Lukas 23:50-56
‘n Droewige einde aan ‘n bitter lang, traumatiese en dramatiese dag - Jesus se begrafnis. Droewig, want nie eers sy vriende was by om Hom te kom begrawe nie. As “misdadiger” sou Jesus se liggaam in ‘n massagraf beland het, en daarmee wou die dissipels hulle seker nie vereenselwig nie. Hulle was magteloos, herderloos, moedeloos, en ek dink hulle het hulpeloos na hulle huise verdwyn, wetende dat alles verlore was. Hierdie droom van hulle het in die allerverskriklikste nagmerrie tot ‘n plotselinge einde gekom.
Maar weereens het God Sélf voorsien - hierdie slag uit sekerlik die mees onverwagte en onwaarskynlike oord - die einste Joodse Raad wat Jesus laat teregstel het. In ‘n sekere Joodse dorpie met die naam Arimatea het een van die Joodse Raad se lede gewoon - sy naam: Josef. Hy het nie saamgestem met die res van sy raadslede oor Jesus se teregstelling nie. Lukas skryf vir ons dat hy ‘n goeie en opregte man was wat die koms van die Koninkryk van God verwag het.
As een stem in die massa, was dit vir hom gans onmoontlik om die res van die Raad tot ander insigte te oortuig en toe gebruik hy maar sy invloed as Raadslid om ná die kruisiging te sorg dat Jesus ten minste ‘n eerbare begrafnis sou kry. Josef het sekerlik sy eie lewe gewaag deur na Pilatus toe te gaan om Jesus se liggaam te gaan vra. As sy kollegas hiervan sou uitvind, was dit klaarpraat met hom! In Johannes 19:38 sien ons dat Josef baie versigtig moes wees dat die ander raadslede nie uitvind dat hy ‘n navolger van Jesus was nie.
Volgens Matteus 27:57 was Josef ‘n vermoënde man. Hy het ‘n splinternuwe rotsgraf besit - iets wat nie baie mense beskore was nie. Die gebruik was daardie jare om iemand wat gesterf het in so ‘n graf te laat totdat al die vleis vergaan het. Daarna was die graf weer oopgemaak en die bene was in ‘n kruik gebêre.
Josef moes baie gou maak, want dit was al laat die Vrydagmiddag. Teen sononder het die Sabbat aangebreek en dan kon hy absoluut niks meer doen nie. Hy het dus net ‘n uur of wat gehad om Jesus van die kruis af te kry, die lyk te versorg en in die graf te kry. Daar was nie nog tyd vir die gewone balsem en reukolies wat saam met so ‘n begrafnis gaan nie. Die vroue wat die hele dag die gebeure staan en aanskou het, het dankbaar saam met Josef gegaan, dankbaar dat hulle Meester uiteindelik tóg ‘n klein bietjie eer gekry het na hierdie verskriklike dag. Hulle was by toe Josef Jesus se liggaam in die graf neergelê het, en toe dit verseël was deur die groot klip wat voor die opening gerol was. Maria Magdalena en Maria, Jesus se moeder, het voor die graf gestaan en baie bedroef alles aanskou.
Toe moes hulle baie haastig huistoe gaan, want sononder het aangebreek en daarmee saam die Sabbat. Nou moes hulle maar geduldig wag tot die Sondagoggend voordat hulle enigsins iets verder kon doen. Hulle sou maar Saterdagaand by die huis die nodige reukolies en balsem gaan voorberei sodra die Sabbat verby was en wanneer die son Sondagoggend opkom, sou hulle die Meester se lyk gaan versorg.
Dit was seker die langste Sabbat óóit in daardie vroue se lewens! Om die hele dag daar te moes sit en wag, hande afgekap, want jy durf absoluut niks doen nie! En intussen het ontstellende gerugte die rondte begin doen dat die verfoeilike priesterhoofde besluit het om hulle Meester se graf te laat bewaak deur Romeinse soldate, sodat niemand by Jesus se lyk kon kom nie. Die verskriklike bekommernis het aan die vroue geknaag: “Wat gaan ons doen? Wie gaan ons help om die klip weg te rol? Waar is Jesus se dissipels? Gaan die wagte ons ooit toelaat om die lyk te versorg?” Vrae, vrae, vrae! Kwellinge wat hulle opgevreet het.
God het op ‘n wonderbaarlike wyse voorsien deur Josef van Arimatea op nét die regte oomblik te stuur. Maar die grootste verrassing van almal het nog op hierdie vroue gewag daardie Sondagoggend, want wat by daardie graf aan die gebeur was, was totaal bokant enige mens se verstand. Nie die vroue nie, en nie die geharde soldate nie, en nie eers Jesus se intieme vriende aan wie Hy hierdie dinge voorspel het, was voorberei op die gebeure van Paassondag nie.
Dikwels is dit juis wanneer dinge vir ons die héél donkerste lyk en dit voel asof ons wêreld tot ‘n einde gekom het, wanneer die lig aan die anderkant op sy helderste skyn. Dan kry ons die verrassing van ons lewe! Persoonlik het ek dit al vele kere ondervind, en dan kan ek maar net in aanbidding neerval en weereens erken dat God baie groter is as die eer wat ek aan Hom gee. Aan Hom kom toe ál die lof en die eer en die aanbidding, want Hy is baie, baie groter as wat ons verstand óóit kan begryp!
Hierdie is ons laaste dagstukkie vir 2021. Ons hervat DV weer op Maandag 3 Januarie. Ons wil van hierdie geleentheid gebruikmaak om jou ‘n baie geseënde Christusfees toe te wens!
Gebed:
Here, waar ons vanoggend voor Jesus se graf staan, kan ons maar net jubel dat daardie graf leeg is en dat Hy lééf!