Liefde Beteken Opoffering

3 March, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Liefde Beteken Opoffering

Filippense 2:19-30

Video

Audio

Paulus skryf die mooiste getuigskrif oor Timoteus. Hierdie jong man was maar altyd daar vir Paulus, en hy het hom deur dik en dun bygestaan. Hy moes dikwels Paulus se voete, oë en ore wees, veral deur die jare wat Paulus ‘n gevangene in Rome was, toe hy nie by gemeentes kon uitkom nie. Timoteus moes namens Paulus gaan probleme oplos in gemeentes of hulle bloot gaan besoek om by Paulus verslag te kom doen oor hoe dit in gemeentes gaan. Dit was groot opoffering wat gespruit het uit ‘n baie besonderse liefde.

Maar Timoteus was nie die enigste wat vir Paulus gehelp het nie. Ons lees van verskeie mense wat hulle gereeld met hom bemoei het en versterk het, Lukas was so ‘n persoon, en ons weet dat hy dikwels die briewe wat Paulus gedikteer het vir hom geskryf het. Paulus se oë was baie swak, en hy het gesukkel om te lees of skryf.

En dan was daar Epafroditos. Dit gebeur soms dat iemand oor jou lewe gestuur word wat absoluut alles sal opoffer om jou by te staan, net wanneer jy dink dat alles vir jou verlore is. Dit is slegs die grootste liefde vir die Here, en saam daarmee ‘n alles-opofferende liefde vir daardie persoon, wat kan maak dat jy iemand so getrou bystaan in uiters moeilike omstandighede.

Dit sou net menslik wees as Paulus uiters gefrustreerd sou wees in sy omstandighede. Hy het ‘n baie aktiewe lewe gelei en hy kon net eenvoudig nie stilsit nie. Selfs voor sy bekering al het hy die wêreld vol gereis om Christene te gaan uitsnuffel sodat hulle vervolg kon word. Toe gebeur Damaskus, en vir die eerste keer word hy deur God tot stilstand geruk, nie alleen omdat hy nie kon sien nie, maar die opgestane Jesus het hom diep aangeraak en hom gevul met liefde. Eers moes hy alleen daardie ontmoeting met Jesus verwerk. Daarna word iemand oor sy pad gestuur om dit vir hom te verduidelik. Lees gerus die verhaal in Handelinge 9.

n Paar jaar later word Paulus deur Barnabas na die gemeente in Antiogië gebring om hom daar te help. Daar kry hy uiteindelik die roeping om sendingwerk te gaan doen saam met Barnabas. Vir Paulus was dit ‘n dag van groot opgewondenheid. Hy het hierdie roeping met baie groot entoesiasme aangegryp, en onmiddellik het hy ‘n groot liefde vir sendingwerk ontwikkel. Van dorp na dorp en land na land het hy gereis, en in die proses baie duisende kilometers afgelê, meestal te voet. Hy het selde lank in een plek gebly. Wanneer hy tevrede was dat die evangelieboodskap inslag gevind het, het hy vertrek na die volgende bestemming. Dikwels is die proses aangehelp deur ongelukkige teenstanders wat hom hardhandig die dorp uitgesmyt het. Maar dan het hy bloot die stof van sy klere afgeskud en jubelend voortgegaan!

Paulus het ook by etlike geleenthede die gemeente in Jerusalem gaan besoek. Dit was juis tydens een so ‘n besoek waar hy in die tronk beland het.

En nou sit hy met hande afgekap omdat hy nie eers sy voet by die vertrek durf uitsit nie. Jaar in, jaar uit in dieselfde kamertjie! Later sou dit nog erger word as sy huisarres vervang word met ‘n pikdonker, vuil, stinkende tronksel en kettings. Maar selfs in hierdie omstandighede straal die liefde uit Paulus. Die Here stuur dan mense oor sy lewe, mense wat omgee en hulle liefde op ‘n besonderse manier uitleef, soos die wegloper-slaaf Onesimus wat daar in die gevangenis by Paulus tot bekering gekom het. Na sy bekering was hy vir Paulus goud werd (Filemon 8-10).

Dikwels het gemeentes ook in liefde uitgereik na Paulus. So het die gemeente in Filippi vir Epafroditos gestuur om Paulus in die tronk te gaan bystaan, en saam met hom ook geld om hom te versorg. Vir hierdie man moes dit ‘n baie groot opoffering gewees het, want hy moes vir ‘n lang tyd ver van sy huis, familie en vriende in ‘n vreemde, goddelose land deurbring. Maar dit doen hy met liefde, blydskap en toewyding. Selfs toe hy siek word, so siek dat hy by die dood omdraai, bly hy steeds getrou op sy pos. Hy laat weet nie eers sy mense van sy siekte nie, uit vrees dat hulle hom dalk sou laat haal en terugneem na Filippi. Vir Paulus was dit ‘n riem onder die hart dat hierdie man se liefde so groot was dat hy álles sou opoffer om hom by te staan.

Dit sou selfsugtig wees van Paulus as hy vir Epafroditos langer daar sou hou, maar selfsug is ‘n eienskap wat jy nie by Paulus sou kry nie. En daarom stuur hy vir Epafroditos terug na sy mense. Saam met hom stuur hy die Filippense-brief met ‘n pragtige getuigskrif van Epafroditos wat sy lewe gewaag het om Paulus by te staan.

Hierdie verhaal is nie opgeteken vir ons om Paulus en Epafroditos te bewonder nie, maar om iets te leer uit hulle voorbeeld. Paulus se onselfsugtige optrede en sy allesoorheersende liefde vir die evangelie moet vir ons ‘n norm in ons lewe wees. Selfs wanneer dit swaar gaan, moet ons steeds eerder aan ander dink. Oor Epafroditos se opoffering moet ek myself die vraag afvra of ek bereid sou wees om alles op te offer vir iemand wat in die nood is of vir die Evangelie? Dit is hoe ware liefde prakties uitgeleef word. En dan mag ons natuurlik nooit vergeet dat God dikwels sulke mense oor ons lewenspad stuur, of dalk andersom, dat God óns oor iemand anders se pad stuur. Dan mag ons nie weier nie!

Gebed:

Here, maak my asseblief gewillig om te gaan wanneer U my stuur. Dankie ook vir wonderlike mense wat U oor my lewenspad stuur.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026