Jona 4:1-11
Jona is baie bitter. Hy is kwaad vir God. Hy is kwaad vir die Nineviete. Hy is kwaad vir homself. Hy sal maar op die koppie sit en wag! God se oordeel móét net eenvoudig daardie goddelose stad tref. Kyk hoe sondig was hulle – hy het dit tog immers met sy eie twee oë aanskou! "Ek het my hele lewe lank ‘n skoon, rein lewe geleef, buiten miskien vir daardie een enkele keer wat ek gestruikel het en vir die Here probeer wegkruip het. Ek is eintlik die een wat ly! Kyk net al die ontberinge wat ek moes deurmaak vir hierdie addergebroedsel! Ek wat kry ek daarvoor? Nee wat, ek sal maar wag!"
En Jona wag!
Die woestynson brand genadeloos op Jona neer waar hy op sy koppie sit en dink. “Ja, God weet mos alles! God het mos geweet dat die stad tot bekering sou kom. Hoekom het Hy my in die eerste plek dan hierheen gestuur? Dit was mos onnodig! Ek het dit van die begin af geweet, dís waarom dat ek Tarsis toe wou vlug!"
En Jona wag......
Die skroeiende son raak ondraaglik. Hy bou vir hom ‘n skermpie van bossies en droë takke, maar dit help maar min. "Ag ek wens dat ek liewer kan sterf! Ek het géén rede meer oor om te leef nie!” Jona sug verdrietiglik en baie swaar.
Genadiglik kom die nag.
Die volgende oggend as Jona wakker word, sien hy iets baie eienaardig. Deur die nag het daar op die dorre klipkoppie ‘n rankplantjie langs sy takskermpie opgekom. “Hoe ís dit moontlik?” Tot sy groot verbasing moet Jona toekyk hoedat die plant voor sy oë begin groei. Dit rank en rank, totdat sy hele takskermpie toegerank is. Sówat het Jona nog nóóit in sy lewe gesien nie!
As die son daardie dag alles rondom hom verskroei, sit Jona dolgelukkig in sy heerlike koel skuiling, kompleet met lugreëling en al! Enige oomblik nou moet die oordeel hierdie stad tref! Maar steeds gebeur dit nie en wanneer die son die aand agter die horison verdwyn, staan Nineve steeds ongeskonde in haar volle glorie!
Die volgende oggend tref ‘n verskriklike ramp vir Jona. Toe hy die simpele groen wurm raaksien, was dit reeds te laat. Die groen gedrog het aan sy lowergroen rankplant staan en kou! Op 'n kritieke plek, nét bo die grond het dit die stammetjie morsaf gevreet. Skaars het die dag begin breek of sy wonderplant begin klaar verlep.
Om sake te vererger steek ‘n skroeiende oostewind op. Dis nie lank nie of die rankplant is geskiedenis – slegs 'n paar ou verskrompelde, droë blaartjies. Die wind word al sterker en warmer, en Jona hyg na asem. “Here, hoe kon U dit aan my doen? Hoekom het U my rankplant doodgemaak? Ek wil tóg maar liewer sterf!”
Dan praat die Here hard en reguit met Jona: “Al waaroor jy jou bekommer is die eenvoudige rankplant. Jona, jy is kwaad dat Ek dit doodgemaak het, maar oor ‘n honderd en twintig duisend onskuldige mense in hierdie stad voel jy niks! Wou jy werklik hê dat Ek hulle moes vernietig?”
En daar, op daardie dramatiese noot, eindig die verhaal van Jona in die Bybel met 'n onbeantwoorde vraag wat dramaties in die lug bly hang......
Het Jona óóit tot ander insigte gekom? Ons weet nie. Sy verhaal is egter opgeteken sodat ek en jy dit vandag kan hoor en daaruit kan leer. So hard en duidelik as wat God daardie dag met Jona gepraat het, so hard en duidelik praat Hy vandag met my en jou.
In Jona se gesprek met God het dit baie duidelik geword waarom hy éintlik kwaad was: hy wou nie gehad het dat die heidense volk gered word nie. Jona het gerieflikheidshalwe vergeet dat God sy ongehoorsaamheid en sonde vergewe het en hom ‘n tweede kans gegee het. Vir ons is dit net logies dat hy bly sou wees dat Nineve ook ‘n tweede kans gekry het. Maar Jona was bitter eng in sy beskouing oor hierdie saak want hy was ‘n Israeliet, deel van God se uitverkore volk wat God net vir hulleself toegeëien het. Jona is meer begaan oor sy eie reputasie as dié van God!
Die vraag is of ons nie óók maar dikwels in presies dieselfde bootjie is nie? God se harde woorde aan Jona praat vandag ook baie hard met ons. Dit is gemik teen ons selfsug en ons pogings om God se almag net vir onsself toe te eien. Ons vergeet baie gou van God se groot genade oor ons en hoe ons onverdiend gered is uit die verdoemenis. Die feit is dat géén mens en géén kerk die alleenreg op God het nie. Geen denominasie het voorkeur bo ‘n ander nie. God se koninkryk strek baie, baie verder as ons eie klein wêreldjie, selfs oor hulle wat van Hom verskil, Hom haat en Sy vyande is.
Die einde van die boek Jona is oop! Dit is asof die verhaal elke leser nooi om sy eie verhaal hierin te lees en sy eie antwoord in te voeg. Elkeen van ons kan ‘n Jona wees - iemand wat skuil agter sy eie opvattings, tradisies, vooroordele, eksklusiewe godsdienstige uitkyk. Die vraag is: hoe reageer ek en jy?
Gebed:
Here, aan die einde van die boek Jona staan ek skuldig voor U, want nes Jona wil ek dikwels selfsugtig wees in my denke oor U. Bevry my asseblief daarvan en gee my ‘n oop gemoed!