Kritiek

13 March, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kritiek

2 Korintiërs 1:12-2:4

VIDEO | LUISTER

As gemeentelede maak ons onsself dikwels baie skuldig aan onnodige kritiek, sonder dat ons die ware agtergrond besef. Omdat ek self nie ‘n predikant is nie, dink ek dat ek hierdie onderwerp beslis maar mag aanroer. Die eerste plek waar ‘n prediker kronies aangeval word, is sy preke. Ek het al dikwels oopmond geluister as ‘n arme prediker se boodskap uitmekaar getrek word. “Hy herhaal te veel”, word soms gesê. (Dalk moes hy daardie gedagte nóg ‘n paar keer herhaal het, want dit het steeds nie by die hoorder ingesink nie!) Ek het al die argument gehoor, dat ‘n sekere leraar net oor liefde en genade preek, en gans te min oor sonde. Die hoorder wou ‘n regte, egte Hel-en-Vuur preek gehad het! En wanneer die leraar die dag oor sonde preek, dan is dit óók nie reg nie, want dan begin dit bitter persoonlik raak!

En dan is daar die mense wat vir die prediker wil voorskryf waaroor sy preek die volgende Sondag moet handel. Baie duidelik verstaan hulle nie hoe ‘n preek werk nie. Kom ek probeer verduidelik: ‘n Prediker sonder hom af in gebed en vra dan die Heilige Gees om hom te lei in sy voorbereiding vir die preek. Die boodskap wat hy gaan oordra is nie noodwendig wat mense graag wil hoor nie, maar mag niks anders wees as ‘n boodskap van God nie. Daarom is dit van uiterste belang dat die prediker in volle afhanklikheid van die Here, nie alleen die preek sal voorberei nie, maar ook die onderwerp kies. As die Heilige Gees hom dit op die hart lê om oor liefde en genade te preek, dan sal hy ongehoorsaam wees as hy besluit om eerder oor iets anders te preek. Aan wie moet jy meer gehoorsaam wees, mense of die Here?

‘n Tweede terrein waar predikers met die sweep bygekom word, is dikwels die aantyging dat hulle nie hulle werk doen nie. Hierdie vinger word gewoonlik gewys sonder dat die persoon hom vergewis van die ware omstandighede. Kom ons wees nou maar eerlik met mekaar: ‘n leraar is nie ‘n super-mens nie! Hy is ‘n doodgewone mens wat geregtig is om 5 dae per week en 8 uur per dag te werk. Nie één van ons, buiten die werkslawe, is bereid om meer te doen nie. Kom ons begin by die preek: Voorbereiding vir ‘n preek neem gewoonlik tussen 20 en 30 uur per week, dus byna 4 werksdae. Die vyfde dag moet hy inruim om hospitaalbesoek te doen by hospitale wat dikwels wyd verspreid is, hy moet vergaderings bywoon, preek, kategese hou, krisisbesoeke doen, sinodale verpligtinge nakom, administratiewe sake in die kerkkantoor afhandel, begrafnis hou en nog baie meer. En dan word daar van hom verwag om boonop in daardie dag ook tyd in te ruim om deur die jaar by 500 besoekpunte huisbesoek te gaan doen. Mag ek dit nou maar baie kategories stel: Dit is menslik totaal onmoontlik! Ek het ‘n insiggewende stukkie geskryf getitel: Die Dagboek van Ds. X. Lees dit gerus by chl.co.za/dsx

Ek dink Paulus het dikwels ook maar moedeloos geraak, want hy moes kritiek verduur van nie net een nie, maar talle gemeentes wat hy en sy medewerkers oor ‘n klompie jare gevestig het. Hy staan steeds pa vir elke gemeente, en hy neem hulle probleme persoonlik op. Hoe Paulus dit kon regkry, is ‘n wonderwerk!

Hier sit hy nou juis weer met ‘n reuse kopseer, met die gemeente in Korinte. Dinge gaan nie lekker daar nie, en dan het die gemeentelede boonop nog die vermetelheid om hom te kritiseer en sy werkmetode te bevraagteken. Hy het dan nou belowe dat hy hulle sou kom besoek, en toe doen hy dit nie. Waarom? Hy versuim sy pligte! Waarom kom doen die Dominee nie by my huisbesoek nie? Hy versuim sy plig! Werklik? Boonop verstaan hulle nie alles wat Paulus skryf nie. Hy beter maar persoonlik kom verduidelik, as hy weet wat goed is vir hom!

Paulus verduidelik dat hy opgetree het met openhartigheid en eerlikheid wat van God kom. Boonop durf hy hom nie deur mense se wysheid laat lei nie, maar alleen deur die genade van God (v 12). “Ek hoop net julle sal ons eendag heeltemal verstaan,” sug Paulus.

Paulus word beskuldig van wispelturigheid en onbetroubaarheid, omdat hy nie die gemeente besoek het soos belowe nie. Wanneer hy hulle hieroor antwoord, gaan soek hy eers die fout by homself. Was hy dalk oorhaastig? Of as gevolg van menslike oorwegings? Maar dan kom hy tot die slotsom dat hy geluister het na die Here, want as hy die voorgenome besoek gemaak het, sou hy nie die wil van die Here gedoen het nie!

Die Here se boodskap hieruit vandag aan jou en aan my, is dat ons baie mooi moet dink voordat ons sommer wild begin kritiseer. En dan wil ek sommer byvoeg, dat dit nie net oor die leraar gaan nie, maar ook in die algemeen. Vergewis jou eers dééglik oor die omstandighede voordat jy beskuldigings begin rondgooi. Maar dan is daar ook ‘n tweede faktor wat ons in gedagte moet hou: wat is die wil van God? Wie van ons durf vir die Here voorskryf wat Hy moet doen en wat nie, en wat Hy vir ons mag sê en wat nie? Hy is immers die HERE!

Gebed:

Here, plaas asseblief ‘n wag voor my mond, en laat my tweekeer dink voordat ek kritiek uitspreek!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026