1 Tessalonisense 5:16-28
Paulus druk dit vir ons op die hart in 1 Tessalonisense 5:16: “Wees altyd vol blydskap.” In Filippense 4:4 sê hy dieselfde: “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!” As ek en jy maar net so sorgvry en opreg jubelend-bly soos die veervolkies en ander diere van die veld kan wees. En nou verlang ek darem met ‘n seer hart na die bos - ons was jare laas daar! Op 14 September 2008 maak ek die volgende inskrywing in my dagboek:
Ek sit vanoggend op ons boshuisie (Duikerdoedoe) se stoep, met die vuurrooi son wat met een oog loer tussen die deurmekaar takke van die doringbome deur. Hy mik-mik maar nog so oor die horison, en hy kleur die lug met sagte skakerings van oranje, rooi en geel. ‘n Groenvlekduifie kla steen en been dat die dag alweer so verskriklik warm gaan wees - hy voel dit aan in sy twee vuurhoutjiebeentjies: “Die dag, O, die dag gaan warm wees - ek voel dit aan, my liewe mens....” Die oggendluggie het ‘n byt in hom, en jy kan amper nie dink dat dit gister so warm was nie, die Laeveldson het ons gekook, met ‘n hoofletter OOO, seker hier in die veertigs gewees. En dis ontsettend droog. Die arme rooibokkies lyk soos geraamtes, smagtend na ‘n bekkie vol groenigheid. Maar daar is niks, net die kaal, dorre, songebakte grond.
Nogtans is daar ‘n jubeling in die lug. ‘n Paar tiptolle kwetter opgewonde as hulle ‘n appel ontdek wat ek in ‘n boomtak vasgesit het, en ‘n grootoog duikertjie kom skugter nader, op soek na ‘n paar mieliepitte. Iewers sing ‘n Swartkop Wielewaal sy hart uit, terwyl ‘n patrysie luidkeels die aanbreek van die nuwe dag verkondig, so asof almal nie al rééds weet dat die nuwe dag daar is nie. Op die oog af is die bos dood en dor, maar die jubelsang weerklink oorweldigend, en weergalm tussen die dorre takke deur. ‘n Hoep-hoep, ‘n paar luidrugtige kakelaars, ‘n visvangertjie en ‘n paar uitbundige kolganse wat baljaar langs die Groot Krokodil, almal sing opgeruimd en vrolik. ‘n Twintigtal tarentale huppel verby. Hoe kan almal so vrolik wees terwyl dit so swaar gaan? Die son het intussen sy rooi nagkombersie afgegooi, en hy hang witwarm bo die boomtoppe. “Vandag gaan ek julle skroei!” sis die son. “Dis lekkeeerrrrrr in die bos!” kwetter die tarentale opgewonde. ‘n geelbek neushoring sukkel om aan die gang te kom, soos ‘n dieselenjin op ‘n koue oggend, maar as hy eers gevat het, is daar nie keer aan hom nie. Ek hoor selfs ‘n bloukuifloerie wat uitbasuin dat die bos nie so ‘n slegte plek is om te bly nie, ten spyte van al die swaarkry.
Wat maak dat almal so gelukkig en opgewonde en uitbundig is? Kan hulle nie sien dat dit bitter swaar gaan nie? Kan hulle nie die knellende droogte sien nie? Dalk is die antwoord opgesluit in die liedjie wat ek laasnag gehoor het: “Liewe Heer, bewaar ons tog!” die smeekgebed van ‘n naguiltjie. Toe ek vanoggend opstaan, weerklink sy gebed steeds: “Liewe Heer, bewaar ons tog!” Is dit dalk die rede waarom die rooikop houtkappertjies hulle borrelende duet vanoggend kan sing, al is daar nie ‘n enkele vrug vir hulle om te eet in die dorre veld nie?
In gister se dagstukkie het ons dit reeds vir mekaar gesê, maar dit is nodig dat ons dit weer sê, want dit is so ontsettend belangrik. Blydskap sien ons in die natuur, en dit moet ons aanspoor om dit deel van ons lewe te maak.
Die ander baie belangrike ding wat Paulus sê, en wat ons gerus maar kan herhaal, is: “Moenie ophou bid nie!” (vers 17). Soos die naguiltjie heelnag deur gebid het, moet ons dit deel van ons lewe maak, om te bid, heeldag deur. Maar dan vra Paulus ook in vers 25 dat die gemeente vir hom en sy medewerkers moet bid. Ja, selfs die grote Paulus het voorbidding nodig. Hoeveel te meer elke werker in die wingerd van God, elke sendeling, leraar en evangelis. Dit is veral die mense wat bereid is om die Woord uit te dra wat nodig het om gedra te word deur ons gebed, sodat hulle krag sal hê om die wonderlike boodskap te versprei.
Wanneer ons hierdie dinge in ons lewe begin regkry, dan sal ons die wonderlike vrede van God begin ervaar, die vrede waarvan Paulus in sy groeteboodskap in vers 23 praat. Vrede is nie iets wat deur mense bewerkstellig word nie. Dit is God alleen wat ware vrede kan bewerk.
Paulus sluit sy brief af met die vertroostende seën: “Mag die liefdevolle goedheid van ons Here Jesus Christus met julle wees.” Dit is dan ook my gebed vir jou, liewe leser, dat jy vandag daardie liefdevolle goedheid van Jesus sal ervaar. Dit gaan egter slegs gebeur as jy self skouer aan die wiel sit en die dag vir jouself positief en jubelend en dankbaar maak. Die Sleutel hiervoor is Jesus!
Gebed:
Here, ek borrel vanoggend van opgewondenheid oor hierdie wonderlike dag wat vir my voorlê. Dalk gaan dit ondraaglik warm wees, maar die blote wete dat U saam met my is, is vir my genoeg om dankbaar en jubelend te wees!