree. Ons mag nie vinger wys en sê dat iemand verkeerd is nie!
Op die oog af is die drama wat hier afspeel net ‘n insidentjie wat jy dalk binne minute alweer sal vergeet. Marta was baie bedrywig in die kombuis om alles vir Jesus en die manne reg te kry, maar haar sussie het besluit dat sy liewer sommer net by Jesus wil gaan sit en luister na wat Hy alles te sê het. Marta raak naderhand warm onder die boordjie oor haar sussie se laksheid, en sy gaan praat met Jesus hieroor. Maar dan kom die verrassende as Jesus nie vir Maria die “lui een” nie, maar vir Marta, die “besige een” teregwys omdat sy so besig is. Dan sê Hy vir haar dat die “lui” Maria eintlik die een is wat reg optree.
As ons die verhaaltjie vir die eerste keer lees, dan lyk dit vir jou so bitter onregverdig. Waarom word die een wat hard werk oor die vingers getik, en die sussie wat sit en niksdoen word geprys? Ons moet eintlik die optrede van hierdie twee susters beoordeel in die lig van wat dit werklik inhou om ‘n volgeling van Christus te wees.
Jy het werklik simpatie met Marta wat haar liefde vir Jesus wys deur Hom en sy dissipels te bedien. Eintlik moes Maria haar suster gehelp het, maar sy was passief. In die lig van Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan, moet ons werklik Marta se diens waardeer. Sy het presies gedoen wat Jesus gepreek het oor die Samaritaan. Tóg sê Jesus dat Maria “die beste deel gekies het”. Wat is die “beste deel” waarna Jesus hier verwys? Om alle ander dinge te los en Jesus se woorde in te drink! Hiermee sê Jesus nie dat dit verkeerd is om besig te wees en hard te werk in die Koninkryk nie. Hy sê ook nie dat ‘n mens maar eerder jou huishoudelike pligte moet verwaarloos om met die dinge van die Here besig te wees nie.
Die groot geheim is dat jy moet weet wanneer die tyd reg is vir werk en wanneer dit reg is vir stilword. Maria het net besef dat dit nie nou die tyd is om rond te hardloop en dinge vir die Here te doen nie, maar dat dit die tyd was om die Here toe te laat om iets vir haar te doen. Sy moes oop en ontvanklik wees op daardie oomblik, want Jesus het dinge gesê wat vir haar baie belangrik was. Ja, sy kon wél later weer haar gasvrou-pligte doen en al haar huishoudelike probleme oplos. Jesus was egter slegs vir ‘n kort tydjie by haar, en sy moes elke oomblik daarvan kwaliteitsmomente maak.
Deur hierdie verhaaltjie leer die Here ons ook om baie sensitief te wees vir die momente in ons eie lewe wanneer Hy deur sy Gees met ons wil praat en ons leer en sterk wil maak. Natúúrlik is dit van groot waarde as jy bereid is om jou moue op te rol en koninkrykswerk met passie en méning aan te pak. Dit behoort deel van jou lewe te wees en dit maak jou geestelik sterk terwyl jy terselfdertyd die liefdesgebod so kan uitleef en tot diens van God en jou naaste kan wees. Daar kom egter tye in jou lewe dat jy moet besef dat jy nou moet stilword voor die Here en ophou rondskarrel met jou dagtake sodat jy net kan indrink wat Hy vir jou wil fluister. Dit is op sulke tye wat jy ook aan die voete van Jesus gaan sit en net luister na wat Hy vir jou sê. Sulke oomblikke is uiters kosbaar. Dit is hier waar jy weer gevul word met krag; dit is hier waar jy Jesus se nabyheid ervaar; dit is hier waar jy weer besef hoe afhanklik jy werklik van Hom is.
As jy die langpad aandurf met jou motor, kan jy nie maar net aanhou ry en ry nie! Iewers moet jy stilhou vir brandsof. Boonop is dit vir jou as bestuurder ewe noodsaaklik om net ‘n bietjie te ontspan, anders gaan jy uitbrand. Op dieselfde wyse is dit ook nodig om geestelik “stil te hou” en die allernoodsaaklike brandstof van die Heilige Gees in te neem. Dit kan jy nie doen terwyl jy staan en hardloop nie, maar jy het nodig om rustig te raak.
Stilword aan Jesus se voete beteken nie noodwendig alleen om te gaan sit en Bybelstudie hou nie. Ek beleef sulke besonderse stilword-momente wanneer ons selgroep bymekaar kom, of wanneer ons mannegroep Saterdagoggende saam sing en gesels. Om maar net te vergeet van al die verpligtinge en te kan ontspan saam met mede-gelowiges wat omgee, is vir my kosbaar. Om iewers in die bos te kan sit en die stilte in te drink, is ook vir my kosbaar. Om dan te kan luister na die influistering van die Heilige Gees in sulke omstandighede, is onbeskryflik hemels! Sulke oomblikke aan Jesus se voete is iets wat onherroeplik ingebrand word in my mooimomente-kamertjie.
Gebed:
Here, baie dankie vir daardie stiltye wat U vir my gee - vir die hemelse oomblikke wanneer U met my praat deur die stilte en rustigheid.