1 Korintiërs 15:12-34
Gister het ons die vraag gevra, of daar ooit ‘n ewige lewe is? Is alles nie maar dalk net ‘n versinsel nie?
Die meeste gelowiges gaan antwoord dat dit tog net logies behoort te wees dat die ewige lewe ‘n werklikheid is! Tóg is daar baie vrae oor hierdie onderwerp, en selfs gelowiges twyfel dikwels hieroor. By sommige hooggeleerde teoloë het die gedagte ontstaan dat Christus nooit opgewek is uit die dood nie, maar dat dit slegs gebeur het in die gedagtes van Sy dissipels. Dan wil dit ook impliseer dat daar vir my nie ‘n ewige lewe sal wees nie?
Sulke redenasies maak my naar op die maag! Hoe kan mense, veral hooggeleerde Bybelkenners, ooit so dink? Wat het verkeerd geloop, dat die kern van die Christelike geloof vir hulle verlore geraak het? Hierdie is egter nie ‘n nuwe gedagte nie. Paulus spook met presies dieselfde probleem wat sy kop uitgesteek het in die gemeente in Korinte, en hierdie probleem wil hy in die kiem smoor voordat daar te veel kleintjies uitbroei!
Kom ek verduidelik: Jare gelede het ons op ‘n plaas naby Welkom gewoon. Vroeg een oggend skrik ek wakker van ‘n aardige gedreun. Ek vlieg vervaard op en kyk by die venster uit. ‘n Ry trekkers kom die grondpaadjie opgery, en begin met hulle ploeë die rooi aarde oopskeur. Kort daarna saai hulle sonneblomsaad in die vore.
Daardie aand stap ek in die aandskemer deur die land. Daar is geen teken van die saad wat gesaai is nie. Dis begrawe, morsdood. Aand-vir-aand stap ek ‘n draai deur die dorre land om te sien of daar nie dalk iets gebeur nie. Maar niks!
Een oggend vroeg loer ek deur die venster. My hart gaan wild aan die bons! Oor die rooi grond is daar ‘n vae groen skynsel. Ek hardloop opgewonde na die land toe. So ver as wat ek kyk is daar piepklein groen blaartjies wat deur die verstikkende grond beur. Ek wil dit uitjubel: “Daar is lewe na die dood! Hier is die klinkklare bewys!” ‘n Paar dae later is die lap dorre rooi aarde ‘n welige groen tapyt van jong sonneblomplantjies. In my geestesoog sien ek al die massa goudgeel sonneblomme, swaar in die saad, gereed vir die groot oes. Alles was die moeite werd!
Hoe waardeloos, absoluut bejammerenswaardig sou ons geloof gewees het, as Christus nooit uit die graf opgestaan het nie. Paulus sê dat dit natuurlik sou impliseer dat daar ook nie vir my en jou ‘n opstanding sou wees nie. Dan sou die beroemde fisikus, Steven Hawking reg wees met sy stelling, dat die mens soos ‘n rekenaar is: as jy die kragprop uittrek, dan is alles verby. Dan is jy morsdood!
Ons weet egter anders: Ons het al telkemale gesien dat daar verskeie ooggetuies was van Jesus se opstanding uit die dood. Daardie selfde oggend vroeg nog het van Sy volgelinge Hom alreeds gesien. Dieselfde middag het ‘n paar manne saam met Hom na die dorpie Emmaus gestap, en het Hy met hulle gesels en vir hulle verduidelik wat gebeur het. Vir hierdie getuies was dit ook soos die sonneblomsaad wat hulle sien sterf het in die grond, en dan gebeur die wonder as die saad wat dood was weer lewe kry en heldergroen uit die dorre aarde uitbeur en wys dat daar wáárlik lewe is!
Die getuienis dat Hy lewe, en dat Hy na die hemel opgevaar het, is absoluut oorweldigend, ten spyte van die skeptiese mense wat dit as stories wil probeer afmaak. Dit het egter vir ons ook ‘n ander gevolgtrekking: As dit so is dat Jesus uit die dood opgestaan het, dan kan ons ook aanvaar dat daar vir my en jou as gelowiges ook ‘n soortgelyke opstanding uit die dood kan wees. Ons weet natuurlik uit die ooggetuies se verslag, dat Jesus se opstanding nie alleen ‘n geestelike opstanding was nie, maar dat dit ook liggaamlik was.
Thomas kon sy vingers in die gate druk wat die spykers in Jesus se hande gemaak het tydens die kruisiging.
Hy het saam met hulle op die strand gesit en geëet van die vis wat hulle gebraai het.
Hy was nie ‘n gees nie, tóg was Sy liggaam anders - ‘n verheerlikte liggaam. So sal ek en jy ook eendag na die dood opstaan en ‘n wonderlike verheerlikte liggaam kry. Ons sal nie maar net gees wees nie, maar herkenbare mense met ‘n onverganklike liggaam sonder die beperkinge van ons ou aardse “tentwoning” vandag.
Die wonderlikste van alles is egter dat ek en jy saam met Jesus sal wees en Hom kan sien in al Sy heerlikheid en majesteit!
As ons hierdie dinge begryp het, kan die gesegde “Laat ons eet en drink, want more sterf ons”, nie meer deel van ons lewe wees nie, want dan sal ons Jesus vandag ten volle dien ter voorbereiding van daardie groot dag.
Gebed:
Here, ek wil voluit lewe tot U eer, want heerlikheid wag op my wanneer ek eendag met ‘n splinternuwe liggaam by U sal wees