Lukas 23:50-56
Dit was die langste, droewigste Sabbat óóit in Johannes se ganse lewe. Na die vorige dag se nagmerrie het nie een van die manne kans gesien om weer terug te gaan na Getsemane om daar onder die bome te slaap nie. Boonop was Lasarus en sy twee susters, Martha en Maria só stukkend, dat die manne besluit het om daar in hulle huisie in Betanië te gaan oornag.
Van slaap was daar géén sprake nie. Almal het maar so op die vloer rondgesit, elkeen besig met sy eie gedagtes. Hulle het mekaar getroos, en dit was veral Maria, Jesus se moeder wat báie troos nodig gehad het.
In die vroeë oggendure sit Johannes met sy rug teen die muur met oë wat stokstyf voor hom kyk. Hy skud sy kop heftig, so asof hy die aaklige gedagtes wil probeer uitskud, maar dit wil nie werk nie. Elke riller- detail speel oor en oor voor hom af. ‘n Droë traan rol oor sy wange. “Daar is darem één lid van die Joodse Raad met ‘n goeie hart,” verbreek hy die stilte.
Almal se koppe draai na hom toe. Petrus het ‘n groot vraagteken op sy gesig. “Josef,” sug Johannes. “Josef, die man uit Arimatea.”
Nadat Jesus gesterf het, het die bedremmelde groepie vroue en dissipels besluiteloos daar rondgestaan. Hulle het nie geweet wat om te doen nie. Meeste van hulle het troosteloos gehuil, veral die vroue. Selfs die ontembare Petrus het skaamteloos staan en snik.
Toe kom die soldaat. Hy het sy kop geskud in ongeloof. “Is Hy sowaar al dood?” Net om doodseker te maak, pluk hy sy swaard uit. Johannes het weggekyk, hy wou nie sien nie. Die soldaat het sy vlymskerp swaard in die lug gehou, en met een vinnige haal ‘n diep wond in Jesus se sy gesteek. As Jesus nog gelewe het, sou die bloed gespuit het, maar dit het nie. Bloed en water het stadig uit die wond uitgesypel. “Ja,” mompel die soldaat, “beslis dood!”
Maria was troosteloos. In ‘n stortvloed van trane het sy daar inmekaargesak terwyl sy aanmekaar haar Seun se Naam gesnik het.
“Wat gaan ons nou doen?” wonder Petrus. “Dink julle ons kan Hom nou maar gaan begrawe?” Maar só maklik is dit nie. Jesus was ‘n “misdadiger” en dus was Hy die staat se “eiendom.” Dit sou beteken dat Hy saam met die ander gekruisigde misdadigers in die Gehinnomvallei op die ashoop sou beland en daar verbrand word. Johannes het na sy asem gesnak by die blote gedagte.
‘n Paar manne het na die soldaat toe gestap en by hom gesmeek om Jesus se liggaam te kry, sodat hulle Hom darem ‘n eerbare begrafnis kon gee, maar hy het net beslis sy kop geskud. Moedeloos is hulle weer terug na die groepie huilende vroue. Alles was verlore!
Intussen het aaklige gille deur die lug geklief, gille van pyn en angs. Die soldate was besig om met knuppels die ander twee gekruisigdes se bene splinters te slaan sodat hulle gouer kon sterf. Hulle móés daardie selfde middag nog dood en van die kruise verwyder word, want dit was amper Sabbat. En volgens die Joodse wette mag ‘n gekruisigde nie op die Sabbat steeds aan die vloekhout hang nie. Hulle doodsgille het deur murg en been gesny, en Johannes het sy ore toegedruk.
‘n Paar soldate het na Jesus se kruis toe aangekom en begin om die kruis te laat sak sodat hulle Hom kon afhaal. Een van die soldate het opgekyk en ‘n paar lelike vloekwoorde uitgespoeg: “Hier kom moeilikheid!”
Johannes het omgekyk. Haastig kom ‘n baie vername man reguit na hulle aangestap, saam met hom sy slaaf met ‘n groot sak vol goed op sy rug. “Wat sou hy wil hê?” het Johannes gewonder.
Die man hou ‘n briefie na die soldaat uit: “Opdrag van Goewerneur Pilatus!” blaf hy, pas nadat hulle die laaste spyker uitgetrek het.
Dan draai die man na die verdwaasde groepie dissipels: “Waar gaan julle Hom begrawe?”
Verbouereerd het hulle geantwoord dat hulle nie ‘n graf het nie. “Julle kan my nuwe graf gebruik,” bied hy aan. “En ek het sommer linne en ‘n klomp speserye ook saamgebring, net vir ingeval.”
Met monde wat oophang van verbasing, het hulle geluister hoedat hierdie man, Josef uit die dorpie Arimatea, sy lewe gewaag het om na Pilatus te gaan en toestemming te kry om Jesus se liggaam te kry sodat hy Hom kon begrawe.
Hulle het Jesus haastig na Josef se graf gedra en in doeke toegedraai. Hulle was nét betyds klaar voor die Sabbat aangebreek het.
“Was dit nie vir Josef nie…..” dink Johannes. “Daardie man het nou vir homself ‘n klomp vyande gemaak in die Fariseërs!”
Gebed:
Here, ek staan vanoggend weereens verwonderd as ek dink hoedat U elke keer op presies die regte oomblik ingegryp het. Ek kan maar net in aanbidding neerval voor U, Almagtige, Alwetende God.