Lank Leef die Koning!

10 January, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lank Leef die Koning!

2 Samuel 1 - 2:11

VIDEO | OUDIO

Die Koning is dood! Lank lewe die Koning!

As dit maar so maklik was! Ongelukkig het daar ‘n lang en moeilike stryd op Dawid gewag voordat hy as koning gekroon kon word in Saul se plek. Maar nou loop ek die storie vooruit…..

Dawid het die Amalakiete verslaan en met groot vragte buit kom hulle weer in Siklag aan en begin om die stad te herbou. Dawid wonder oor die geveg tussen die Filistyne en Israel - wat sou daar gebeur het? Die Here het nog elke keer vir Israel die oorwinning gegee en hierdie keer sou dit sekerlik nie anders wees nie! Dawid is rustig en positief oor die uitslag.

Twee dae later kom daar egter baie slegte nuus. Die manne bring ‘n man na Dawid toe. Die kêrel is doodmoeg en gehawend, sy klere is geskeur en daar is grond op sy kop. Hy val op sy knieë voor Dawid neer en buig laag.

“Wat is fout?” wil Dawid weet. Sy hart klop in sy keel want hier is gróót moeilikheid!

Die man begin uitasem vertel van die Israeliete wat op die vlug geslaan het en dat ‘n groot aantal manne gesneuwel het in die geveg. Maar die slegte nuus is dat Koning Saul en sy seun Jonatan ook gesneuwel het.

“Hoe weet jy dat Saul en Jonatan dood is?” vra Dawid geskok.

Dan vertel die man dat hy eintlik ‘n Amalakiet is en dat hy toevallig daar op die Gilboaberg was toe die Filistyne op Saul en sy seuns afgestorm het. Hy het gesien hoedat Saul in sy eie spies val om selfmoord te pleeg. Dit was egter nie suksesvol nie en Saul het nog gelewe. Toe roep Saul hom nader en hy smeek hom om hom dood te maak sodat die Filistyne hom nie lewendig kry nie. “Ek het hom toe doodgemaak,” vertel die man. As bewys van sy daad, gee hy vir Dawid Saul se kroon en armband. “Ek het dit vir u gebring,” vertel hy trots.

Dawid is bitterlik ontsteld. Hy skeur sy klere en rou oor hierdie driedubbele slag. Nie alleen Koning Saul nie maar ook sy boesemvriend Jonatan is dood! Boonop is sy volk, Israel ook verslaan en ’n menigte manne is dood. Dit is vir Dawid ‘n geweldige groot slag wat hom tref.

“Van waar is jy nou weer?” vra Dawid vir die man wanneer hy weer tot bedaring kom.

“Ek is nie eintlik ‘n landsburger nie,” verduidelik hy, “ek is ‘n Amalakiet.”

Dan dring dit vir die eerste keer tot hom deur dat hierdie man eintlik die een is wat vir Saul doodgemaak het. Dawid voel die woede in hom opwel. Hierdie man was nie bang om sy hand te lig teen die gesalfde van die Here nie! “Maak hom dood!” beveel hy een van sy manskappe.

Daardie aand sing Dawid weemoedig: “Jou trots, o Israel - op die hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval!” Dawid se gemoed skiet vol en die geharde soldate sit met trane wat oor hulle wange stroom wanneer hulle luister na die rou hartseer van hulle leier. “Gilboaberg! Offerland! Nóg dou, nóg reën vir julle! Waarlik, dáár is die heldeskild besoedel.” - so skeur die rou snikke deur Dawid se bors. “Hoe het die helde geval? Met wapen in die hand het hulle omgekom!”

Rou kom egter óók op ‘n einde. En daar rus ‘n reuse taak op Dawid se skouers. Hy is mos al baie jare gelede reeds gesalf as koning van Israel en nou het die tyd aangebreek dat hy daardie groot verantwoordelikheid moet opneem. Maar hoe gaan hy dit doen? Hoe gaan hy die mense oortuig dat hy die nuwe koning moet wees? Daar is maar net één pad - raadpleeg die Here! En dit is presies wat Dawid doen!

Die Here se antwoord is dat Dawid na Hebron toe moet gaan. Hebron was een van die stede van Juda na wie Dawid baie onlangs ‘n geskenk gestuur het, deel van die buit van die Amalakiete. Hulle is dus alreeds voorberei. En so trek Dawid met sy twee vrouens en al sy manskappe na Hebron, en gaan vestig hulle daar. Kort daarna word Dawid gekroon as koning oor Juda. Hy het lankal al hierdie mense se guns gewen!

Dit was egter maar net die begin van ‘n baie lang pad, want een van Saul se seuns, Is-boset het oorleef en hy word deur Abner, die hoof van Saul se leër gekroon as koning oor Israel. Nou is die volk verdeel in twee koninkryke, Israel en Juda. Dit sou nog ‘n bloedige burgeroorlog tot gevolg hê.

Inderdaad mag ‘n gelowige maar treur en selfs rou. Droefheid oor ‘n gelowige wat gesterf het, is egter anders as vir ‘n ongelowige. Dit gaan oor verlange na die persoon wat vir jou dierbaar was. Die troos is dat hy nou by die Here is en dat julle mekaar eendag weer sal sien. Wanneer ‘n ongelowige sterf, is dit egter ‘n hartverskeurende rou want hy is vir ewig verlore. Dit moet ons aanspoor om die Evangelie met elkeen te deel wat ongelowig is voordat dit vir ewig te laat is!

Gebed:

Here, gee my asseblief ‘n onblusbare passie vir verlore siele!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026