Genesis 28:11-22
Jakob is fisies en emosioneel totaal uitgeput as hy sy moeë liggaam op die harde grond neerlê, sy kop op ‘n plat klip. Genadiglik kom die slaap feitlik oombliklik.
Uit Isak en Rebekka se droom-huwelik is ‘n tweeling gebore. Esau was eerste, en kort op sy hakke Jakob, met sy handjie stewig om boetie Esau se hakskeen. “Haakskeengryper” word hy genoem. Later sou hy eerder bekendstaan as “Bedrieër” omdat hy sy broer se eersgeboortereg en seën op bedrieglike wyse gesteel het. Toe moes hy vlug vir sy lewe!
Skaars het hy sy kop op die klip neergelê, dan begin Jakob droom, ‘n klokhelder droom met elke klein detail so duidelik soos die werklikheid sélf. Hy staan voor ‘n stel trappe wat reik tot rég in die hemel! Dan merk hy die skares engele wat met die trappe op- en afklim.
Terwyl Jakob hom nog so staan en verwonder aan hierdie eienaardige leer, staan God Sélf, persoonlik aan die bopunt van die trappe. Het God uit die hemel gekom om Hom, Jakob, Hakskeengryper, bedrieër te kom veroordeel? Hy mag dalk Esau se wraak kon ontvlug, maar nou het God hom gekry om te boet vir sy sondes! Hy het sy broer besteel, vir sy pa gelieg en hom boonop op verraderlike wyse mislei. Hy het tweespalt gesaai in die gesin van God. Vandag is die dag dat God se oordeel hom verteer!
Maar dan kom die verrassende: God veroordeel nie: “Ek is die Here, die God van jou voorvader Abraham, en die God van Isak. Die grond waarop jy lê – aan jou en jou nageslag gee Ek dit. Jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde. Jy sal uitbrei na die weste, die ooste, die noorde en die suide. Deur jou en jou nageslag sal al die grootfamilies van die aarde geseënd wees. Kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou beskerm oral waar jy gaan. Ek sal jou laat terugkeer na hierdie land, want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou beloof het.” (Gen. 13:13-15)
Jakob ontdek dat God baie groter is as wat ons menslike verstand kan begryp. Hy ontdek dat God nie net kyk waar Hy mense kan straf en veroordeel nie. Ons wil God visualiseer in terme van ons eie menslike waardes, maar God kan nóóit gemeet word in menslike terme nie. Hy is só anders as ons en Hy dink so verrassend anders. Hy ken ons deur en deur. Ja, God het presies geweet van Jakob se stryd en natúúrlik dat Jakob alreeds besig was om die duur prys te betaal vir sy wandade. Daarom kom deel Hy nie verdere slae uit nie. Inteendeel, Hy kom bemoedig Jakob wanneer hy dit die nodigste het. Is dít nie genade nie?
Skielik skrik Jakob wakker. Dis pikdonker. Hy spring regop. Die trappe na die hemel is weg, óók die duisende engele. En God? Hy tas in die donker rond, maar daar is niks! Net die oorverdowende stilte! Jakob se hart klop in sy keel. Hy bewe van angs. “Ek het God ontmoet! Ek het nooit besef dat God ook híér is nie. Ek het gedink dat Hy net daar by Pa Isak is!”
Dan kom Jakob tot die slotsom: “Dit is niks anders as die huis van God nie. Dit is die poort na die hemel!” (Gen. 13:17).
As die son se eerste strale die lug rooi verkleur, bou Jakob ‘n monument vir die Here. Vol ontsag neem hy die klip wat die nag onder sy kop was, en sit hom regop neer. Sy bietjie kosbare olie word gebruik om die klip te salf. Plegtig noem hy die plek “Bet-El” - huis van God. Hierdie klippilaar sal ‘n getuie wees van sy héél eerste ontmoeting met God. Dan val Jakob neer in gebed voor God: “As U met my sal wees en my sal beskerm op hierdie pad waarop ek nou gaan, en vir my kos gee om te eet en klere om aan te trek, en ek ongedeerd terugkeer na my familie, dan sal die Here my God wees, en sal hierdie klip wat ek as gedenksteen opgerig het, 'n huis van God wees; en ek sal van alles wat U vir my gee, getrou tiendes aan U afstaan.”
Na ‘n ontmoeting met God is géén mens ooit weer dieselfde nie. Jakob, die vlugteling het Jakob die pelgrim geword, ‘n man met ‘n missie. Die man wat eers onverskillig teenoor God en sy medemens geleef het, maak nou ‘n gelofte aan God!
Die lewe kry skielik nuwe betekenis wanneer jy die Here ontmoet. Alles verander, en jy begin met splinternuwe oë na dinge kyk. Jy ontdek dat God nie maar vasgevang is in ‘n kerkgebou nie, maar dat Hy oral is waar jy is. Jakob het ontdek dat God “Immanuel” is, God-Met-Ons. Op sy lang reis na Haran sou God tree-vir-tree saam met hom stap. Tweeduisend jaar later word dit nóg duideliker wanneer Jesus gebore word, en vir ‘n kort rukkie kon mense hierdie Immanuel-konsep fisies ervaar. Vandag weet ons dat Jesus stééds Immanuel is, en al kan ons dit nie verstaan nie, kan ons tóg weet en dit ervaar dat Hy elke tree van die lewenspad saam met ons stap. In Matt 1:23 word dit duidelik uitgespel, en regdeur die Nuwe Testament lees ons dit, tot in Openbaring 21:3. Nét soos Jakob dit daardie nag ervaar het, so is Jesus vandag by ons!
Gebed:
Here, soos Jakob voor U neergeval het in aanbidding, wil ek ook vandag voor U neerval. Maar nie in vrees en bewing nie, maar in dankbaarheid en blydskap omdat U Immanuel is, God-Met-My!