Markus 3:20-30
Ons het nou al gesien dat Jesus se optrede reuse skares mense gelok het. Dikwels het mense lang afstande gereis, selfs dae lank, nét om Jesus te kon beleef. Nie álmal het Hom egter só positief beleef nie – Hy het sommige mense ongemaklik gemaak. Daar was soms heftige kritiek, en dikwels selfs openlike vyandigheid teenoor Hom!
In vandag se perikoop lees ons dat Jesus ‘n huis binnegegaan het, waarskynlik weer Petrus se huis in Kapernaum. (Die 1983 vertaling sê dat hy huistoe gegaan het.) Soos by die vorige geleenthede wat Hy daar was, het mense weereens só om Hom saamgedrom by die huis, dat hulle Hom nie eers kans gegee het om ‘n ietsie te eet nie!
Jesus se familie was baie bekommerd oor Hom. Hy was besig om Homself totaal te verwaarloos. Maar boonop was Hy besig om hulle in ‘n groot verleentheid te bring. As jy jou familie daardie jare in die skande gesteek het, het dit sommer gróót moeilikheid beteken. Verséker was hulle Familielid se optrede baie vreemd. Hy het, volgens die sienswyse van daardie tyd nie Sy plek geken nie. As jy ‘n Rabbi wou wees, moes jy eers jare lank opleiding kry by ‘n leermeester. Jesus het nooit sulke opleiding gehad nie, en nou skielik was Hy hierdie groot Rabbi wat mense links en regs wou leer. Hy het selfs die bekende Rabbi’s weerspreek, en hulle leerstellings verkeerd bewys. Sy optrede was inderdaad baie vreemd!
Daar was egter iets anders wat nog véél erger was. Hy het dinge aangevang wat gemaak het dat hulle hulle koppe in skaamte moes wegsteek van verleentheid, soos byvoorbeeld dié slag toe Hy saam met die spul tollenaars en sondaars gaan partytjie hou het. Hy was rêrag besig om hulle gerespekteerde familienaam deur die modder te sleep!
“Hy is van Sy sinne beroof!” Jesus se familie het meewarig hulle koppe geskud. “Ons moet Hom gaan haal voor dit hééltemal te laat is!”
Maar Jesus se familie was nie die enigste wat gedink het dat Hy totaal die spoor bystergeraak het nie. Die Skrifgeleerdes van Jerusalem het tot die slotsom gekom dat dit véél erger was, en dat Hy duiwelsbesete was! Die manne het Jesus se optrede dééglik dopgehou, en uiteindelik tot die slotsom gekom dat daar inderdaad iets bonatuurlik aan die gang was. Hulle kon nie die feit miskyk dat Hy wél talle genesings en wonderwerke gedoen het nie. Nog minder kon hulle dit ontken dat Hy duiwels uitgedryf het. Sommige van hulle het met hulle eie oë gesien hoedat die duiwels met ‘n groot geraas en manifestasie besete mense verlaat het.
“Hierdie is duiwelsdinge!”het hulle vir mekaar gesê. “Dit is alles dinge van die Bose!”
En so het die geleerde manne in Kapernaum aangemarsjeer gekom, al die pad van Jerusalem af om Jesus te konfronteer. Hulle het Hom daarvan beskuldig dat Hy van Beëlsebul, oftewel die duiwel besete was, en dat Hy met die hulp van die aanvoerder van die demone, wat natuurlik óók na die duiwel verwys, hierdie demone uitgedryf het.
Hulle aantygings was eintlik lagwekkend, want dit was totaal teenstrydig. Jesus het dan presies ook dít vir hulle gesê, want dit het gladnie sin gemaak nie. Die duiwel sal mos nie iemand gebruik om sy eie demone se werk in die wiele te ry nie? “Hoe kan die Satan die Satan uitdryf?” wou Jesus weet. Dis belaglik! Toe verduidelik Hy met ‘n paar beelde hoe hierdie aantygings van hulle net eenvoudig nie sin kon maak nie. Soos, dat Satan mos nie teen homself in opstand sou kom nie? Eintlik was dit gruwelike, lasterlike aantygings wat hulle gemaak het.
Jesus het die slim manne aangekyk, en toe iets vir hulle gesê wat die manne se hare laat regop staan het: “Wie teen die Heilige Gees laster, kry tot in ewigheid geen vergewing nie, maar bly skuldig aan 'n ewige sonde!”
Wat presies het Jesus hiermee bedoel? Hierdie vraag het al baie mense, dikwels selfs gelowiges nagmerries besorg. Ek het al dikwels hierdie bekommerde vraag gehoor: “Het ek nie iewers dalk al onwetend teen die Heilige Gees gelaster nie? In my jong dae was ek baie roekeloos, en ek het dinge teen God gesê waaroor ek vandag bitter spyt is! Kan ek ooit vergewe word?”
As jy mooi gaan lees wat Markus hier geskryf het, dan gaan dit nie oor iets wat onnadenkend gesê was, of iets wat jy bloot toevallig gedoen het nie. Dit gaan oor iemand wat op hardnekkige wyse die verlossingswerk van Jesus aan die duiwel toeskryf. Dit gaan daaroor dat iemand God se groot genade verwerp. Ons moet baie goed onthou dat die Here nie Sy verlossingswerk op enigiemand afforseer nie. Niemand word ooit gedwing om die verlossing wat Jesus bied te aanvaar nie. In Openbaring 3:20 staan daar: “Ek staan by die deur en Ek klop.” Jesus sê nie dat Hy die deur gaan afbreek as jy nie wil oopmaak nie. Hy staan en klop, en wag. Geduldig! Dis jou eie keuse of jy gaan oopmaak!
As iemand Jesus egter volhardend verwerp, laster hy teen die Heilige Gees. Dan is hy verlore! Harde en bitter woorde!
Maar ons lees ongelukkig die ander sy van die saak dikwels mis: Al die ander sondes sal jou vergewe word! Die grootheid van God se genade is asemrowend. Sy vergifnis is duisendmaal groter as ál die ander dinge. Hoe wonderlik is dit nie om só ‘n God te kan aanbid nie!
Gebed:
Dankie Here, dat U genade ook oor my so groot is, en dat U al my sondes vergewe het.