Laban is Briesend!

19 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Laban is Briesend!

Genesis 31:19-55

Die oggend van die groot trek breek aan. Jakob en sy gesin het sekerlik deurnag gewerk om al hulle aardse besittings in te pak vir die lang reis na Kanaän. Laban is weg om te gaan skaap skeer, en sy afwesigheid word met albei hande aangegryp. “Skoonpa gaan woedend wees!” glimlag Jakob. “Maar vir twintig jaar moes ek my hande vir hom deurwerk sonder eers ‘n enkele dankie! Al wat ek gekry het is mor en kla oor elke ou klein dingetjie.”

Ek dink nie enige van ons sou vir Jakob kwalik neem dat hy so skelm wegsluip sonder om Laban daarvan te laat weet nie. Maar wat hy doen is eintlik wreed en baie verkeerd. Jakom vlug dalk vir ‘n bemoeisieke, gemene ou man. Maar al is Laban ook hóé gemeen, bly dit steeds verkeerd. Hiermee vat Jakob Laban se twee dogters en sy string kleinkinders van hom af weg sonder om hom die kans te gee om hulle eers te groet. Wat het Jakob gedink? Natúúrlik het hy die Here vertrou! So lyk dit ten minste op die oog af. Die Here het hom immers die opdrag gegee om te trek! Die Here het hom egter nie beveel om skelm weg te sluip nie!

Die probleem was dat Jakob bang was dat Laban sy gesin sou agterhou. Maar dan is sy vertroue in die Here mos glad nie so groot nie? Het hy nie al teen hierdie tyd uitgevind dat God almagtig is nie?

Ek en jy doen soms presies dieselfde as Jakob. Ons sê dat ons die Here vertrou, maar dan doen ons dinge op ‘n oneerlike manier omdat ons bang is. Ons kan gaan leer van die dapper mense wat Bybels smokkel. Ek het al soveel verhale gehoor van hierdie onverskrokke manne en vroue wat met ‘n tas vol Bybels deur die doeane gaan, en selfs openlik voor die amptenaar die tas oopmaak met Bybels wat oop en bloot daar lê, en dat hierdie amptenare se oë deur God gesluit word sodat hulle nie die Bybels kan raaksien nie. Ons dien ‘n almagtige God!

Nie alleen trek Jakob skelm weg nie, maar sy lieflingvrou, Ragel besluit dat sy beskerming nodig het vir die lang pad, en sy gaan steel pa Laban se afgodsbeeldjies uit sy tent.

Dit laat ons met ‘n paar lastige vrae: Waarom het sy nog afgodsbeeldjies nodig gehad? Was God nie vir haar genoeg nie? Was sy heimlik nog afhanklik van afgode? Dit wil net nie strook nie! Dit sê ook vir ons dat Laban en sy gesin afgode aanbid het. Het hy dan oor die afgelope twintig jaar absoluut niks van Jakob geleer oor God nie? G’n wonder dat hy so ‘n onmoontlike ou man was nie!

Drie dae nadat Jakob so stilletjies weggeglip het kry Laban die nuus. Hy is woedend! Met ‘n hele leër van manne sit hy vir Jakob agterna. As hy hom in die hande kry, maak hy hom nét daar dood! So ‘n lae skurk! Nie alleen het hy sy dogters en kleinkinders gesteel nie, maar ook sy afgode! Die stokou Laban is behóórlik op die oorlogspad.

Maar weereens gryp God in. In ‘n droom waarsku Hy vir Laban om nie vir Jakob leed aan te doen nie. Alhoewel Laban ‘n afgodsaanbidder is, het hy oor die afgelope twintig jaar wel dééglik agtergekom dat jy nie hierdie God van Jakob teenstaan nie. Wanneer hy dus na sewe dae se agtervolging vir Jakob inhaal, is sy gemoed darem al ‘n bietjie gekalmeer.

As Jakob vir Laban sien aangestap kom, dan wéét hy: vandag is hier moeilikheid! Sommer so van ver af begin Laban al vir Jakob uitskel. “Wat het jy gedoen? Jy het my bedrieg!” (Kry hy nie dalk maar net van sy eie medisyne nie? Ek wonder maar net....) Sonder om Jakob kans te gee om te verduidelik, stoomroller hy voort, dat sy brose ou dogtertjies soos krygsgevangenes daar weggesleep is en dat sy kleinkinders ontvoer is. Min weet hy egter dat hulle deel was van die sameswering! Die ergste was egter dat Jakob sy afgode gesteel het! Dit was laag en gemeen!

Kom soek maar,” is Jakob se reaksie. Hy weet dat hy niks gesteel het nie. “Die een by wie jy die beeldjies kry kan maar doodgemaak word!” As Jakob maar geweet het dat dit sy liefling Ragel was, sou hy sy tong afgebyt het. Alles word deursoek, maar Laban kry niks. Ragel sit op die beeldjies en verduidelik dat sy nie kan opstaan nie as gevolg van haar maandstonde. (Wys jou net hoe min sy van hulle gedink het!)

Nou is dit Jakob se beurt om uit te vaar oor hoedat Laban hom misbruik het en hoedat hy sy hande moes deurwerk vir Laban, en hoe Laban onmenslike eise aan hom gestel het en onredelik was. Laban was die werkgewer waaroor enigeen verskriklike nagmerries sou kry! Laban staan oopmond en luister hoedat Jakob hom behóórlik die kop was. Hy het Laban leer ken, en hy het geweet dat Laban hom nie sou laat gaan nie, daarom moes hy vlug.

Uiteindelik, wanneer altwee stoom afgeblaas het, bereik hulle ‘n ooreenkoms. Dit word beseël met ’n klipstapel, ’n maaltyd en ‘n offer, en daarna gaan elkeen sy eie paadjie. Laban kry die kans om sy dogters en kleinkinders te groet, en voor Jakob lê die lang pad na Kanaän. Wat sou daar op hom wag? Dalk Esau? Jakob se hart krimp ineen. Van die een euwel na die ander euwel......

Gebed:

Here, my vertroue in U wankel ook maar dikwels. Help my asseblief om U ten volle in alles te vertrou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026