Keuses en Beloftes

15 November, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Keuses en Beloftes

Genesis 13:10-18

Soos ons in die vorige dagstukkie gesien het, het Lot sy keuse gemaak. Die Jordaanvallei was mooi en vrugbaar, en daar was volop water. “So volop soos ‘n tuin van die Here,” word dit vir ons beskryf in vers 10. Dit was waarlik die paradys waarin Lot hom sou begewe. Maar daar is ‘n onheilspellende klankie in hierdie opmerking, want in die tuin was daar ook ‘n slang, ‘n baie listige slang: die duiwel. Om die onheil hiervan te versterk, voeg die skrywer ‘n vergelyking met Egipte ook by. Natuurlik was dele van Egipte, veral die delta en die Nylgebied, ook uiters waterryk en vrugbaar. Maar daar sis die slang nog selfs listiger as in die paradys.

Dan slaan die skrywer die pen reg in die hart, as hy noem van die twee stede, Sodom en Gomorra, waarvan ons later meer in die verhaal sal hoor. Hierdie twee stede was só sondig dat God nie anders kon as om hulle totaal te vernietig nie. “Die inwoners van Sodom was sleg,” word daar vertel in vers 13. “Hulle het baie gesondig teen die Here.”

Lot het sy keuse gemaak. Op die oog af was dit ‘n baie goeie keuse van oorvloed en potensiële rykdom. Maar was dit ‘n wyse keuse? Hy moes sékerlik al teen hierdie tyd die gerugte gehoor het oor Sodom? Waarom het hy juis by hierdie hool sy tent gaan opslaan?

Maar nou skuif die fokus van die verhaal weereens na ons geloofsheld. Abram staan op ‘n hoogtetjie naby Bet-El. Dit is ‘n helder dag. Kyk hy noord, sien hy die eindelose heuwellandskap. Baie, baie ver kan hy net-net die spits van berg Tabor sien. Vir sy ouderdom is sy oë nog baie skerp. Abram draai suid, en sy oë volg dieselfde bergreeks tot waar dit verdwyn in die eindelose woestyn. Iewers op hierdie bergreeks sal hy sy vee moet laat wei. Nou nie juis ‘n goeie vooruitsig nie, want die aarde is maar dor hier bo. Abram verskuif sy blik na die weste, en daar op die horison sien hy die see, uitgestrek tot in die oneindigheid. “Wat lê anderkant daardie massa water?” wonder die ou grysaard.

Dan draai hy oos met groot kommer in sy hart. Daar ver onder, ‘n volle 1300m laer as die hoogland waar hy staan, kronkel die lowergroen slang van die Jordaanvallei tot waar dit doodloop in die Dooie See. ‘n Mooi prentjie, maar terselfdertyd ‘n onheilspellende een.

Abram”, hoor hy skielik die stem van die Here in hom, en hy word gevul met groot ontsag. “Abram, die hele landstreek wat jy kan sien, gee Ek vir jou en jou nageslag.” Abram se mond hang oop: “Here, is U ernstig?” wil hy vra, maar hy is stomgeslaan. So verskriklik baie? Wat gaan hy met so baie grond maak? Hy kan dit mos onmoontlik nie alles gebruik nie? Nou het Abram totaal vergeet van sy probleme met Nefie Lot. Die stem van God weergalm deur sy binneste: “So ver as wat jy kan sien!” Abram kyk weer, net om dóódseker te maak, en wat hy sien is ‘n baie groot stuk aarde. Is dit ooit moontlik? Maar dan dink hy: die Here het hom mos drie beloftes gegee. Die eerste was groot rykdom. En kyk net waar sit hy vandag! Ten spyte daarvan dat hy so groot drooggemaak het en ten spyte daarvan dat hy die Here so bitterlik teleurgestel het, het hy steeds soveel rykdom dat hy nie weet wat om daarmee te maak nie. As die Here dít vir hom kan doen, is hierdie stuk eiendom mos ook nie te vergesog nie.

Dan hoor hy wéér die stem van God: “Ek sal jou nageslag maak soos die stof van die aarde.” Nou begin dit vir Abram sin maak. As sy nageslag so baie gaan wees soos wat God belowe, sal hulle hierdie hele stuk aarde mos nodig hê vir blyplek. Hy wat Abram is sal darem nou iets moet begin doen om daardie derde belofte te laat inskop, want sy jare begin nou vinnig aanstap. Sarai is boonop nie meer die jong dingetjie wat hy daar in Ur getrou het nie. Dan skud Abram die gedagte af: “God sal sorg!” Hy bly dit vir homself sê, maar iewers knaag daar tóg die hele tyd ‘n stukkie twyfel.

Abram,” praat die Here weer. “Gaan trek nou deur die hele land, oor sy lengte en breedte, want Ek gee dit vir jou.”

Pak op Sarai,” gee hy nog dieselfde middag opdrag aan sy moedelose vrou wat wonder wat haar ou man dan nóú weer pla.

As hy tog net nie weer iets onbesonne gaan aanvang nie,” sug sy, maar hierdie keer doen Abram wat die Here vir hom sê, en hy verskuif sy reuse trek tot by die groot bome van Mamre, waar hy tent opslaan en ‘n altaar bou vir die Here.

Anders as Lot, het Abram reg gekies. Sy onselfsugtige keuse was wat God van hom verwag het, en daarom word die beloftes herhaal. Hierdie slag gebeur dit egter net baie meer grafies en duidelik, soveel so dat Abram gesnak het na sy asem in verwondering.

Die Here maak ook aan my en jou beloftes. Hy laat ons ook met keuses. Glo ons die beloftes met alles binne-in ons? En wat maak ons met ons keuses? Met hierdie twee vrae wil die Here ons die dag instuur.

Gebed:

Here, dankie vir die asemrowende beloftes wat U aan my gemaak het. Ek glo dit met elke greintjie in my. Heilige Gees, lei my asseblief om die regte keuses in my lewe te maak.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026