Genesis 1:26-28
Die ganse skepping wil bars van opgewondenheid, want uiteindelik is alles in gereedheid gebring vir die kroon op God se skepping.
Met groot sorg het God die heelal gevorm tot ‘n meesterstuk. Dan kom die aarde en dit word uniek gemaak sodat lewe daar gevestig kon word. Met Sy fyn kunstenaarshande vorm God die aarde en maak dit bewoonbaar. Hy vestig plante daarop om as kos te dien vir ‘n verskeidenheid diere, maar ook om broodnodige suurstof te vervaardig waarsonder diere nie kan lewe nie.
En dan, wanneer alles gereed is, vestig hy die seediere en voëls en uiteindelik ook die landdiere. Dit is ‘n absolute juweel! Die aarde, alhoewel dit maar baie klein is in die heelal, is die kroonjuweel van Sy skepping. Maar dit was nog steeds nie klaar nie. Daar was nog één laaste item op God se agenda.
Vers 25 sluit die laaste hoofstuk van die skepping van die landdiere af met die woorde: “God het gesien dit is goed!”
Dan kom die verrassende: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger.” God wou iemand op hierdie wonderlike “kroonjuweel” plaas om Hom te verteenwoordig. Daar moes iets van Homself wees in hierdie persoon, en Hy wou hom aanstel om Sy skepping te bestuur namens Hom.
In vers 27 praat God van Homself in die meervoud. Hoe moet ons dit verstaan? Die antwoord is nie so maklik nie, want ons weet net eenvoudig nie presies wat die bedoeling was nie. Die een teorie is dat hier verwys word na die Drie-eenheid, en dat Hy praat as Vader, Seun en Heilige Gees. ‘n Tweede teorie lui dat dat Hy in die meervoud van majesteit praat soos die gebruik by Persiese konings was om na hulleself te verwys. ‘n Derde teorie is dat dit ‘n gesprek in die hemelse hofhouding was met moontlik engele.
Met wie God hier beraadslaag is egter nie belangrik nie. Die beeld wat gebruik word, is wel van uiterste belang. Wanneer God sê: “Kom Ons maak die mens na ons beeld,” sien jy dadelik die prentjie van ‘n groot koning wat beraadslaag met sy raadgewers wanneer hy ‘n baie besonderse en belangrike taak aanpak.
Die mens is vir God baie besonders, en Hy word absoluut uniek geskep, totaal anders as enige van die ander skepsele. Hy word God se verteenwoordiger gemaak. Dit vertel vir ons dat daar ‘n besonderse verhouding tussen hom en God moes wees. As jy iemand verteenwoordig, stel jy jouself in daardie persoon se plek, en om dit te kan doen moet jy hom deeglik ken en moet julle mekaar verstaan. Jy sal weet wat hy sou wou hê. Jy is dus amper ‘n afbeelding van daardie persoon wie jy verteenwoordig. So was die bedoeling van God, dat die mens in ‘n besonderse verhouding met Hom sou staan en Sy wil doen. Omdat God die Koning by uitstek is, kry die mens dus ook outomaties Koningsgesag. Dus sê God dat die mens moet heers oor die diere. Hy kry volle gesag van God om te regeer oor die skepping namens God. Derdens kry hy die bevel om die aarde te vul en te bewerk.
Vandag weet ons baie goed dat mense nie almal dieselfde is nie. Maar één ding staan uit soos ‘n paal bo water uit, dat elke mens nog steeds vir God iets besonders is, nét soos met die skepping van die eerste mens. Ek en jy is steeds geskep na die beeld van God. Ons is steeds Sy verteenwoordigers, maak nie saak wie of wat ons is nie.
Die héél belangrikste element is natuurlik dat daar ‘n verhouding moet wees tussen ons en God. Hoe kom jy in so ‘n verhouding? Eenvoudig, deur geloof in Jesus Christus. Hiermee bedoel ek nie slegs om te glo dat Hy bestaan nie, maar om Hom in die geloof aan te neem as jou Saligmaker. As Sy verteenwoordiger leef jy dan Sy beeld van liefde uit teenoor God in die eerste plek asook teenoor jou medemens, soos wat Jesus vir ons kom demonstreer het. Hy het fisies op aarde kom wys hoe so ‘n verteenwoordiger behoort te lewe.
Die wonderlike is dat dit nie maar net ‘n paar uitgesoekte, spesiale gelowiges is wat God kan verteenwoordig nie, maar dat elke gelowige die vermoë kry om dit te kan doen. Jy moet jouself net gewillig verklaar. Die Heilige Gees sal jou daarin lei.
In die tweede plek gee God vir jou en my as gelowiges ook elkeen dieselfde gesag om te heers as wat die eerste mens gekry het. Die mag om te kan heers is aan my en jou toevertrou. Jy kan dus besluite neem oor jouself asook ander mense en die skepping. Maar jy moet dit altyd baie goed onthou, dat die mag om te heers ook ‘n baie groot verantwoordelikheid inhou. Dit beteken byvoorbeeld nie dat jy maar kan maak en breek soos jy wil nie. Om jou mag te misbruik en ander mense uit te buit, is totaal verkeerd.
Om te heers, beteken om met oorleg te bestuur, bou, beskerm, bewaar. Onthou, jy is die verteenwoordiger van God, en dus moet jy jouself altyd die vraag afvra of jy steeds namens God regeer en Sy belange in gedagte hou, en of dit dalk vir eie gewin gebeur.
Om te bewerk is eweneens ‘n groot verantwoordelikheid. Bewaar ek wanneer ek bewerk? Of buit en God se skepping uit?
Gebed:
Here, dankie dat ek U verteenwoordiger kan wees. Maak my asseblief ‘n waardige verteenwoordiger vir U.