Lukas 22:1-6
Wat maak dat een van jou intieme vriende jou verraai of in die rug steek? Oor Judas Iskariot is daar al baie gepraat, gegis en geskryf. Die vraag is op elke gelowige se lippe: wat het hom gedryf tot daardie verfoeilike daad, om Jesus te verraai?
Daar is baie teorieë, en ons moet dalk ‘n bietjie kyk na die moontlikhede. Lukas noem bloot dat die duiwel in Judas ingevaar het, en dat hy toe na die kerkleiers gegaan het om sy dienste aan te bied. Oor die man Judas word daar maar min geskryf in die evangelies. Petrus en Johannes is die manne wat elke keer op die voorgrond is, en meeste van die ander dissipels word slegs per geleentheid genoem. Die enigste wat ons egter van Judas hoor, was toe hy geprotesteer het toe Jesus gesalf was. Hy was van mening dat die geld vir daardie olie beter gebruik kon word. Hy was die dissipels se tesourier, en al het hulle hom toevertrou met hulle beursie, het dit tóg deurgeskemer dat hulle hom nie werklik vertrou het met hulle geld nie. Dit wil tóg lyk asof geld by hom ‘n obsessie was. Ons sien dat hy met die kerkleiers onderhandel het vir betaling as hy Jesus sou verraai!
Wat was Judas se motief om Jesus vir drie jaar lank getrou te volg? Was hy nie dalk tóg hart en siel saam met die ander elf nie? Ek dink dat Judas aan die begin, toe hy geroep was deur Jesus, nét so opgewonde was oor sy roeping as sy ander maats. Toe dit begin deurskemer het dat Jesus in werklikheid die Messias was, was sy opgewondenheid sekerlik nóg groter. Die een teorie is dat Judas dalk ‘n Seloot was, ‘n groep aktiviste met ‘n baie sterk Joods-nasionale besef. Op sigself was dit seker nie verkeerd nie, maar hulle was dikwels fanaties oor hulle nasionalisme, en dan het hulle nie geskroom om gewelddadig te raak teen vyande van die volk nie. Hulle het dikwels selfs teen die gematigde Jode opgetree! Een van Jesus se twaalf dissipels, Simon was beslis wél ‘n Seloot, so lees ons in Lukas 6:15. In Handelinge 5:37 lees ons van ‘n sekere Judas wat ‘n opstand gelei het onder die vaandel van die Selote.
Die Selote het ‘n baie sterk Messiasverwagting gehad, en hulle het geglo dat hierdie Messias die Jode sou kom bevry van die Romeinse oorheersing. Dalk was dit ook Judas se verwagting, maar Jesus het hom bitterlik teleurgestel. Toe Jesus triomfantlik Jerusalem binnegery het, het daar vir hom darem weer ‘n bietjie hoop opgeflikker, maar baie gou moes hy maar net weer sien dat Jesus nie gekom het om oorlog te maak nie maar om te ly.
En toe knak hy!
Die duiwel se skerp ogies het Judas se teleurstelling baie gou raakgesien, en toe buit hy dit uit. Judas het natuurlik geweet dat die spul priesterhoofde en skrifgeleerdes gebrand het om Jesus in die hande te kry, maar dat hulle bang was vir die volk. Ons het gesien dat Jesus steeds ‘n baie sterk aanhang gehad het by die volk en daar was gedurig ‘n skare mense om Hom saamgedrom. As die kerkleiers sou waag om Jesus daar gevange te neem om verhoor te word, sou die volk hulle verskeur. Dit het Judas ook wel deeglik besef. Die enigste manier om Jesus te kry waar daar nie ‘n spul aanhangers by Hom was nie, was om Hom te gaan uitsnuffel daar waar Hy en die twaalf oornag het. Saans, na die gewoel van die dag, het Jesus en sy dissipels vir hulle ‘n lêplekkie gaan soek iewers op die Olyfberg, en slegs een van die intieme binnekring het geweet waar hulle sou wees.
En so bied Judas dan sy dienste aan - teen ‘n prys natuurlik! Hy sou hulle wys presies waar om Jesus veilig te arresteer.
Hierdie verhaal hou ‘n baie ernstige waarskuwing in vir elke gelowige vandag. In die eerste plek moet ons doodseker maak van ons motiewe om Jesus te volg. Waarom doen ek dit? Waarom is ek ‘n Christen? Is dit om my van die hel te red? Of is dit dalk om iets daaruit te kry? Moontlik rykdom, gawes, voorspoed, geluk, roem ens. As dit my motief is, dan is ek in die moeilikheid! Ons enigste motief behoort te wees om God te verheerlik!
Tweedens moet ons baie versigtig wees dat ons passie vir Jesus nie verflou nie. As jy eers teruggesak het, verg dit van jou baie harde werk om weer jou ywer vir Jesus terug te kry. Ek het al so dikwels die tragiese moes aanskou van ywerige gelowiges wat alles deur hulle vingers laat glip het. Dit gee vrugbare grond vir die duiwel om sy saad van vertwyfeling te saai. Die einde kan afgryslik wees. Die duiwel is genadeloos, en sal elke terugsakkende gelowige met al sy krag uitbuit. Judas was een van menige slagoffers van die duiwel!
Dus: sorg dat jou motiewe suiwer is, en moenie óóit ophou om ywerig aan jou geloof te werk nie!
Gebed:
Here, ek wil U dien en aanbid omdat U vir my lief is en omdat U die enigste ware God is.