Matteus 14:13-21
Johannes is diep geskok toe hulle die nuus kry van sy naamgenoot, Johannes die Doper se grusame en onverstaanbare moord. Dit het die gemeenskap geskud! Selfs Jesus is diep daardeur getref, sovéél só dat Hy net alleen êrens wou wees op ‘n stil plek waar niemand Hom pla nie. Mens het mos soms nodig om jou net ‘n bietjie af te sonder van die wêreld om alleen met God te kan wees, sodat jy weer perspektief op die lewe kan kry.
So klim Jesus en Sy twaalf leerlinge in ‘n skuit en roei na ‘n eensame plekkie. Só maklik kom hulle egter nie van die hongerige skares mense af weg nie. Toe hulle weer sien, is daar al klaar weer ‘n reuse skare wat om hulle saamdrom. Jesus se oomblik van stilte was van bitter korte duur. Die nood onder die mense is groot, en daar is baie wat desperaat is om genesing te kry, maar dan is daar ook talle wat kom net om vir Jesus te hoor praat, want sy woorde is soos salf op die sielewonde.
Johannes en sy maters begin onder mekaar brom. Dit word laat, en hulle is dan nou juis op so ‘n afgeleë plekkie. Waar gaan al hierdie mense kos vandaan kry? Johannes is die jongste, en hy word afgevaardig om iets in die Meester se oor te gaan fluister. Dit lyk nie of hulle Meester óóit bewus is van die situasie nie. Jesus laai egter die probleem vierkantig op die twaalf se eie skouers af: Húlle moet sorg vir kos!
Die manne skrik hulle yskoud. Dis ‘n groot klomp mense hier bymekaar! Hulle maak vinnig ‘n skatting: hier is minstens vyfduisend mans! Dan het hulle nie eers al die vrouens en kinders ook bygereken nie! Maklik vyftienduisend mense in totaal! Dis skrikwekkend!
Johannes-hulle raap en skraap, maar die enigste kos wat hulle in die hande kry, is ‘n jong seuntjie se padkos. Die vyf broodjies en twee vissies wat hulle mee vorendag kom is lagwekkend belaglik! Daar is nie eers genoeg vir die twaalf van hulle nie!
Jesus se reaksie? Sonder om te bekommer oor waar alles vandaan gaan kom, dank Hy God vir die kos, en begin uitdeel. Johannes se oë rek! Hy kan nie glo wat hy sien nie! Die kos gaan met die ry af, maar dit word net eenvoudig nie minder nie! Waar kom alles skielik vandaan? Elkeen van die derduisende mense wat daar sit, kry ‘n stukkie van hierdie drie miserabele ou gesoute vissies. Ek dit lyk of die brood net al meer en meer word!
Uiteindelik is daar oorgenoeg vir almal. Johannes merk dat daar uiteindelik soveel brood was, dat die mense nie alles kon opeet nie. Op Jesus se bevel, stuur hulle mandjies om vir die brood wat oorgebly het. Daar is ‘n volle twaalf mandjies vol!
Wat het hier gebeur? Daar was ‘n groot nood, en die manne het na Jesus gegaan vir hulp. Hulle het besef dat hulle uit eie krag niks kon doen nie. Jesus gee hulle ‘n opdrag om aan die werk te spring en iets positief te doen: hulle moet vir die mense voorsien. Hulle het nie maar op ‘n hopie gaan sit en sê dat dit tog absoluut onmoontlik is, en dat dit tog nie eers sal help om te probeer nie! Nee, hulle het begin rondvra wie kos daar het. Hulle het met ander woorde pro-aktief opgetree. Dít wat hulle in die hande kon kry, het hulle vir Jesus gegee. Met hulle karige ou bietjie het Hy die wonderwerk laat gebeur.
Oor die afgelope klompie jare het daar oral in ons land sopkombuise opgespring. Mense het die groot nood van werkloses, armes en wesies raakgesien en besluit om te help waar hulle kan, al het baie van hulle nie eers geweet waar om te begin om die middele te kry nie. Daar is talle verhale van brandarm mense wat so ‘n sopkombuis met absoluut niks begin, en dan uitvind dat die kos en fondse om die kombuis te bedryf op wonderbaarlike wyse voorsien word. As jy egter gaan kyk watter metodes God gebruik om te voorsien, sal jy gou agterkom dat die kos en geld nie sommer maar uit die lug val nie. God vra van ons om aktief op te tree. Om ‘n voorbeeld te noem: jy sal byvoorbeeld na ‘n groot supermark gaan en aan die bestuurder verduidelik wat jy besig is om te doen. Dan vra jy vir skenkings of vir kos wat nie meer in ‘n toestand is om te verkoop nie, byvoorbeeld groente wat begin verlep. Die wonder kom wanneer God in daardie bestuurder se hart werk en hy besluit om te voorsien. Voor jy jou kan kry is daar ‘n kettingreaksie wat jou verstom.
Die belangrike dinge om te onthou is:
1 Bring jou nood na God in geloof dat Hy kan help.
2 Sit sélf skouer aan die wiel, en doen wat Hy van jou vra. Moenie maar net gaan sit en hoop dat hulp uit die lug sal val nie.
3 Glo dat God op die regte tyd en deur die regte kanale sal voorsien.
4 Dank God wanneer die “manna en kwartels” op jou neersif, dikwels uit die mees onverwagte oord.
5 Gee aan God al die eer, want alleen Hy kan voorsien, al lyk dit soms vir jou of dit uit ‘n suiwer menslike oord kom.
Gebed:
Here, vanoggend moet ons net weereens besef dat U almagtig is en dat U voorsien in al ons behoeftes. Help my asseblief om my volle vertroue in U te plaas.