Jesus se Verskyning

2 April, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus se Verskyning

Lukas 24:36-49

Vir die sóveelste keer die naweek, skud Johannes sy kop heftig om dood-dóód seker te maak dat hy nie besig is om te droom nie. Alles voel vir hom so verskriklik onwerklik! Kleopas en sy maat het minute gelede nog hier ingestorm om te vertel dat hulle Jesus iewers langs die pad raakgeloop het. Die deur is agter hulle gesluit, want hulle is bang vir moontlike vervolging.

Terwyl hulle nog besig is om oor hierdie dinge te gesels, hoor hulle die bekende, vriendelike stem van Jesus tussen hulle: “Vrede vir julle!” En daar staan Hy! In lewende lywe staan Jesus tussen hulle. Is dit werklik? Is dit nie dalk maar ‘n versinsel van hulle gedagtes nie? Petrus en Maria Magdalena het beweer dat hulle alreeds vir Jesus gesien het, en Kleopas-hulle het ‘n middag saam met Hom deurgebring, maar steeds is dit so verskriklik onwerklik. Net drie dae tevore het hulle Hom sélf daar aan die kruis sien hang, en het hulle met hulle eie oë aanskou hoe Hy dood is. En nou staan Hy hier saam met hulle! Is dit ‘n Gees? Almal bewe van angs!

Jesus het maar al te goed verstaan hoe hulle moes voel, want hier het hulle skielik die wêreld van die totaal-onbekende betree. En vir enige mens sou dit skrikwekkend wees. Daarom stel Hy hulle gerus, en Hy verseker hulle dat Hy nog presies dieselfde Jesus is wat hulle onthou, dat Hy steeds ‘n liggaam het waaraan hulle kan vat. Hy eet selfs voor hulle oë ‘n stukkie gebakte vis. Geen spook is tot sulke dinge in staat nie!

Dan begin Jesus vir hulle te verduidelik van die volle betekenis van alles wat hulle die afgelope paar dae beleef het. Hy verduidelik waarom Hy móés sterf, om te betaal vir hulle sondes, en waarom Hy weer moes opstaan uit die dood. Nie alleen gee Jesus ‘n kort verduideliking nie, maar Hy wys hulle uit die Skrif waar al hierdie dinge haarfyn voorspel is deur die verskillende profete. Die verhaal van Jesus loop soos ‘n goue draad regdeur die ganse Ou Testament, van die eerste hoofstuk in Genesis met die skeppingsverhaal tot met die heel laaste boek.

As ons met oop oë die Ou Testament lees, sal ons Jesus duidelik daarin herken! Ds. Danie Haasbroek het ‘n boek geskryf met die titel: “Die Wonder van Jesus in die Ou Testament,” waar hy die sluier lig oor Jesus. Jesus kom nie alleen in profesiëe voor nie, maar soms het Hy ook Persoonlik in die Ou Testament aan mense verskyn.

In die drie jaar wat Johannes en die ander dissipels saam met Jesus was, kon hulle steeds nie verstaan waaroor dit alles gegaan het nie. As hulle geweet het, sou hulle dinge dalk baie anders benader het, en dit sou Jesus se versoeningswerk in die wiele gery het.

Maar nou is Sy werk afgehandel. Nou maak Hy hulle verstand oop sodat hulle kan begryp. Skielik is dit asof ‘n helder lig vir Johannes opgaan. Vir die eerste keer verstaan hy nou van die vergewing van sondes en Jesus se versoening en alles wat Jesus nog die hele tyd vir hulle gesê het.

Maar dan verduidelik Jesus ook dat alles nog nie hééltemal klaar afgehandel is nie, en dat daar ‘n wonderlike verrassing op hulle wag. Hy gaan vir hulle ‘n “Gawe” gee, maar daarvoor moet hulle geduldig hier in Jerusalem kom wag.

Dan onthou Johannes van die boodskap wat Maria Magdalena hulle kom gee het van Jesus, dat hulle eers na Galilea toe moet gaan. Johannes wonder wat daar gaan gebeur? Eers daarna moet hulle weer terugkom Jerusalem toe.

Johannes het nooit in sy wildste drome kon dink wat die geweldige omvang van hierdie “Gawe” sou wees waarvan Jesus praat nie. Daardie beloofde “Gawe” is op Pinksterdag aan die dissipels uitgedeel, dié dag toe die Heilige Gees in volle glorie die harte en lewens van almal daar teenwoordig kom vervul het, en hulle toegerus het met ongekende en onbeperkte krag en wysheid. Hy het lewens totaal kom verander en opgehef tot groot hoogtes. Maar dit is ‘n verhaal vir ‘n ander dag!

Die wonder is dat daardie selfde Heilige Gees vandag steeds met ons as gelowiges is, en dat Hy ons vandag steeds toerus en vul met presies dieselfde krag en wysheid wat die gelowiges daardie tyd ondervind het.

Die klein handjievol mense wat daardie aand bymekaar was, was op die punt om moedeloos uitmekaar te spat. Kleopas-hulle was al klaar op pad, en ons weet ook dat Thomas daardie aand ook alreeds nie meer by was nie. Jesus het egter ‘n verskil kom maak, en skielik het hulle nuwe hoop gekry. Dit is ook die soort reaksie wat my en jou lewe moet uitlok, dat ons entoesiasme oor Jesus so aansteeklik sal wees dat almal sal wil meedoen.

Gebed:

Here, dankie dat Jesus in my lewe gekom het en ‘n verskil gemaak het. Help my om dit entoesiasties uit te leef.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026