2 Samuel 2:12 - 3:5
Jare gelede, toe ek nog jonk en fiks was, het ons jongklomp die Drakensberge se Giant’s Castle uitgeklim in ‘n staptog wat vier dae sou duur. Ons plan was om op dag een tot héél bo op die berg plato te klim. Met ons aankoms sak die reën egter uit en duur heeldag. Digte misbanke bedek die berg. Laatmiddag, net toe ons dink dat ons nou ampertjies bo moes wees, trek die mis van die berg weg. Reg voor ons troon die loodregte kranse die hemel op tot dáár bo waar hulle in die wolke verdwyn. My mond het oopgeval: “Ek dog ons is bo? Moet ons nog tot dáár klim?” My moed was in my skoene!
Net toe Dawid dink dat sy koningskap oor Israel ‘n werklikheid was, verskyn Is-Boset, een van Saul se seuns op die toneel en hý word koning oor Israel. Dawid kon slegs regeer oor die stam van Juda. Reg van die begin af was daar wrywing tussen die twee koninkryke, totdat dit uiteindelik breekpunt bereik het en hulle teen mekaar opgetrek het om oorlog te maak.
Die twee generaals, Abner en Joab het mekaar die stryd aangesê. Abner het Israel se leër aangevoer en Joab Juda s’n. Dit was dikwels die gebruik dat ‘n soldaat uit elke kant uitgesoek was om namens die ander soldate te veg. Die wenner het dan bepaal wie die veldslag gewen het, sonder dat daar werklik oorlog gemaak was. Dink maar aan die geveg tussen Dawid en Goliat! Die twee generaals het egter besluit dat daar twaalf soldate uit elke kant teen mekaar moes kom veg. Die geveg was egter só gelykop, dat al vier-en-twintig manne gelyk gesterf het. Dit was dus onbeslis, gevolglik pak die twee leërs mekaar in ‘n verwoede geveg. Joab verslaan uiteindelik die manne van Abner.
Dan volg daar ‘n insident wat so byna baie tragiese gevolge gehad het. Joab se broer, Asael besluit om die vlugtende Abner te agtervolg. Abner het hom ‘n paar keer gewaarsku om op te hou, maar vir Asael sou dit ‘n groot militêre eer besorg as hy kon slaag om Abner te oorwin. Skielik het Abner sy swaard onverwags agter uitgesteek en Asael het neergesak – morsdood! Joab was woedend toe hy hiervan hoor en hy sweer wraak teen Abner. Saam met ‘n klompie manne het hulle vir Abner agtervolg. Toe Abner besef hoe benard die situasie was, het hy omgedraai en vir Joab verduidelik dat hulle nou besig was om broer teen broer te baklei. Dis verkeerd!
Ons kan onsself die vraag afvra oor hoe opreg Abner werklik was toe hy dit vir Joab sê. Het dit waarlik vir hom gegaan oor broederskap? Of was dit eerder om sy eie bas te red in ‘n hopelose situasie? Joab het egter Abner se pleidooi aanvaar en opgehou om Abner te vervolg. Maar dan kan ons ook dieselfde vraag oor Joab vra. Was sy motiewe suiwer toe hy Abner aanvaar het as broer? Of het hy nie dalk beplan om later op ‘n baie slinkse manier van Abner ontslae te raak nie? Hier was vir hom baie op die spel, want hy kon dalk net Israel se leër vir homself inpalm as hy sy kaarte reg sou speel!
‘n Opname het getoon dat Juda slegs twintig man verloor het, al was hulle ver in die minderheid. Israel het egter swaar verliese gely, met 360 manne wat onnodig gesterf het. Vir eers was daar vrede, maar nie vir lank nie. Kort-kort het die humeure opgevlam tussen die navolgers van Dawid en dié van Saul. Algaande kry Dawid egter al meer die oorhand.
Vir Dawid was dit nie alleen sy sukses in die magstryd om die koningskap wat gegroei het nie maar daar was ander verwikkelinge. Dawid was mos ‘n getroude man met nou al nie minder nie as ses vrouens. Dit het beteken dat daar mos ‘n gesin moes kom. En dis presies wat gebeur het. Weldra was Dawid die trotse pa van ses seuns, onder meer Amnon, Absalom en Adonia. Dawid was waarlik ‘n geseënde man.
Hierdie seuns het egter jare later vir Dawid bittere hartseer besorg. Amnon het sy eie suster verkrag. Absalom het daarna vir Amnon vermoor oor hierdie gruweldaad. ‘n Latere seun van Dawid, Salomo het weer vir Adonia doodgemaak. En die groot hartseer was toe Absalom teen sy eie pa in opstand gekom het en die regering wou oorneem. Hy het tragies gesterf. Nogtans, deur alles het Dawid die Here voluit gedien!
Ja, elke huis het sy kruis - selfs ook ‘n beroemde huis soos dié van Dawid. God se seën op hom was baie groot, maar die seën was vermeng met groot hartseer en ongeluk toe Dawid die spoor byster geraak het!
Dawid was besig om die kruin van sy lewe te klim. Hy moes hard werk om die volk se guns te wen en al die ontberinge het Dawid sterk gemaak. Boonop het hy elke dag sy totale afhanklikheid van God besef. Wanneer dinge goed gegaan het, het hy die lof van die Here besing. En wanneer dit swaar getrek het, het hy ook daaroor gesing en sy probleme voor God se voete neergelê.
Ons lewens is ook nie net maanskyn en rose nie. Die groot geheim is egter om te alle tye - goed en sleg - die Here te dien. Dis so maklik om van Hom te vergeet wanneer dit goed gaan. Dawid het ons geleer om nooit óóit van Hom te vergeet nie, maar Hom deur alles voluit te dien!
Gebed:
Here, dankie dat ek weereens kan besef dat U altyd vir my daar is, deur goed en sleg. Leer my om U nooit te vergeet nie, en U altyd voluit te dien!