Lukas 9:28-36
‘n Week nadat Jesus die aankondiging gemaak het dat Hy vervolg sou word en sterf, roep Jesus vir Simon nader: “Ek wil op die berg gaan bid,” sê Hy vir Simon, “en Ek wil hê dat jy, Johannes en Jakobus saam met my kom.”
Simon sug sommer, want hy weet presies hoe lank die Meester soms kan bid. En as hulle op die berg gaan bid, dan gaan dit beslis nie sommer net vir vyf minute wees nie.
En Simon is ook nie ver verkeerd nie, want wanneer hulle bo kom, gaan Jesus eenkant om in gebed te verkeer en die drie manne gaan sit op 'n hopie en wag, en wag, en wag......... En dan raak hulle aan die slaap!
Simon is die eerste om wakker te word van iets wat nie heeltemal pluis is nie - stemme wat praat. “Maar is ons dan nie alleen hier op die berg saam met Jesus nie?” wonder hy. Hy skud die ander twee wakker: “Manne, hier is iets baie snaaks aan die gang!”
As hulle in Jesus se rigting kyk, sien hulle iets wat hulle totaal onkant vang: Jesus se hele voorkoms het totaal verander en sy klere is skitterblink. Saam met Hom is daar twee manne wat maar net beskryf kan word as hemelse figure, want hulle hele wese skitter. “Wat is hier aan die gang?” fluister hulle vir mekaar, te bang om hard te praat.
Johannes is in verwondering: “Dit is niemand anders nie as die einste Moses en Elia,” fluister hy uitasem, “en hulle bespreek die Meester se uittog wat Hy in Jerusalem sal voltooi” (Luk 9:31).
“Ek verstaan nie mooi presies wat dit alles beteken nie.” Jakobus se mond hang onbeskaamd oop.
Om die waarheid te sê, het nie een van die drie dissipels eers die vaagste idee waaroor hierdie hele toneel wat voor hulle afspeel gaan nie. Oorbluf staan hulle daar en gaap die toneel voor hulle aan!
En dan is dit alweer Simon wat praat voordat hy dink: “Meester, ek wil voorstel dat ons drie hutte bou: een vir U, een vir Moses en een vir Elia.” Hy wil hulle nét so vir altyd daar hou - dis mos nou hemel!
Die volgende oomblik oordek ‘n wolk hulle uit die niet en die stem van God weerklink uit die wolk: “Dit is my Seun wat Ek uitverkies het”, hoor hulle verbouereerd die stem. Dan kom die opdrag: “Luister na Hom!” Skielik verdwyn Elia en Moses en alles is weer normaal. Oor hierdie gebeure durf die drie nie ‘n woord rep nie - wie gaan hulle in elkgeval ooit glo? Dit is eers baie, baie later dat hulle die moed het om te praat oor daardie dag op die berg.
Maar wat is die betekenis van dit alles?
Moses en Elia verteenwoordig die wet en die profete. Hier vervul hulle die rol van Ou-Testamentiese getuies van wie Jesus werklik is. Die feit dat hulle in so ‘n hemelse glans verskyn, plaas die stempel op hulle hemelse status en vertel onmiddellik vir die drie dat hulle ‘n bonatuurlike en baie belangrike oomblik beleef. Die feit dat Jesus se voorkoms verander het en dat Sy klere geskitter het, bevestig Sy Goddelikheid - Hy is nie maar net ‘n mens nie, maar tegelyk ook God.
Jesus se gesprek met die twee oues van dae het gegaan oor ‘n baie gewigtige saak: Sy “uittog in Jerusalem”. Dit het te make met wat vir Jesus voorlê. Ons moet die woord “uittog” hier sien binne die raamwerk van Goddelike oorwinning - dus verwys dit nie alleen na Jesus se lyding en dood nie, maar ook na Sy opstanding, hemelvaart en verhoging tot die hoogste Gesag.
Die verhaal bereik ‘n hoogtepunt waar God uit die wolk praat en net soos by Jesus se doop weer bevestig dat Jesus in werklikheid die Seun van God is. Mense moet behóórlik kennis neem dat Jesus die Seun van God is. Maar nie alleen dit nie - hulle moet na Hom luister - doen wat Hy vir hulle sê - Sy opdragte uitvoer.
Dikwels wil ons ook “hutte bou” en vir Jesus daar op ‘n berg plaas sodat ons Hom op 'n afstand kan aanbid. Solank Hy daar bo in glorie op ons neerkyk en ons kan weet dat Hy maar altyd daar is, is ons gelukkig...... Ons moet egter teruggeruk word om te besef dat Jesus deel is van ons alledaagse lewe. Ja, Hy is God daar bo, maar Hy is ook God hier met ons. ‘n Persoonlike verhouding met Hom beteken dat ons Hom nie op ‘n afstand aanbid nie, maar dat ons Hom deel maak van alles wat ons doen - Hom ken in absoluut alles in ons lewens. Verséker moet ons in verwondering staan as ons Sy heerlikheid aanskou. Verséker moet ons elke oomblik van die dag besef dat ons hier met die Almagtige God te doene het en nie sommer ‘n “Maatjie” nie. Maar terselfdertyd moet ons dit baie deeglik besef dat Hy elke oomblik van die dag hier by my is vir my, en dat ek met ál my bekommernisse, droefheid en vreugde na Hom kan gaan.
Gebed:
Here, hou my gedurig onder die besef van U groot heerlikheid, maar dankie dat U altyd daar is vir my!