In Die Begin

4 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie In Die Begin

Genesis 1:1-2

Ons meet tyd in terme van die aarde se beweging om die son en die draai van die aarde om sy eie as. ‘n Jaar is ‘n lang tydperk. Of is dit? As ons ‘n verhaal sou begin met “Lank, lank gelede….”, hoe lank gelede is dit?

Genesis begin met die woorde: “In die begin het God….” Wanneer was die begin? Hoe lank gelede was dit? Die vraag is of ons dit ooit in terme van tyd kan meet? Wanneer het tyd begin? Van wanneer af was God reeds daar?

Dalk wil jy my nét hier stop en sê dat ek nou filosofies raak. Om bloot te wil dink oor wanneer alles begin het, laat my verstand duisel. As die Bybel sê dat God in die begin geskep het, word die sluier net so effentjies gelig oor ‘n reuse misterie wat gans te groot is vir enige menslike verstand.

Maar daar is meer: Die eerste sin in Genesis lees: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.” Die vraag is: uit wat het God dit geskep? Was daar ooit iets voor die skepping?

Die oerknalteorie sê dat die heelal ontstaan het uit ‘n baie klein “iets” wat ontplof het en uiteindelik alles gevorm het. Die vraag is: waar kom daardie “iets” vandaan? Hoe het dit ontstaan? Hierdie vraag kan selfs die slimstes onder die slimmes nie antwoord nie.

Moenie my verkeerd verstaan nie. Ek skiet hiermee nie die oerknalteorie af nie. Ek probeer slegs sin maak van wat die wetenskap en die Bybel ons leer. Nou moet ons ook dadelik byvoeg dat die Bybel nooit bedoel was om ‘n wetenskap-handboek te wees nie. Die Bybel sê egter iets baie belangrik wat ons sal help om die wetenskap te verstaan.

Om bloot die wetenskap te probeer verstaan uit die natuurkragte, is nie heeltemal logies nie. Sien, daar het iets gebeur in die verre verlede wat die wetenskap gladnie kan verklaar nie. Fisika leer ons dat daar materie nodig is in die een of ander vorm om iets anders te kan skep daaruit. Jy kan nie iets uit niks laat ontstaan nie. Genesis leer ons egter iets totaal anders: God het die heelal geskep uit niks. NIKS!

Presies hoe Hy geskep het, maak nie saak nie. Presies wanneer dit was, maak ook nie saak nie. Of dit sesduisend jaar gelede was of vyftien biljoen jaar gelede, wat maak dit saak? Die belangrikste feit is dat God alles uit absoluut niks geskep het.

Ons kan dus sê, eendag lank, lank gelede was daar niks, buiten God. Daar was absoluut geen materie of sterre of lig nie, niks. En toe gebeur dit! Die almagtige, ewige God wat van altyd af bestaan het, skep. Die eerste deel van Sy perfekte skepping is die hemel. Daarmee saam kom mettertyd ook die aarde. In een enkele sinnetjie kom die skrywer van Genesis en vat die ganse skepping van die heelal saam as een enkele gebeurtenis.

Die vraag is of dit ‘n enkele gebeurtenis was wat slegs sekondes of dalk ‘n dag geduur het? Waarskynlik nie. Dit kon selfs 15 biljoen jaar geduur het, soos wat die wetenskap beweer. Hiermee wil ek dus sê dat Genesis 1:1 nie ‘n beskrywing is van wat daar gebeur het in die jaar nul nie, maar eerder ‘n verklaring wat uitgereik word oor God, die Skepperwese. Hieruit moet ons Sy grootheid, Sy almag en Majesteit sien. Dit moet maak dat ons ons hande saamslaan in verwondering, elke keer wanneer ons die ontelbare sterre in die hemel aanskou. Of wanneer ons die perfek-geskape blommetjie of insek of mens sien. Niks, maar absoluut niks so kompleks kon bloot uit toeval van omstandighede plaasvind nie. Elke dingetjie is deeglik beplan deur ‘n Wese wat baie, baie groter is as ons menslike verstand.

Verder moet dit ons ook diep laat buig voor hierdie almagtige Skeppergod, want Hy is die Een wat heers oor alles en almal.

Die tweede vers kom nader aan ons eie tuiste, die aarde. “Die aarde was heeltemal onbewoonbaar. Dit was donker op die diep waters.” Die 1953 vertaling lees: “En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed.”

Daar was met ander woorde gladnie lewe op die aarde nie. Alles was onder water en daar was selfs nie eers land iewers in sig nie. Die aarde was ‘n dooie wildernis, iets baie onheilspellend.

So ‘n situasie laat ons magteloos voel. Die totale verlatenheid gryp jou aan die keel en verwurg jou. En dan was daar boonop die verstikkende duisternis wat al die niks omhul het.

Het jy nie dalk al so ‘n totale magteloosheid beleef nie? Waar jy op ‘n plek in jou lewe gekom het waar dit voel asof jy in die middel van ‘n onherbergsame woestyn van niks staan. Waar die verstikkende duisternis jou wil verswelg. Het dit al vir jou gevoel asof selfs God nie meer daar is nie? Asof jy totaal verlate is, selfs deur jou enigste hoop, God?

Daar is egter hoop! God was wél daar! Sy Gees het oor die waters gesweef. Juis wanneer die chaos op sy ergste is, en die duister op sy verstikkendste, is die hoop op sy grootste. Al dink jy dat jy van God verlate is, is Hy steeds teenwoordig! Nou gaan dinge begin gebeur!

Gebed:

Here, dankie dat U my steeds hoop gee, selfs in die donkerste tye in my lewe.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026