Markus 15:42-47
Jesus se sterwe is sékerlik een van die grootste hoogtepunte in die geskiedenis van die heelal. Daarom moet ons dalk nog ‘n slag daarna kyk - daar is sovéél vrae rondom hierdie gebeurtenis. Gister het ons gesien hoedat die geharde Romeinse soldaat, ‘n volslae heiden wat Griekse gode aanbid, in verslaenheid aan die voet van die kruis staan en in verwondering sy kop skud. “Waarlik, hierdie Man wás die Seun van God!” Met sy eie oë het hy die dinge sien gebeur. Hy het Jesus se sterwe en alles wat daarmee gepaard gegaan het, persoonlik ervaar. Dan besluit hy dat hierdie Man wat hy nog nooit vantevore ontmoet het nie, God móét wees! En so word ‘n volslae heiden die héél eerste persoon wat besef dat, op grond van Jesus se lyding, Hy die lydende Seun van God is.
As ons die ander evangelies lees, sien ons dat daar ook ‘n paar ander dinge gebeur het wat Markus nie noem nie. Volgens Matteus was daar na die sonsverduistering ook ‘n hewige aardbewing. Rotse het uitmekaar gebars toe Jesus die laaste asem uitblaas. Grafte het oopgegaan en mense wat reeds lankal dood was het uit die dood opgestaan. Baie mense het hulle gesien!
Die asemrowende visioen van Esegiël 37 word skielik voor jou oë ‘n werklikheid - die vlakte vol doodsbeendere wat vleis kry en herleef!
En dan was daar die voorhangsel was so bonatuurlik geskeur het - middeldeur geskeur deur die hand van God. God wou vir almal wys dat die ou bedeling finaal verby was. Die tempel is nie meer die sentrale plek van aanbidding nie. Alles staan nou oop na God toe. Daar is ‘n onbelemmerde uitsig reg tot in die Allerheiligste. Almal het nou deur Jesus se dood vrye toegang tot God, selfs daardie geharde heidense Romeinse soldaat.
Inderdaad bring Jesus se dood lewe!
Die wonderwerke hou egter nie op wanneer Jesus sterf nie. Hy sterf om 3-uur die Vrydagmiddag. Dit het beteken dat daar slegs drie ure in die dag oor was voordat die Sabbat sou begin. Daarna kon daar niks gedoen word nie! Daar was dus drie ure om Jesus se begrafnis te reël. Die vraag is: wie sou dit doen? Die elf manne het geskitter in hulle afwesigheid, dalk te bang dat hulle dieselfde lot as Jesus kon verwag. Hulle kon dus nie Jesus se liggaam gaan opeis nie. Die vroue wat daar naby gestaan en huil het? Wel, hulle was maar net vroue, totaal sonder énige regte. Wie sou hulle nou aan húlle steur? Alles lyk verlore en Jesus se liggaam sou maar daar moes bly hang tot die Sondag! Teen daardie tyd waarskynlik al opgevreet deur die aasvoëls!
Maar dan kom daar uitkoms uit ‘n totaal onverwagse oord waarvan niemand dit nooit sou verwag nie. Die uitkoms is van niemand anders as uit die Joodse Raad sélf! Nogal een van die gerespekteerde lede van die Joodse Raad, Josef van Arimatea. Hierdie man het sy lewe gewaag om na Pilatus te gaan en vir Jesus se liggaam te vra. As sy kollegas moes uitvind waarmee hy besig was, sal hulle hom gekruisig het!
Toe Josef by Pilatus kom, bevestig een van die offisiere dat Jesus reeds lankal dood was. Dit moes toe dus al laat-middag gewees het.
Die wonder is dat slegs ‘n gerespekteerde Raadslid soos Josef ál die rompslomp sou kon omseil om Jesus se liggaam te kry. Eenvoudige manne soos Petrus en Johannes sou nooit toegang tot Pilatus kon kry nie. God het op ‘n wonderbaarlike manier selfs hier voorsien, en vir ons die wonder soveel groter gemaak.
Maar daar was meer: Hierdie man was óók in die baie bevoorregte posisie om ‘n klipgraf te besit, en hy was bereid om sy graf, wat hom waarskynlik ‘n klomp geld uit die sak gejaag het, op te offer vir hierdie Man wat so pas ‘n vloekdood gesterf het. Die Jode het enigeen wat aan ‘n kruis gesterf het as ‘n vervloekte beskou, en daar was nooit óóit vir so ‘n persoon ‘n eerbare begrafnis gereël nie. Josef het selfs die moeite gedoen om linne te gaan koop spesiaal vir Jesus se begrafnis. Nadat hulle Hom van die kruis afgehaal het, het Josef Jesus se lyk in die duur linne toegedraai en Hom in die klipgraf neergelê. Daarna was die klip voor die opening gerol.
Terloops, hierdie klip was ‘n reuse “wiel” wat omtrent twee ton geweeg het. Dit het in ‘n voortjie afdraende beweeg om die opening te seël. Voor die tyd was dit in posisie gehou deur ‘n wig. Maar wanneer die wig verwyder was, het die klip afgerol. Daarna was dit bykans onbeweegbaar. Dit sou ‘n hele span baie sterk manne gekos het om die klip weg te rol!
Maria Magdalena en Maria, die moeder van Joses het daar naby gestaan en kyk toe Josef vir Jesus begrawe het. Dit was ‘n hartsverskeurende droewige dag, maar terselfdertyd ‘n dag gevul met wonderwerke en tekens uit die hemel. Maar die grootste van al die wonders sou nog kom, daardie Sondagoggend baie vroeg.
bed:
Here, ek kan vanoggend net my hande saamslaan in verwondering. Elke klein detail is tot in die fynste besonderheid haarfyn beplan om die groot verlossingsdaad uit te voer. Dankie Here, dat U my geloof weereens versterk met die herlewing van hierdie gebeure!