Kos Gee Groei

3 June, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kos Gee Groei

Hebreërs 5:11-6:3

Ons kleinkind is twaalf jaar oud, en natuurlik die skatlikste meisietjie in die hele wêreld! Met groot belangstelling let ek op hoe sy oor die afgelope twaalf jaar ontwikkel het: daardie eerste keer dat ek vir klein Zoë gesien het in die hospitaal, ‘n pap ou dingetjie wat skaars haar ogies kon oopmaak. Die ou sprinkaanbeentjies was om van te huil! En die boudjies, kleiner as hoenderboudjies! Maar toe begin sy mos suip! Melk by die liters, tot vervelens toe. En nes jy dink dat sy nou genoeg gehad het, dan begin sy weer van voor af! Skree dat die berge weergalm as jy nie betyds die volgende sarsie gereed het nie. Skaars drie maande later lyk daardie einste sprinkaanbeentjies al so ampertjies soos dié van 'n ballet danseres. Soos ‘n spons neem sy haar omgewing waar en bêre die inligting vir toekomstige gebruik. Klanke fassineer haar, en alles wat beweeg. Tog so jammer dat hulle nie vir altyd so klein en skatlik kan bly nie!

Twaalf jaar het verby gegaan, en die melk het plek gemaak vir regte, egte kos - vleis en groente en alles wat gesond is. En ek dink: As Zoë wél so klein gebly het, dan was daar ‘n reuse probleem.

Jare gelede was daar saam met my op skool ‘n meisie wat fisies nooit groot geword het nie, Jenny. Toe ons hoërskool toe is, het sy steeds gelyk soos ‘n vierjarige dogtertjie. Sy was pragtig, skatlik, en almal wou haar opvreet, maar sy het ‘n baie groot probleem gehad. Voordat sy mondig geword het, is sy dood. Tragies!

As ‘n baba nie groei nie, is daar probleme. As ‘n gelowige nie geestelik groei nie is daar óók probleme. In die geestelike lewe is daar nie stilstand nie, óf jy groei, óf jy kwyn weg. Dit is soos ‘n topfiks atleet: as hy nie aanhou oefen en oefen nie, verloor hy sy fiksheid en hy kwyn weg. Geleidelik gaan sy toestand agteruit. Oefening is nie altyd lekker nie, want dit verg opoffering en dissipline.

Die ander kwessie wat aangespreek word is die baba se kos: vir die eerste paar maande kan hy net melk baasraak, en dit doen hy nogal baie goed! Maar dan begin hy met babakos, en geleidelik word dit al growwer en taaier, totdat hy uiteindelik ‘n stuk tawwe biltong met gemak kan kafdraf. Baie gelowiges kom selde verder as die Psalms en die Saligsprekinge, want hulle het nog nooit geleer om die moeiliker dele van die Bybel te lees nie. Openbaring is só ‘n skrikwekkende Boek, dat hy nooit eers oopgemaak word nie. As daar Bybel gelees word, is dit maar net ‘n ou stukkie om die gewete te sus, en daar word nooit in diepte besin oor wat God eintlik vir jou wil sê daardeur nie. Vir ‘n huweliksverrykingskursus sien jy dalk nog kans, maar van Bybelskool bly jy baie ver weg, want dit is hééltemal bokant jou vuurmaakplek!

Waar begin ek? ‘n Goeie beginpunt is om die Bybel saam met ‘n goeie kommentaar te lees. Die Bybellennium vind ek uitstekend, want dit gee ‘n behoorlike agtergrond en verklaar ook meeste moeilike begrippe. Dit pas ook die gedeelte toe op vandag se lewe. Met so ‘n kommentaar begin die Bybel vir jou sin maak. Skakel in by 'n goeie Bybelskool. Daar kry jy 'n grondslag wat Bybellees vir jou 'n nuwe avontuur maak. Die belangrikste is egter dat dit alles in biddende afhanklikheid van die Heilige Gees gedoen word, anders beteken al hierdie dinge net mooi niks!

Vaste geestelike kos laat jou geestelik groei. Maar nou moet jy versigtig wees dat jy nie net in die wydte groei, en geestelik vet word nie. Saam met kos kom oefening. Daardie “vet” moet omgesit word in “spiere” sodat jy geestelik nuttig kan word. Wees bereid om ook te gesels oor die dinge wat jy leer. Deel dit met ander, en bespreek dit. Nie alleen verryk jy ander mense met jou kennis nie, maar sodoende anker dit ook vas in jou eie lewe. Iets wat jy net gelees het, vergeet jy gou, maar as jy dit met iemand anders bespreek het, word dit permanent in jou geheue vasgebrand. ‘n Bybelstudie- of selgroep is van onskatbare waarde, want hier kan jy dit wat jy geleer het met ander deel, maar terselfdertyd ook weer van hulle leer.

Verder moet jy die dinge wat jy leer, fisies uitleef. Byvoorbeeld, Filippense 4:4 sê dat jy in alles bly moet wees. ‘n Pragtige gedagte! Leef jy dit egter doelbewus aktief elke dag uit, dan gee dit jou nie alleen ‘n wonderlike positiewe gemoedstoestand nie, maar jy het ’n positiewe invloed op die mense met wie jy in aanraking kom.

Daar is baie maniere om die Woord uit te leef. Wees kreatief, en luister na wat God vir jou sê. Stuur byvoorbeeld hierdie dagstukkie na soveel mense moontlik. As jy oefening jou passie maak, kan dit baie lekker wees. Dit hoef nie ‘n straf te wees nie! Geestelike oefening kan ‘n heerlike avontuur wees - myne is opwindend! Ek daag jou uit om vandag daarmee te begin!

Gebed:

Dankie vir al die geestelike kos wat U vir my gee, Here. Help my asseblief om geestelik aktief te wees en elke dag U Woord prakties uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026