Lukas 6:27-38
Wat beteken Bybelse Liefde? In kort is dit ware omgee, uit die hart uit sowel as prakties. Is dit beperk tot jou gesin, familie, vriende, mede-gelowiges? Die eise wat Jesus in vanoggend se Skrifgedeelte stel, plaas ons onder ‘n baie duidelike keuse: jy moet liefde lééf of jy sal deur die wêreld verswelg word! Jesus begin met die harde woorde: “Julle moet julle vyande liefhê!” Dit beteken letterlik dat jy nie maar net neutraal of afsydig teenoor jou vyande moet staan nie, maar dat dit ‘n aktiewe uitleef van liefde moet wees. Lees ons verder deur hierdie preekgedeelte, dan sien ons dat dit selfverloëning van ons vra om hierdie liefde waarlik te kan uitleef!
Ons samelewing vandag verskil radikaal van dié in Lukas se verhaal. Tóg is daar sekere ooreenkomste wat beide samelewings baie moeilik maak vir die gelowige. Jesus se samelewing was een van gee en neem. Die rykes en vooraanstaandes het gegee, maar dan alleen as hulle baie seker was dat hulle dit weer gaan terugkry. Dit het nie net gegaan oor aardse goed nie, maar ook oor dinge soos lojaliteit en ondersteuning. Jesus kom met hierdie preek en Hy keer die hele gedagte van “Ek sal goed wees vir jou solank jy goed is vir my,” totaal onderstebo. Dit is nie liefde nie! Jy laat nie jou gedrag bepaal deur wat mense aan jou doen of van jou sê nie, maar jou gedrag moet alleen bepaal word deur wat God wil hê dat jy moet doen!
Ons wil dalk baie gou sê dat hierdie preek van Jesus darem ‘n bietjie onregverdig is! Hoe kan Hy dan nou van my verwag om iemand aktief lief te hê as die persoon lelik is teenoor my? Dalk moet ons in perspektief kyk na hierdie opdrag.
Laat ‘n bietjie jou gedagtes terugdwaal na die tyd voordat Jesus jou gered het. Hoe het jou lewe toe gelyk? Het jy in daardie tyd waarlik probeer om volgens God se wil te leef? Ek dink nie so nie! Was jy toe waarlik lief vir Hom? Ek betwyfel dit sterk! As ek maar terugdink aan my eie lewe - ja, ek het tog halfhartige pogings aangewend om Hom te plesier. Ek het kerk toe gegaan en Bybel gelees, wel net af en toe, en ek het probeer bid, maar dit was nie baie suksesvol nie. Boonop was alles slegs om my gewete te probeer sus. As ek terugdink aan die sondes in my lewe, dan staan my hare orent! Dat ek waarlik kon dink dat die Here my nie sien nie! As ek in daardie eerste 25 jaar van my lewe waar ek verantwoordelik gehou kon word vir wat ek doen, slegs tien keer per dag gesondig het (eintlik was dit baie meer!) dan het ek 90’000 oortredings agter my naam gehad! Dit sou baie sleg afgaan in ‘n hof!
Ten spyte van al hierdie dinge het die Here besluit om my ‘n totale nuwe begin te gee met ‘n silwerskoon doek. Al was ek Sy vyand, en al het ek alles gedoen wat sleg was, het Hy nogtans my sondes vergewe en my ‘n splinternuwe lewe gegee. Al het ek Hom so bitter seer gemaak, het Hy vir my die grootste geskenk van alles gegee, die ewige lewe saam met Jesus. Al was my lewe vuil en verrot, het Hy steeds vir my die Heilige Gees in my lewe gegee.
Toe eensklaps verander alles, en ek lewe ‘n skoon, rein, heilige lewe........ Nooit gesien nie! Wys my die gelowige wat ‘n sondelose lewe lei - hy is dood! Al probeer ek ook hóé hard om volgens God se wil te lewe, kry ek dit nie eers naastenby reg nie, en elke dag trap ek maar weer in die talle slaggate van sonde. Ten spyte van die feit dat ek die Here so diep teleurstel elke dag, bly oorlaai Hy my steeds met liefde en goedheid. Hy bly maar elke keer weer vergewe en vergewe en vergewe.
Lees nou weer ‘n slag wat Jesus sê terwyl jy dit hier bo in gedagte hou. Dan begin dit sin maak en dit klink gladnie meer so onregverdig nie! As die Here soveel keer die oë toemaak oor my eie vyandigheid teenoor Hom, en my dan boonop oorlaai met liefde, dan durf ek nie anders as om ook ander mense lief te hê nie. Dan maak dit net sin dat ek ten spyte daarvan dat iemand my afknou, slegsê en lelik is teenoor my, die persoon steeds aktief liefde sal gee. Dit moet ‘n liefde wees wat nie maar net ‘n glimlag van my kant wys nie, maar wat aktief aan daardie persoon gee nét soos die Here vir my gee.
Die laaste gedeelte handel oor oordeel. Wie gee my die reg om iemand anders te oordeel? Ons is so gou om mense te veroordeel, en dan boonop nog ‘n groot bohaai daarvan te maak as dit ‘n lekker sappige stukkie skindernuus is. Die afgelope ruk was ‘n paar groot name in die nuus en elkeen van ons het al ons oordeel uitgespreek oor hierdie mense. Maar die vraag is of ek en jy dan sulke engeltjies is? Wie van ons is sonder sonde? Wie van ons durf die vinger na iemand anders wys? Is hulle sonde dan soveel groter as die sonde wat ons doen? Sonde is om NIE die wil van God te doen nie. Of jy dit gróót versuim of net effentjies, dit bly steeds sonde. Ek praat nie die sondes van diegene wat ons land besteel of oproermakers vir een oomblik goed nie, maar ek durf nie oordeel nie, want ek het sélf hope sondes in my lewe! Oordeel behoort slegs aan God!
Gebed:
Here, vergewe my, waar ek so verskriklik versuim om my liefde uit te leef, en waar dit steeds so lekker is vir my om ander te veroordeel. Help my om ander, selfs my vyande waarlik prakties lief te hê!