Rut 1:1-5
Een aand kom die twee seuns baie opgewonde by Naomi aan. “Ma, ek het groot nuus! Ek het die meisie van my drome ontmoet! Haar naam is Orpa, en ek wil haar as my vrou vat, Ma!”
Naomi weet nie of sy moet huil of bly wees saam met haar seun nie. Dis dan ‘n heidense meisie! Naomi is verslae. Hoe kan Maglon dit aan haar doen? Sy het hom dan so mooi probeer leer. Is daar nie genoeg meisies in Juda nie? En wat van haar geloof? Hierdie meisies aanbid mos ander gode! Dwarsdeur die nag huil Naomi. Heelnag lank worstel sy met God, sonder om ‘n antwoord te kry.
Die volgende dag probeer sy sin in haar seun se kop inpraat, maar sy kom baie gou agter dat haar pleidooie op dowe ore val. Al wat dit doen, is om haar van haar seun te vervreem, en dit kan sy beslis nie bekostig nie. Sy sal dit net eenvoudig moet probeer aanvaar en daarmee saamleef.
‘n Paar dae later bring Maglon vir Orpa by die huis aan. Sommer dadelik sien Naomi waarom haar seun so beenaf is op hierdie meisiekind. Die twee vrouens vind mekaar baie gou, en daar kom ‘n hegte vriendskapsband tussen hulle. Nie lank daarna nie, kom die heuglike dag toe Maglon en Orpa afhaak en trou. Orpa mag dalk ‘n heidense meisie wees, maar sy kruip baie gou diep in Naomi se hart in.
Dit was ook nie ‘n ewigheid nie, of ook Kiljon kom die middag stralend by die huis aan. En sommer dadelik weet Naomi dat haar tweede seun sy droomvrou ontmoet het. Hy het die skoot sommer baie hoog deur gehad. Hierdie keer is dit makliker vir Naomi, want sy het toe al geleer dat mense wat anders is as sy, nie noodwendig slegte nuus is nie. Die meisie se naam is Rut, verneem sy van ‘n blosende Kiljon. En natúúrlik is sy beeldskoon, die héél mooiste meisie in die ganse Moab!
Hierdie slag is Naomi opgewonde om die nuwe liefde in haar seun se lewe te ontmoet, en sy word beslis nie teleurgestel nie. Rut het ‘n warm, innemende persoonlikheid, en van die eerste oomblik af is die twee sommer hegte vriendinne.
Vandag kan ek en jy uit hierdie verhaal leer dat ons mekaar maar kan aanvaar ten spyte van groot verskille. Om die waarheid te sê, het Jesus ons geleer dat ons op niemand durf neerkyk nie! Hy het die ondenklike gedoen deur met ‘n Samaritaanse vrou ‘n geselsie aan te knoop. Hy het selfs partytjie gehou saam met die gehate tollenaars en hulle ongure vriende. Is ek dan beter as Hy?
Ek het grootgeword in die “Ou Suid-Afrika” waar ek en my maats geleer is dat ons nie met mense wat anders is as ons mag meng nie. En dit het baie verder gegaan as net dat ek as blanke Afrikaner moet neerkyk op die Swartmense. Ook ander volke was taboe. Portugese was vreemdelinge met wie jy skaars gepraat het. Nie eers gepraat van Sjinese nie, en nog erger, Indiërs! En Engelse! Hulle was die groot vyand! As kind het ek my egter nie veel daaraan gesteur nie, en ek het ‘n Poolse maatjie gehad. In die middae na skool het ek en my Swazi maatjies heerlik saam kaal geswem in die plaasdam, as die grootmense ons nie kon sien nie. Ons het saam gespeel, gekuier, sprinkane gebraai, mispels en stamvrugte gepluk en ons was groot maats.
Ongelukkig het druk van die jare se politiek en selfs die kerk alles later verander.
Kiljon laat ook nie gras onder sy voete groei nie, en kort voor lank staan die tweetjies voor die kansel en beloof ewige trou aan mekaar. Nou ja, daardie jare het dit dalk nie hééltemal só gewerk nie, maar by wyse van spreke!
Ten spyte daarvan dat die twee vrouens heidene was, was dit ‘n gelukkige gesin bymekaar, en het die lewe weer vir Naomi begin sin maak.
Maar hierdie “geluk” kon nie vir ewig duur nie. En weldra kom Naomi agter dat daar iets verkeerd is met haar oudste seun. ‘n Swaar beklemming gryp haar aan die hart, want Maglon lyk “af”. Nes sy pa destyds, lyk hy nie lekker nie. Waarom het sy hom tog daardie tyd met sy geboorte hierdie verskriklike naam gegee? Hy was van dag een af knieserig en hy het onophoudelik gehuil, toe noem sy hom “die sieklike”. Het sy ‘n verdoemenis op hom geplaas?
Tien jaar nadat sy hulle geliefde Israel verlaat het, tref die tweede groot ramp vir Naomi. Haar geliefde seun Maglon, die sieklike doen sy naam gestand. Hy sterf na ‘n uitmergelende siekbed. Hierdie vreemde land het tot dusver vir Naomi net droefheid beteken. Hartverskeurend huil Naomi en Orpa op mekaar se skouers oor hierdie verkriklike verlies. Maglon en Orpa het nog nie eers begin met ‘n gesin nie. Skaars het hulle huweliksbootjie begin vaar, of dit word gekelder deur ‘n verskriklike storm.
Maar die situasie sou nog véél erger raak! Maandag lees ons DV verder……….
Gebed:
Here, ek bely dat ek in my lewe so neergesien het op ander wat “minderwaardig” is. Ek probeer vandag so hard, maar soms is ek steeds hoogmoedig. Vergewe my asseblief daarvoor, en gee my nederigheid in my hart.