Is Jesus Waarlik God?

4 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Is Jesus Waarlik God?

Johannes 1:1

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.

Die Jehovah's Getuies beweer dat Jesus nie God is nie. Hoe hanteer ons dit wanneer ons hiermee gekonfronteer word? Voor ons egter by hierdie uiters belangrike vraag kom, of Jesus werklik God is, moet ons eers kyk na 'n ander bewering van die Jehovah's Getuies, dat hulle die enigstes is wat die ware Naam van God ken.

Wat is die regte Naam van God?

Wikipedia skryf die volgende oor die Naam van God: The name of God most often used in the Hebrew Bible is the Tetragrammaton (YHWH יהוה‬). It is frequently anglicized as Jehovah and Yahweh and written in most English editions of the Bible as "the Lord" owing to the Jewish tradition viewing the divine name as increasingly too sacred to be uttered. It was thus replaced vocally in the synagogue ritual by the Hebrew word Adonai (“My Lords”), which was translated as Kyrios (“Lord”) in the Septuagint, the Greek version of the Hebrew scriptures.

Die Naam van God, YHWH is in antieke Hebreeus geskryf sonder klinkers, en is eintlik onuitspreekbaar. Jahweh sou die naaste wees wat ons aan die uitspreek van Sy naam sal kom. Vir die Jehovah's getuies om dus te beweer dat die Naam Jehovah die enigste Naam is waarmee God aangespreek kan word, is nie waar nie. Om die waarheid te sê, daar is verskeie Name vir God in die Bybel. Hier is enkele voorbeelde wat ons dikwels teëkom:

Elohim – God, Magtige Skepper,

El Elyon – God die Allerhoogste,

El Shaddai – God Almagtig,

El Olam – Ewige God,

El Roi – God wat my Raaksien,

Esh Oklah – Verterende Vuur,

El Chay – Lewende God.

Hierdie is slegs enkele van die vele Name waaronder God bekend staan. Dit is dus onwaar om te beweer dat die Naam “Jehovah” die enigste Naam is waarmee God aangespreek mag word.

Die tweede kwelvraag is: Is Jesus werklik God?

Die Getuies beweer dat Jesus nie deel van die Goddelike Drie-eenheid is nie, en dat Hy dus nie God is nie. Hy is wel 'n "Goddelike Wese", oftewel 'n god, amper iets soos 'n verhewe engel. Hulle ontken dan ook die Goddelike Drie-eenheid want daar is slegs een God. Hulle haal aan uit Deuteronomium 6:4 waar dit duidelik staan: “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.” Beteken dit dat ons verkeerd is oor die Drie-Eenheid van God? Beslis nie! Ons beweer nie dat daar drie Gode is nie. Wat ons wél sê, is dat die Vader God is, en daarmee stem almal saam. Verder wil ons sê dat Jesus God is, en derdens dat die Heilige Gees ook God is. Saam is hulle God. Één God!

Kom ons kyk eerstens wat sê die Ou Testament oor die Goddelikheid van Jesus. Ons lees dikwels in die Ou Testament van die “Engel van die Here” of die “Engel van God,” waar “Engel” met 'n hoofletter vertaal word. Hier word beslis nie gepraat van 'n gewone engel, wat altyd met 'n klein letter gespel word nie. Die Engel van die Here verwys deurgaans in die Ou Testament na die Seun, en dus Jesus.

Hier is 'n paar voorbeelde:

In Eksodus 3:2 lees ons: “Toe verskyn die Engel van die Here aan hom in 'n vlam binne-in 'n doringbos.” In vers 4 staan daar: "Toe die Here sien dat hy nader kom om te kyk, roep God na hom uit die doringbos...." Dit blyk dus dat die Engel van die Here ook God is.

In Eksodus 13:21 staan daar: “Die Here het bedags met 'n wolkkolom voor hulle uit gegaan.” Dit was dus God wat in die wolkkolom voor Israel uitgetrek het. In Eksodus 14:19 lees ons: “Die Engel van God wat altyd voor die Israeliete uit beweeg het terwyl hulle getrek het, het nou agter hulle plek ingeneem.” Hier word dus genoem dat die Engel van God in die wolkkolom was, terwyl in 13:21 staan dat dit die Here was. Die Engel van God (die Seun) is dus een en dieselfde as Die Here (God).

In Rigters 6:12 lees ons van die Engel van die Here wat aan Gideon verskyn. In vers 22 lees ons: "Gideon het besef dat dit die Engel van die Here was en hy het uitgeroep: Ag Here my God, ek het die Engel van die Here van aangesig tot aangesig gesien! Toe sê die Here vir Gideon: Wees gerus! Moenie bang wees nie! Jy sal nie sterf nie!"

Uit hierdie verse kan ons dus aflei dat die Engel van die Here (die Seun) en die Here (God) een en dieselfde is. Jesus IS dus God!

In die volgende dagstukkie kyk ons wat die Nuwe Testament hieroor sê.

Gebed:

Here Jesus, ek kan U slegs aanbid as die enigste ware God!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026