In Gesprek met God

3 September, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie In Gesprek met God

1 Johannes 5:14-21

Kyk die Video

In die laaste paar verse van Johannes se eerste brief herinner hy sy lesers weereens aan alles wat hulle ontvang omdat hulle kinders van God is. Eerstens het ons, Sy kinders die vrymoedigheid om na God te gaan in gebed. Maar nie alleen mág ons net bid nie, maar ons wéét ook dat God ons gebed verhoor! Daar is egter ‘n paar baie belangrike dinge wat ons moet onthou omtrent gebed en gebedsverhoring. 

Gebed is ‘n intieme gesprek met God, nie ‘n rympie wat opgesê word om God tevrede te hou nie. Nog minder is gebed om ’n wenslysie af te rammel oor dít en dát wat ons graag wil hê. Ek het ook al gehoor hoedat ‘n predikant sy preek afrond en in sy slotgebed ‘n paar punte vir die gemeente beklemtoon sodat dit mooi vas sal staan. Dominee, gebed is ‘n gesprek met God, nie met jou gemeente nie!

Gebed is om jou diepste versugting, jou pyn, jou blydskap, jou verwondering, jou diepste geheime met God te deel. Gebed is ook om vir God te sê wat jy van Hom dink, om Sy grootheid en almag te besing en jou te verwonder oor Sy groot genade. Gebed is om vir Hom dankie te sê vir al die ryke seëninge wat Hy oor jou lewe strooi, en dat Hy in Sy groot genade ook vir jou as sondige mens uit die poel van verderf kom ruk het om jou Sy kind te maak. Dit is om innig dankbaar te wees vir die Heilige Gees in jou lewe. Soms is gebed net bloot stilbly en die teenwoordigheid van God in te drink soos ‘n dorstige spons. 

Nie alleen is gebed ‘n gesprek met die Heilige God nie, maar dit het ook ‘n reuse bonus: daardie gesprek verryk jou geestelik en maak jou geloof sterk. Om maar net God se heilige teenwoordigheid te ervaar, en te weet dat Hy luister na jou gesprek met Hom, is al klaar ‘n wonderlike opheffing van jou gemoed, al is jou gemoed ook hóé swaar.

Die vraag is of God ooit na ons gebed luister en ons gebede verhoor? Bid ek nie dalk verniet nie? Bid ek nie in ‘n vakuum in nie? Soms voel dit asof ek vir ‘n ewigheid bid oor ‘n saak, en dan gebeur daar niks! Gee God ooit wat ons vra? 

Kom ek verduidelik. Jou klein seuntjie kom vra: “Pa, ek wil asseblief ‘n skaatsplank hê, en ‘n selfoon wat internet kan doen. Én ‘n playstation. En Pa, assegrootblieftog Pa, Jannie het so ‘n klein regte egte motorfietsie - ek wil ôk ene hê, pleeeeeze Pa!” Wat sou jou reaksie wees? Ge jy alles waarvoor hy vra, doen jy hom ‘n reuse onreg aan. Hy gaan dit natuurlik nie só insien dat dit nie tot sy voordeel is om alles te kry wat hy bitter graag wil hê nie, maar jy het al deur die lewe gegaan, en jy weet wat tot jou kind se voordeel is.

In ons verhouding met God vra ons ook dikwels vir goed wat ons bitter graag wil hê, en dan kry ons dit nie. Net soos die seuntjie raak ons ook soms dikbek of moedeloos oor ons nie kry waarvoor ons vra nie. Ons beskuldig God daarvan dat Hy nie gebed verhoor nie. Verhoor God dan óóit gebed?

Ek het al duisende dagstukkies geskryf oor die afgelope twintig jaar. ‘n Prestasie? Wel, daar is ‘n ou klein geheimpie: as dit nie was vir God wat elke dag my gebed verhoor en vir my die gedagtes in my hart lê om te kan skryf nie, sou ek dit nooit, óóit kon regkry nie!

Ek preek Saterdae vir 'n groep Zoeloesprekende mense. Dikwels moet ek ook eredienste lei in klein dorpies in Zoeloeland. Ek het egter nie teologiese opleiding as predikant nie, en om dus 'n preek voor te berei, is beslis nie maklik nie. Die groot wonderwerk is egter dat God my nooit óóit teleurstel nie. Keer op keer moet ek met verwondering sien hoedat die boodskap in my gedagtes vorm aanneem. Elke keer verhoor Hy my gebed en gee Hy my die woorde om aan die gemeente oor te dra. Is dit nie gebedsverhoring nie?

Dikwels gebeur dit dat God níé gebed verhoor soos wat ons dit graag wil hê nie. Waarom? Die antwoord kry ons in 1 Johannes 5:14, waar hy skryf dat God ons gebede verhoor as ons enigiets volgens Sy wil vra. Soms lyk iets wat ons van God vra baie edel en goed, maar God het iets totaal anders vir ons in gedagte. Wat ons vra is dalk wel goed, maar God weet beter. Sy gedagtes is immers baie groter as ons s’n. Uit my eie lewe kan ek ‘n voorbeeld noem: ek wou predikant word en die Evangelie verkondig. Alles het egter vir my skeef geloop, en ek kon dit net nooit verstaan nie. En toe gee die Here vir my hierdie internetbediening in die plek daarvan. Die dagstukkies bereik nou gereeld duisende mense! Hoeveel mense sou na my preek geluister het as ek ‘n predikant geword het? Dalk twee- of driehonderd? Inderdaad het Hy my gebed verhoor, maar op ‘n baie ander manier as wat ek dit wou hê. En baie, baie beter!

Gebed:

Here, ek loof en prys U, en dank U inniglik vir die reuse voorreg om met U te mag gesels. Dankie ook dat U my gebede verhoor.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026