Lukas 20:1-8
Dit was weer een van daardie hyg-na-jou-asem-warm dae in die Laeveld. Uiteindelik sak die son en ek en Mosbolletjie gaan vir ‘n ou lafenissie op die wal van die Krokodilrivier. Ons is gelukkig om ‘n doringboompie te kry wat darem ‘n skaduweetjie gooi - ôk maar net ‘n ou trosie, want die son het sy tjips gehad. Hy klou verbete aan die randjie van die horison vas om nog vir oulaas ‘n paar giftige strale te spoeg voordat die bosse hom insluk.
Ons vou vir ons gemaklike opvoustoele oop onder die half-skadu’tjie, en sak behaaglik terug om die laaste lig te geniet langs die rustige, koel water met ‘n glasie lafenis in die hand om die dag se versengende hitte finaal af te spoel. Ons oë word onmiddellik getrek na ‘n groot sandbank in die middel van die rivier. ‘n Paar knorrige ou buffelbulle het hulle intrek geneem op die koel sand, en hulle lê luilekker uitgestrek - kompleet soos sonaanbidders op Durban se strand. Een ou het dit selfs ‘n stappie verder gevat, en hy lê halflyf in die rivier. Ek wonder so in die stilligheid wat die ou sou doen as ‘n krokodil aan sy tone begin knibbel?
Maar dan trek iets anders my aandag: in die middel van die sandbank staan twee bontkiewiete. Nee, eintlik staan hulle nie, hulle dans opgewonde rond, dán diékant toe, dan dááikant toe. En hulle kwetter en vloek en skel die hele tyd dat hoor en sien vergaan. Kort-kort hol die een tot reg teen die een ou buffel se neus, en ek ys vir die slag wat hy sy bek oopmaak en die lastige klein blikskottel insluk.
Met ‘n swaar sug val die son as’t ware tussen die knoppiesdorings in, en skielik is dit skemer. Dit is asof die ganse Laeveld ‘n sug van verligting slaak, om vir nou van die skroeiende son ontslae te wees. Maar vir die buffels is dit ook die teken dat dit nou tyd is om aan te skuif. Een-vir-een begin hulle koers kies, totdat dit nog net die een is wat so deur die kiewiet getreiter word wat bly lê. En dan besluit hy: genoeg is genoeg, en hy hys sy logge liggaam uit die sand uit op. Die kiewiet raak nou hééltemal beserk en hy loop die buffel storm. Vir ‘n oomblik verbeel ek my hy gee die buffel ‘n skop teen die maermerrie, maar ek het my seker maar verbeel! Stadig kom die buffel in rat en begin loop. Nou haak Kiewiet totaal uit. Dit skree en vlieg en hardloop en storm, maar buffel lyk asof hy hom nie steur aan die laspos nie, en loop sy loop - die oog onwrikbaar gevestig op sy bestemming.
Ons sak dankbaar terug in ons stoele as die bohaai uiteindelik bedaar, en Kiewiet op haar nes gaan sit, skaars ‘n meter van waar buffel verbygestoomroller het, sonder om daarop te trap.
Hierdie histeriese kiewiet laat my tog so baie dink aan Jesus se teenstanders, die Fariseërs en Skrifgeleerdes en priesterhoofde. Gedurende die drie jaar van Jesus se bediening, was hulle knaend aan die raas. Kort-kort sien ons hoedat hulle Hom konfronteer, en dan wonder jy of hulle dan nou werklik dink dat hulle die wonderlike wysheid van die Seun van God kan aanvat? Wie dink hulle nou eintlik is hulle? Deurentyd sien ons net sulke “stormlopies”, dikwels half-hartig.
Maar skielik skrik hulle baie groot as Jesus hulle hoofkwartier, Jerusalem binnestap. Nou raak hulle baie opgewonde en hulle loots aanval op aanval. Die saak begin baie ernstig raak want dit kom ongemaklik naby aan hulle “nes”. Tydens een so ‘n aanval konfronteer hulle Jesus met die vraag oor met watter gesag Hy dan hierdie dinge doen? Jesus het dadelik die gevaartekens gesien. Sê Hy dat Hy dit met God se gesag doen (wat die waarheid sou wees), dan sal hulle Hom net daar en dan arresteer vir Godslastering. Dus antwoord Hy met ‘n teenvraag wat hulle nie durf antwoord nie, want hóé hulle ookal antwoord, gaan hulle steeds in die moeilikheid kom. “Kom die doop van Johannes van God of van mense af?”
Die spul geleerde manne trap klei, want hulle het vir hulleself ‘n gat gegrawe. “Nee, ons weet nie!”
Jesus se antwoord aan hulle, dat Hy hulle dan ook nie gaan sê met watter gesag Hy die dinge doen nie, het die ringkoppe woedend. Hulle het geweet presies wat die antwoord was, maar hulle het geweier om dit te aanvaar.
Die “kiewiete” het nog nooit ophou broei nie, en selfs vandag raas hulle nageslag steeds histeries. In die hoë teologiese kringe raas en blaas ‘n paar slim manne wat weier om Jesus se gesag te aanvaar. Maar ek dink ons moet dalk ook hand in eie boesem steek, want soms is ons sélf ook maar skuldig. Soms raak ons kwaad vir Jesus, of raak ons bitter ongelukkig wanneer dinge nie hééltemal wil loop soos ons dit wou laat loop nie. Die Kiewiet het lawaai oor hy gedink het sy nes is in gevaar, maar die buffel het presies geweet waar om te trap. Nét so sien ons dikwels die ergste kom, maar ons wil nie besef dat Jesus van alles weet, en dat Hy presies weet wat om te doen nie. Kom ons vertrou Hom vir ‘n slag!
Gebed:
Here, ek is dikwels só skuldig daaraan dat ek U nie ten volle vertrou nie. Gee my asseblief vertroue.