2 Samuel 11:1-4
Soos ons gister verneem het, gaan dit sommer baie goed met Dawid. Veldslag op veldslag word gewen en die Here gee sy vyande keer op keer in Dawid se hand. Die Filistyne word aan Israel onderwerp; die Ammoniete, Moabiete, Arameërs - almal moet die knie buig voor Dawid se magtige leër. Met manne soos Joab en sy broer Abisai as aanvoerders van sy gedugte weermag, het nie een van die buurvolke ‘n kans teen Israel nie.
Dit gaan goed met Dawid!
Maar iets is nie reg nie. Dit is lente - die tyd wanneer die konings gewoonlik oorlog maak. Maar Dawid is nie daar in die veld saam met sy manne nie. Terwyl Joab en die soldate besig is om teen die Ammoniete te veg, sien ons vir Dawid waar hy baie ontspanne sy middagslapie geniet in die rustigheid van sy paleis in Jerusalem. Hy het nie juis ‘n saak met wat daar op die slagveld aangaan, waar sy manne besig is om die stad Rabba te beleër nie. Alles is mos in goeie hande!
Wanneer Dawid klaar uitgerus het, gaan hy vir ‘n wandeling op die paleis se dak. Hiervandaan het hy ‘n pragtige uitsig oor die stad en oor al sy lojale onderdane. Dawid glimlag tevrede want hy het nou absoluut alles wat sy hart ooit sou kon begeer! Sy oë dwaal oor die huise hier rondom die paleis. Hier kan niemand enigiets vir hom wegsteek nie want van hier bo af sien hy rég tot binne-in elke huishouding. Vandag is hier byna nie ’n enkele man in die stad nie want almal is mos besig om oorlog te maak en Dawid voel soos die enigste haan onder die henne.
En dan skielik gee sy hart ‘n wilde bokspring. Hy kyk, en hy kyk wéér! Nee, hy kyk nie net nie - hy staar oopmond! En die begeerte drup eintlik uit Dawid se mond. Wat hy sien, maak dinge in hom wakker. Hier reg onder sy oë is ‘n vrou besig om te bad in die privaatheid van haar agterplaas. Sy het egter géén privaatheid van die paleis se dak af nie! Salig onbewus van die starende oë staan die jong vrou haar lyf en afspoel. En Dawid kwyl! Só beeldskoon het hy nog nóóit in sy lewe aanskou nie. “Vir haar wil ek hê”, prewel Dawid vir homself, “vir haar móét ek hê! Ek begeer daardie vroumens!”
‘n Rukkie later kry Dawid een van die diensmeisies in die paleis: “Wie is die mooi jong vrou wat hier aan die oostekant van die paleis bly?” wil hy baie onskuldig weet.
“O, dit is Batseba”, vertel die meisie, “dis daardie offisier Urija se vrou.”
“Dan is sy getroud,” dink Dawid teleurgesteld. Maar hy kan net eenvoudig nie daardie prentjie uit sy gedagtes kry nie. As hy sy oë toemaak, sien hy haar perfekte liggaam voor hom. Hy probeer die gedagte afskud, maar dit kom net weer en weer terug. Daardie nag lê Dawid en rondrol in sy bed. Al wat hy die hele tyd voor hom sien, is die naakte liggaam van daardie beeldskone vrou en die water wat haar lyf laat blink in die laatmiddag son. En die begeerte vreet hom op!
Die volgende oggend is Dawid soos ‘n beer met ‘n seer kop. Almal moet net spring om in sy regte boekies te bly. “Wat is fout?” wonder die diensmeisies onder mekaar. Dawid se verskrikte amptenare loop deur oor die geringste ou dingetjie!
Naderhand kan Dawid dit nie meer hou nie want hier binne is hy besig om te bars van begeerte en hy haal dit op almal uit. “Gaan haal vir my die vrou Batseba!” blaf hy dit uit aan sy verbaasde amptenare. Hulle kyk vir mekaar, totaal onbegrypend. “Wat het die arme vrou gedoen? Is dit dalk sý wat hom so ontstel het?” wonder hulle in stilte. “Toe, toe! Wat staan julle nog?!” bulder Dawid.
Sy buig laag voor hom neer. Dis die eerste keer dat Batseba die voorreg het om in hierdie luukse paleis te kom. Haar man, Urija het haar vertel hoe mooi dit is, maar sy kon nooit droom hoe verruklik die paleis werklik is nie. “Wat sou die koning van my wil hê?” wonder sy.
Die amptenare word uitgestuur, want Koning Dawid wil privaat met die vrou gesels. En Dawid se hart vermurwe as hy die beeldskone jong vrou voor hom sien. Sy lyk nou nóg mooier. “Kom, ons gaan gesels in die privaatheid van my kamer - daar is dit baie gemakliker as hier in die troonsaal,” nooi Dawid haar. Batseba voel gevlei dat iemand so belangrik soos die koning so baie aandag aan haar gee!
Wat daardie dag in die “privaatheid” van Dawid se slaapkamer gebeur het, kan ons net raai. Batseba is heelwat later baie vinnig daar uit met ‘n rooi gesig en oë wat na niemand wil kyk nie. En Dawid? Hy is ‘n totaal ander mens! Sy onsmaaklike bui van die oggend het totaal gesak. En hy wil net sing!
Begeerte is ‘n verskriklike ding. En dit begin gewoonlik met ledigheid. As Dawid daar saam met sy manne was waar hy hoort, sou hierdie dinge nooit gebeur nie. Ons moenie deur ledigheid die duiwel ‘n kans gee om ons lewe met begeertes te vul nie. En boonop kan ’n “onskuldige” begeertetjie ontaard in ’n verskriklike monster, soos ons weldra sal sien. Maandag vervolg ons DV hierdie spannende verhaal.
Gebed:
Here, help my asseblief om besig te bly en nie my hart uit te leen vir slegte begeertes nie!