Jesus sterf

4 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus sterf

Markus 15:33-41

VIDEO * OUDIO

Die ure draal pynlik stadig verby. Drie bittere ure het reeds verbygegaan terwyl Jesus daar hang in ondraaglike pyn, ontbloot aan al die elemente en ontbloot aan die spot van die Romeine en die koggel van Sy volk, die volk van God. Hy is dors tot die dood toe van al die bloedverlies. Die wonde aan Sy rug skaaf gedurig teen die rowwe, besmette houtkruis. Ontsteking in die wonde brand soos vuur. Die ongenaakbare son brand my Here se naakte liggaam waar Hy uitgestal word vir die wêreld om te aanskou. Hy sukkel om asem te kry. Nie een van Sy vriende is daar om Hom te ondersteun of Hom moed in te praat nie. Eensaam hang Hy daar tussen twee moordenaars - hulle, skuldig tot die dood toe – Hy, onskuldig.

Daar hang ‘n doods-atmosfeer in die lug. Dan skree iemand: “Die son...... kyk, die son verdwyn!” Beangs klou die mense aan mekaar vas, as hulle sien hoe die daglig stadig verdwyn.

“Wat is aan die gang?” vra die soldate verbouereerd vir mekaar.

“Die gode straf ons oor hierdie Man!”

Om twaalfuur sak ‘n volslae duisternis toe oor die aarde. In Jerusalem heers daar chaos - wanorde.

‘n Entjie van die kruis af staan ‘n groepie vroue en huil. Hulle staan nou al ure daar, magteloos om iets te doen aan die situasie. As die donker om hulle toevou, wonder hulle of dit nie ‘n teken is van God se oordeel oor die mense wat Jesus gekruisig het nie. Die grootste van alle sondes is om God te verwerp. Is dit nie wat hierdie mense gedoen het nie? Hulle het God verwerp op die mees veragtelike wyse wat jy jou kan voorstel. Sou daar óóit vir enige van hulle redding moontlik wees?

Traag sleep die ure van duisternis verby, terwyl Jesus steeds aan die kruis worstel met die allerverskriklikste, onbeskryflike pyn en ongemak. Hy raak nou baie swak, en daar is géén manier waarop Hy Sy gefolterde liggaam kan ondersteun nie. Deur al hierdie gebeure sê Jesus niks. Hy hang daar in totale eensaamheid terwyl Hy in stilte Sy smaad, angs en pyn dra…...

Uiteindelik, drie-uur die middag, maak die son weer sy verskyning. Die nag is verby! Skielik word almal rondom die kruis tot stilstand geruk wanneer Jesus Sy laaste kragte inspan en hard uitroep: “Eloï, Eloï, lemá sabagtani?”

‘n Skrikwekkende, skokkende stilte sak toe en bly hang in die lug. Dan breek een van die manne spottend die stilte: “Hy roep vir Elia!” Dan bars daar weer ‘n vlaag van spot en koggel uit onder die mense, en hulle lag. Die vroue daar naby wil ineenkrimp van pyn vir hulle Meester.

“Gaan haal wyn!” beveel een van die priesterhoofde, “Ek wil hoor of Hy dalk nog iets gaan sê.”

“Ja, dalk kom Elia Hom persoonlik hier afhaal!” Die manne bulder van die lag oor die grappie.

Wat hulle nie besef nie, is die ware betekenis van hierdie woorde, ‘n aanhaling uit Psalm 22, wat beteken: “My God, My God, waarom het U my verlaat?” In Sy oomblik van grootste angs wend Jesus Hom tot God - iets wat vir ons totaal onverstaanbaar is. Hy is dan sélf God! Hoe kon Hy dan van God verlaat wees? Was Sy menslikheid en Goddelikheid op daardie oomblik so verskriklik geskei? Dit skreeu Jesus se situasie van absolute verlatenheid en diepste magteloosheid uit. Dit is ‘n situasie wat géén mens óóit kan ervaar nie! Ons staan vandag maar net in stomme verslaenheid oor die diep misterie van hierdie verskriklike gebeurtenis?

Kort daarna roep Jesus hard uit, en dan blaas Hy die laaste asem uit…...

Aan die voet van die kruis staan ‘n geharde Romeinse offisier. Koue rillings gaan deur sy liggaam as hy hierdie dinge aanskou. Dan kom hy tot die slotsom: “Waarlik, hierdie Man wás die Seun van God!”

Op daardie oomblik gebeur daar elders in die stad iets onverklaarbaar wat die Jode koue rillings gee: in die tempel kyk die priesters toe hoedat die reuse gordyn wat die Allerheiligste plek afsper, die voorhangsel, voor hulle oë op ‘n bonatuurlike manier middeldeur skeur, van bo na onder, asof twee reuse hande dit uitmekaar skeur. Agter hierdie gordyn - so is geglo - is God op ‘n besonderse manier teenwoordig. God se oordeelsteken hiermee is dat die Jode vir Jesus onregverdig ter dood veroordeel het. Nou verwerp Hy hulle tempeldiens en Godsdiens omdat hulle Sy Seun verwerp het. Hy sal van nou af nie meer in die Allerheiligste teenwoordig wees nie.

Die wonderlike van hierdie gebeurtenis is egter dat die hemel as’t ware nou oopgeskeur is en dat elke gelowige skielik vrye toegang tot God het!

Gebed:

Here, ek huil elke keer as ek hierdie gebeure herleef. Sal ons ooit verstaan deur watter verskriklike smarte U vir ons gegaan het?

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026