Efesiërs 4:1-16
Kolonel James Stevenson-Hamilton was die eerste parkhoof van die Kruger Wildtuin, oftewel die Sabi Park, soos dit toe bekend gestaan het. Die natuur en die veld was in sy bloed, en met groot passie het hy begin om die wildtuin op te bou. Hy het baie hard gewerk om hierdie lap dorre aarde, wat toe byna gestroop was van al sy diere, te omskep in die wêreldberoemde park waar mense deel kon word met die natuur en die wildlewe geniet. Hy het egter ‘n paar dinge totaal verkeerd verstaan. Sy een groot doel was om ontslae te raak van al die roofdiere wat die kosbare bokke so opvreet. Leeus is voor die voet uitgeroei om ‘n veilige eenheid te skep in die wildtuin. Vandag is dit natuurlik algemene kennis dat meeste besoekers juis gaan om die leeus te sien! Dit was byna ‘n fatale fout. Die sukses vandag in die Kruger Wildtuin lê juis in die verskeidenheid binne die eenheid en die wonderlike balans van die natuur waar elkeen sy nis het, of dit nou bok, vis, voël, olifant, boom of roofdier is.
Presies dieselfde geld op kerkgebied, waar die tradisionele kerke (NG Kerk ens.) ‘n klompie jare gelede baie giftig was teenoor die kerke wat ‘n gemakliker aanbiddingstyl handhaaf, soos die AGS en Volle Evangelie. Hulle is uitgekryt as “sektes” en “baie gevaarlik!” Later weer is die prentjie omgekeer, toe daar venynige aanvalle uit húlle geledere gekom het teenoor die tradisionele kerke, omdat hulle “morsdood” was en totaal verkeerd doop.
Dankie tog, daardie tyd is verby! Kerkleiers het begin insien dat daar wél verskille binne die Kerk van Christus kan wees terwyl daar steeds ‘n hegte kerkeenheid gehandhaaf kan word. In Christus is ons tog immers almal een ten spyte van ons verskille. As ons mooi gaan dink oor die verskille, sien jy dat daar júís verskillende aanbiddingstyle nodig is, want mense is verskillend ingestel en die verskeidenheid bied vir elkeen sy plekkie waar hy gelukkig voel. Inderdaad is daar nog steeds mense wat baklei oor hierdie verskille, maar hulle is gelukkig in die minderheid.
Die vraag is, hoe handhaaf jy ‘n werkende eenheid te midde van groot verskille? Paulus verduidelik dat jou belydenis moet klop met die manier waarop jy prakties leef. Eenheid kan dus nie reggepraat word nie, maar dit begin by elke gelowige om dit prakties reg uit te leef. Vir eenheid is dit van die uiterste belang om Efes. 4:2 jou eie te maak: “Verdra mekaar met volkome nederigheid en saggeaardheid, en met geduld in liefde.” Kerkeenheid is onmoontlik sonder hierdie kwaliteite. Maar dan moet ons ook onthou dat eenheid nie by mense begin nie maar by God. In vers 3 skryf Paulus: “Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede.” Hierdie eenheid durf ons nie wegsmyt nie! Ons moet dit positief nastreef en daarvoor werk deur in vrede met mekaar te leef. Dis beslis nie maklik nie, veral as die ander party begin klippe gooi en jy moet steeds vriendelik en geduldig bly en verdra so tussen die koes vir die klippe deur.
Soms lyk dit vir ons asof die verskille net eenvoudig te groot is. Die verskillende kerke van Ballito het ‘n paar jaar gelede gesamentlike dienste gehou, waar elke kerk die geleentheid gekry het om ‘n deel van die diens te behartig. Daar was gewoonlik ‘n ongemaklike stilte wanneer dit die NG Kerk se beurt was, want party groepe was gewoond om lewendig mee te doen en nou gebeur daar byna niks! Wanneer dit weer húlle beurt is, staan die tradisionele groepe ongemaklik en rondtrippel, want hulle is nie gewoond aan ‘n gedansery en al die “lawaai” nie. Hoe kan daar eenheid kom as die verskille so groot is?
Paulus lê klem daarop dat ons duidelik moet besef dat daar net één liggaam en net één Gees en één hoop en één Here, één geloof, één doop en één God en Vader van álmal is (v. 4-6). Wat God een gemaak het durf ons nie uitmekaar skeur nie!
Eenheid te midde van verskille, beteken dat ons vir mekaar ruimte moet gee. Ons mag nie vir mekaar probeer voorskryf wat die regte ding is om te doen nie, want sê nou net ék is eintlik die een wat verkeerd is! Net so is dit verkeerd om kunsmatig bymekaar te voeg wat nie saam kan funksioneer nie. Daar is al vir baie jare pogings om die drie “susterkerke” (NG, Gereformeerde en Hervormde kerke) saam te voeg, maar keer op keer misluk die samesprekings. Waarom? Selfs tussen hierdie drie kerke het daar totaal verskillende aanbiddingstyle ontwikkel. Alhoewel hulle feitlik presies dieselfde gedagtes deel, is die een baie konserwatief en styf terwyl die ander soms neig na die charismatiese.
Kerkeenheid begin nie by kerkleiers nie, maar by jou en my persoonlik. As ek en jy na mekaar kyk en nie die verskille raaksien nie maar eerder die wonderlike Skrifwaarhede wat ons deel, is die helfte van die stryd gewonne. Nou kan ons die verskille met beskeidenheid, geduld en vriendelike, innige liefde mekaar gun en saam gesels oor die dinge wat werklik saakmaak!
Gebed:
Here, ek loof en prys en dank U vir die wonderlike eenheid wat besig is om pos te vat onder ons verskillende kerke. Help my om positief en prakties verdere eenheid na te streef en uit te leef.