Jesus Sterf

27 March, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Sterf

Lukas 23:44-49

Verslae staan Johannes saam met ‘n paar vroue, ‘n entjie van die kruis af. Die drie Marias is onder die groepie, Maria, Jesus se moeder, Maria, die vrou van Kleopas en Maria Magdalena. Skielik lig Jesus Sy kop en Hy kyk reguit vir die groepie. Sy oë rus op Sy moeder. Afgemete sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Sy oë draai na Johannes, en dan sê Jesus vir hom: “Daar is jou moeder.” Onmiddellik weet Johannes wat Jesus bedoel. Dan neem hy ‘n besluit, dat Maria van nou af in sy sorg sal wees. Sy sal vir hom soos ‘n eie moeder wees!

Skielik is die drie-ure lange duisternis wat hulle so pas beleef het vergete. Wat ‘n skrikwekkende ervaring! Sommer so uit die niet, sonder enige waarskuwing het die son verdwyn en almal in duister gehul. Jesus het hard uitgeroep:Eli, Eli, lemá sabagtani?” - My God, My God, waarom het U my verlaat? Oral om hulle het mense van doods-angs gekerm. Maar Johannes het die vroue en die handjievol ander dissipels by hom gerusgestel. God wou dalk simbolies hiermee sê dat Hy met die duisternis die lig van Sy teenwoordigheid van Sy volk onttrek het omdat hulle Sy Seun verwerp het! Johannes het geril by die blote gedagte dat God dalk gladnie eers op daardie tydstip daar by hulle teenwoordig was nie. Aaklige gedagte! Toe die lig uiteindelik weer na drie bitter lang ure verskyn het, het Johannes ‘n groot sug van verligting geslaak!

Skaars was die duister verby, of ‘n ander groot riller tref hulle daar by die kruis, toe die aarde begin skud en bewe. So erg was dit, dat selfs groot rotse flenters gebreek het.

Johannes sit sy arms vertroostend om Maria. Sy snik onbedaarlik. Dan kom daar ‘n beroering onder die mense, en Johannes merk die rou angs op baie gesigte. “Wat is aan die gang?” wil hy van iemand weet.

Die voorhangsel!” hyg die kêrel. Met moeite kry Johannes uiteindelik die volle storie. Die voorhangsel in die tempel het skielik vanself middeldeur geskeur, nogal van bo na onder! Johannes raak yskoud. Dit kan maar net die hand van God wees!

Wat nog?” wonder Johannes. “Wat gaan volgende gebeur?” Dit wil vir hom lyk asof daar net géén einde is aan hierdie verskriklike nagmerrie nie.

Dan sak daar ‘n doodse stilte neer. Jesus het Sy kop gelig, en dit lyk of Hy iets wil sê. “Ek is dors,” kom die skaars-hoorbare woorde. Een van die soldate druk ‘n spons in ‘n kan suurwyn en hou dit teen Jesus se lippe aan die punt van ‘n lang hisopstingel.

Johannes skrik as hy Jesus se gesig sien. Sy dierbare Meester se einde is nie ver nie!

Dan span Jesus Sy laaste kragte in om met ‘n harde stem uit te roep: “Dit is volbring!” en toe: “Vader, in U hande gee Ek my gees oor!”

Die volgende oomblik sien Johannes hoedat Jesus se liggaam verslap. Sy kop sak op Sy bors. Toe wéét Johannes: alles is genadiglik verby!

Hier naby hom staan ‘n geharde Romeinse offisier, wat seker al duisende mense sien sterf het. Hy is só aangegryp deur die gebeure dat hy God prys en verklaar dat Jesus waarlik onskuldig was. “Hierdie man was waarlik die Seun van God!” is die soldaat se woorde.

Die mense wat daar saamdrom, is verslae. Johannes merk dat etlike mense met hulle vuiste op die bors slaan, ‘n teken van berou oor dit wat hulle toegelaat het om te gebeur. “Wat het ons tog gedoen?” hoor hy mense vir hulleself afvra. Dit is ‘n bitter donker dag vir die ganse Israel. Die volk van God het God verwerp, en nou het God getoon deur Sy wonderhandelinge dat Hy ook die volk verwerp het.

Jesus se vriende, Johannes, Petrus en die ander, was almal iewers daar naby. Op ‘n afstand het hulle al die verskriklike gebeure dopgehou. Hulle het alles gesien gebeur. Hulle was ooggetuies van God se handelinge en van Jesus se kruisiging en Sy dood. Op daardie oomblik het hulle nie geweet wat om daarmee te doen nie. Hulle was totaal verslae, alleen en bitter verward.

Maar later, toe die volle werklikheid eers tot hulle deurgedring het, nadat die Heilige Gees oor hulle uitgestort is, het hulle kragtige getuies geword. Hulle het die blye nuus van Jesus se versoening en verlossing wêreldwyd verkondig. Hulle het dit wyd en syd uitbasuin. Ek en jy is vandag ook getuies van hierdie gebeure. Ons leer dit immers uit die wonderlike Woord van God, en ons het dus ook ‘n verantwoordelikheid om nie te swyg daaroor nie. As gelowiges is dit ons taak om die blye nuus van die Evangelie uit te basuin.

Gebed:

Here, ek durf nie stilbly oor hierdie dinge nie - gee my die moed en ywer om te vertel.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026