1 Johannes 2:3-11
Sien die dagstukkies op YouTube
My dienspligdae het in relatiewe vrede gebeur. Daar was nog nie ‘n grensoorlog nie en natuurlik was die tweede wêreldoorlog toe al jare verby (ek is darem nou nie só oud nie!) Diensplig was vir die oorgrote meerderheid troepies ‘n nare ding waar ons teen ons wil ingedruk was en wat ons so gou moontlik wou verbykry met die absolute minimum moeite, iets waarin ek nogal baie goed geslaag het! As jy jouself uit die een of ander taak kon uitwurm, dan het jy dit gedoen. Met oorgawe! Die moordende wagstaan dwarsdeur die nag, dikwels in gietende reën in ‘n voertuigpark vol stokou vragmotors en spoke wat die deure vir jou oopmaak, was ‘n meulsteen om jou nek. Waarvoor en teen watter vyand moes ons in elkgeval hierdie hoop gemors bewaak? En dan was daar die drilwerk waar die gehate sersant ons gedryf het tot ons neerslaan. Die sin daarvan kon ek net nie insien nie! Hoë offisiere soos die brigadier of generaal, dié het ons nooit met ‘n oog gesien nie. Hulle was baie ver verhewe bo ons. Daar was in elkgeval géén liefde verlore tussen ons nie!
Uiteindelik was die nege maande verby. Maar toe kom tien jaar van drieweek-kampe, waar jou kosbare verlof opgeoffer moes word om die een of ander simpel offisier in die stowwerige vlaktes van Potchefstroom te gaan gelukkig hou. Die offisiere het vanuit hulle gemakstoele ons arme troepies in die verdorde aarde in verskree, terwyl ons moes krepeer van die ellende!
Maar een kamp was anders: Dit het begin toe ‘n verskriklike storm ons amper weggespoel het. Bevrees het ek in my tent gelê en wag vir die ergste om te gebeur. Toe hoor ek die stem van ons kamp bevelvoerder wat in die gietende reën van tent na tent loop om te verneem of ons troepies kop bo water gehou het. Deur sy opofferende aksie het ons soveel respek gekry vir die man, dat ons vir die res van die kamp ons beste gelewer het om dit suksesvol te maak. Deur die duur van die kamp het ons hom leer ken as iemand wat waarlik vir ons omgegee het. Vir ons troepies was die kamp ‘n plesier en ons het dit geniet om ons take met oorgawe deur te voer. Vir ons bevelvoerder sou ons énigiets doen!
Vanoggend is die brandende vraag: Ken jy God? Dalk sou jy antwoord: “Wat vir ‘n soort van vraag is dit dan? Natuurlik ken ek Hom!” Dink eers mooi voordat jy te vinnig antwoord. Vir baie gelowiges is God Iemand daar bó, baie hoog verhewe bo ons nietige aardse wesens. Dikwels doen gelowiges die absolute minimum om God maar net so op ‘n manier gelukkig te hou - jy gaan kerk toe, lees die Bybel, prewel ‘n gebed en sing in die kerk. Jy probeer sonde vermy, anders kan jy dalk gestraf word!
As dit is hoe jy God ken, dan wag daar ‘n groot verrassing op jou! God is in die eerste plek nie soos daardie generaal wat homself verhef bo die armsalige troepies nie, maar Hy bemoei Hom met my en jou persoonlik. Hy gee waarlik om vir ons. In Jesus Christus en die Heilige Gees is God by en in ons. Wanneer ons nood beleef is Hy daar om ons hand vas te hou en ons te dra. Wanneer ons vreugde beleef is Hy met ons om dit te deel. Hy is immers ons Vader, ons “Pappa”. Die vraag is hoe ek en jy reageer op God se persoonlike handelinge en aandag met ons. Doen ons slegs die minimum om die straf vry te spring?
Net so terloops: God straf nie gelowiges nie!
As ons God waarlik ken, sal ons mos alles in die stryd werp om Hom gelukkig te maak. Nie om onsself daardeur te bevoordeel nie maar omdat ons gesien het dat Hy bereid was om Homself vir ons op te offer. Uit suiwer dankbaarheid sal dit vir ons net lekker wees om te doen wat Hy vra, soos byvoorbeeld om Sy gebooie te onderhou. Die vraag is: wat is God se gebooie? “Jy mag nie doodslaan nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie.....” Nee!
God se gebooie kan in een enkele woordjie opgesom word: LIEFDE! As jy waarlik vir God lief is, sal jy beslis niemand anders dien of aanbid as God alleen nie. Die okkulte dinge soos byvoorbeeld die sterrevoorspellings sal uit jou lewe verdwyn, want dit is soos om ander gode te aanbid. Natúúrlik sal jy dan God se heilige Naam met respek en eerbied gebruik. En as jy daardie selfde liefde toepas op jou medemens sal jy niks doen om enigiemand te benadeel nie. Jy sal nie steel, seermaak, skinder, egbreuk pleeg of wat-ookal nie, maar jy sal eerder aktief daarna streef om goed te doen aan almal wat oor jou pad kom!
Die natuurlike uitvloeisel uit so ‘n dankbaarheidslewe is dat daar ‘n besonderse liefdesband sal groei tussen jou en ander gelowiges, want hulle is jou familie. Hulle is jou boeties en sussies in Jesus. Ten spyte daarvan dat ons nie almal dieselfde dink oor alles nie, bind daardie familieband ons met ‘n liefde wat alleen in Jesus, ons Verlosser en Saligmaker moontlik is.
Ken jy waarlik vir God? Dan kan jy nie anders as om Sy gebooie te onderhou nie!
Gebed:
Here, dankie vir die wonderlike voorreg wat U my gegee het om U te kan ken. Wys my asseblief hoe ek U beter kan dien!