Hebreërs 3:1-6
Dawid was vir die Jode van weleer die koning by uitstek en selfs vandag is hy dit nog steeds! Hy is die grootste koning in die geskiedenis en dit is met groot ontsag wat daar van koning Dawid gepraat word! Maar iemand uit die Joodse geskiedenis het nog véél groter gesag as Dawid ingeboesem: Moses. Hy was in ‘n héél ander klas - iemand wat met God geassosieer kan word, want hy het met God gepraat, en sy hele optrede en persoon het gestraal van “Man-van-God”.
In Eksodus 33 lees ons dat Moses ‘n tent van ontmoeting buite die Israeliete se kamp opgeslaan het - die voorganger van die tempel. Daar lees ons dat die wolkkolom afgesak het tot by die ingang van hierdie tent wanneer Moses daarheen gegaan het en dat die Here direk met Moses gepraat het “soos ‘n man met sy vriend”. Sommige teoloë beweer dat dit eintlik Die Seun van God, Jesus was met Wie Moses elke keer gepraat het. In Eksodus 14:19 word na Hom verwys as die “Engel van God.” Wanneer daar in die Ou Testament gepraat word van die Engel van God, dan verwys dit waarskynlik na die Seun van God, oftewel Jesus. Jesus sou dus Persoonlik teenwoordig wees om Moses te lei in hierdie reuse taak.
Moses was ‘n merkwaardige man - ‘n ware leier wat die wil van God aktief uitgeleef het in sy leiding. Hy het nooit enigiets aangepak as hy nie eers God se wil in die saak gesoek het nie. Moses was ‘n baie sterk persoon en sterk leier, nogtans het hy in diepe afhanklikheid van God geleef. G’n wonder dat die Jode so ‘n groot agting vir hom het nie. As ons Eksodus verder gaan lees, van hoofstuk 35 tot 40, dan sien ons hoe hy daarin slaag om in die woestyn ‘n ware heiligdom - ‘n plek van aanbidding te bou wat saam met hulle kon trek na die beloofde land. Hierdie sou vir baie jare Israel se “tempel” wees.
Dis is met hierdie stukkie agtergrond wat ons na die Skrifgedeelte in Hebreërs 3 moet kyk. Die skrywer wil dit by sy lesers tuisbring dat Moses werklik ‘n groot man van God was, maar dat Jesus baie groter eer toekom, selfs groter as Moses - die een wat die eerste “tempel” gebou het. Inderdaad was die Ou Testamentiese godsdiens baie sterk gekoppel aan ‘n fisiese tempel, en Moses was die een wat hierdie grondslag gelê het. Hy was ook die een wat vir die Jode die wet gegee het, asook al die rituele wat met hulle aanbidding saamgegaan het. Wat ons egter moet onthou, is dat Moses se funksie as “Man van God” ook maar beperk was. Die dinge wat hy gedoen en gesê het moes vooruit wys na die toekoms. Hy moes getuig van die dinge wat nog sou kom, selfs baie lank na sy dood. Moses moes vooruitwys na Jesus Christus.
Die Godsdiens wat Moses gebou het, het sy beperkinge gehad. In die eerste plek was dit eksklusief - dit was slegs vir die Jode bedoel. Boonop was dit beperk tot ‘n fisiese gebou - die tempel. En dan was daar ook die gevaar dat die rituele wat gebruik was, kon lei tot ‘n vorm-godsdiens. Moses was ook maar net ‘n dienaar wat moes doen wat God beveel.
Jesus, aan die ander kant, was baie meer as net die Dienaar - Hy het diens gedoen as Seun van God. Hy was ook die Apostel - die Gestuurde wat God op só ‘n manier verteenwoordig het, dat jy nie ‘n onderskeid kan maak tussen God en sy Verteenwoordiger nie. Moses moes maar net ‘n boodskapper wees wat God se wil aan die volk oorgedra het. Wat Jesus egter sê is wat God sê. Moses het die infrastruktuur geskep vir die priesters om offers te bring in die tempel namens die volk. Jesus het sélf die offer gebring - Hy wás die Offer! Terselfdertyd het Hy ook opgetree as Hoëpriester by uitstek, deur versoening te bewerkstellig vir alle mense se sonde.
Moses was getrou aan God, maar hy was steeds ‘n feilbare mens wat ook maar gesondig het. Jesus se trou het egter vas gestaan tot aan die bittere einde, en deur die grootste versoekings van die duiwel persoonlik, het Jesus steeds staande gebly en nooit, óóit gesondig nie!
Soos Moses ‘n tempel gebou het, so het Jesus ook ‘n tempel gebou - ‘n tempel van vlees en bloed - bestaande uit mense. Moses se tempel was heilig, en so is Jesus se tempel: dit is heilig - vir die Here afgesonder. Ek en jy is vandag steeds deel van daardie tempel - die kerk van Jesus. Ons is ook heilig want ons is vir God afgesonder, en ons moet daarna streef om sodanig te leef.
God se Tempel (die kerk) is baie belangrik, en ons mag dit nie geringskat nie! Dit is uiteraard die plek waar ons ontslae raak van ons sondelas. Dit is terloops nie die fisiese gebou nie, maar die gemeenskap van gelowige mense, en dit is vir ons ‘n halfweghuis van rus, vrede en vreugde. Ons mag egter nooit uit die oog verloor dat dit nie gaan om die tempel (kerk) nie, maar dat dit in die eerste plek gaan om Jesus. Soos Moses ‘n instrument was, en sy tempel ‘n instrument was om God te aanbid, so is die kerk (ek en jy) slegs instrumente wat al die lof en dank en aanbidding aan Jesus moet bring. Hy is die Spilpunt waarom alles draai. “Ek is die Alfa en die Omega”, sê Jesus in Openbaring 22:13 - Hy is die Begin en Einde - niemand is groter as Hy nie. Hy is waarlik God!
Gebed:
Here Jesus, ek val vanoggend voor U neer in aanbidding, want aan U alleen kom al die lof en eer en heerlikheid toe!